Deurlopende evaluasie en bonusse of verhogings

geld voorbeeld
deur Christo Bester
’n Algemene wanpersepsie in die werksplek is dat werknemers geregtig is op jaarlikse bonusse en verhogings. ’n Werknemer kan slegs aanspraak maak op ’n bonus wanneer dit so voorgeskryf word deur ’n Sektorale Vasstelling of Bedingingsraad-ooreenkoms van toepassing op die spesifieke sektor. Sektorale Vasstelling 13 reguleer arbeidsverhoudinge in die Landbousektor en skryf geen verpligte bonus voor nie. Bonusse berus dus uitsluitlik op die werkgewer se oordeel.
Om hierdie oordeel billik uit te oefen, is dit uiters belangrik dat die werkgewer skriftelik bevestig dat bonusse uitsluitlik volgens die werkgewer se diskresie toegeken word, om nie ’n verwagting by die werknemer te skep dat bonusse deel vorm van sy/haar diensvoorwaardes nie. Dit is ook noodsaaklik dat die werkgewer die werknemer se werksprestasie deurlopend evalueer, wat gebruik kan word as motivering tydens die toekenning van bonusse en ander vergoedingsaanpassings, al dan nie.
Alle werknemers het die verpligting om pligte en take soos ooreengekom uit te voer, wat aan die werkgewer se vasgestelde standaarde in terme van gehalte en hoeveelheid voldoen. Dit is die werkgewer se reg om beheer in die werksplek uit te oefen met betrekking tot swak werksprestasie.
Bonusse
Bonusse kan handig te pas kom om werknemers te beloon vir puik prestasie, of te motiveer en aan te spoor om deurlopend te verbeter. Dit is belangrik om die terme en voorwaardes van bonusse duidelik aan werknemers oor te dra om moontlike toekomstige dispute en ongelukkigheid te vermy. Daar is verskillende tipes bonusse waarvoor ’n werknemer in die werksplek kan kwalifiseer:
’n Dertiende tjek
Hierdie tipe bonus is gewoonlike ’n diensvoorwaarde en die werknemer het die verwagting om elke jaar ’n dertiende tjek te ontvang as deel van sy/haar vergoeding. Indien die werkgewer die praktyk van ’n dertiende tjek wil wysig of staak, moet die werkgewer met die werknemer konsulteer en daarop ooreenkom. Die werkgewer kan nie diensvoorwaardes eensydig verander nie. ’n Geldige rede om ’n dertiende tjek te stop sal wees indien die werkgewer se finansies dit nie toelaat nie en die wegdoening van ’n dertiende tjek ’n moontlike alternatief is tot personeelvermindering.
Prestasiebonus
Die prestasiebonus word toegeken volgens die werkgewer se diskresie na aanleiding van ’n werknemer se werksprestasie gedurende ’n sekere tydperk. Hierdie bonus kan maandeliks of jaarliks betaalbaar wees en kan verbeur word indien die betrokke werknemer se werksprestasie nie op standaard is nie. Werkgewers moet werknemers deurlopend evalueer sodat enige swak werksprestasie dadelik hanteer kan word.
Produksiebonus
Die produksiebonus word toegeken volgens die werkgewer se diskresie na aanleiding van ’n afdeling of groep se produksie teenoor produksiedoelwitte soos vasgestel deur bestuur. Dit is belangrik dat die werkgewer duidelike doelwitte stel en aan werknemers verduidelik.
Wanneer ’n werknemer aanspraak maak op ’n bonus, rus die onus op die werkgewer om die teendeel te bewys. Daarom is dit krities belangrik dat werknemers se werksprestasie deurlopend geëvalueer word en dat die werkgewer hiervan rekord hou.
Verhogings
Sektorale Vasstelling 13 skryf ’n minimumloon voor van toepassing op die Landbousektor. Die huidige loon vir plaaswerkers is R16,25 (uurliks), R146,28 (daagliks, 9 uur per dag), R731,41 (weekliks, 45 uur per week) en R3 169,19 (maandeliks, 195 uur per maand). ’n Plaaswerker kan nie aanspraak maak op ’n verhoging indien die werknemer meer as die minimumloon verdien nie. Enige verhoging buiten om te voldoen aan die vasgestelde minimumloon, berus op die uitsluitlike diskresie van die werkgewer.
Tree proaktief op
Dit is belangrik dat werkgewers pro-aktief optree ten einde die werkgewer-werknemerverhouding te versterk. Duidelike reëls en riglyne in die werksplek beperk misverstande en konflik, wat produktiwiteit, asook ’n positiewe werksomgewing, bevorder. Ons beveel die volgende punte aan:
- Verseker dat alle werknemers geskrewe dienskontrakte het wat aan toepaslike arbeidswetgewing voldoen en dat hulle die inhoud daarvan verstaan.
- Gebruik arbeidswetgewing tot u voordeel in die opstel van dienskontrakte deur proaktiewe klousules in te sluit wat bevestig dat bonusse uitsluitlik volgens die werkgewer se diskresie toegeken word en dus nie ’n verwagting skep nie.
- Gereelde evaluering van werknemers se werksprestasie. Dit is belangrik dat die werkgewer rekord hou van hierdie evaluering as bewys dat die werkgewer billik opgetree het deur ’n bonus en/of verhoging toe te ken al dan nie.
- Gereelde konsultasie met werkne-mers om enige probleme en/of veranderinge in die werksplek te bespreek.
Vele risiko’s moet daagliks deur boere bestuur word. Die beste wyse waarop ’n boer arbeid as risiko kan hanteer, is om proaktief op te tree en te verseker dat die dienskontrakte, dissiplinêre kode, prosedures en beleide in plek is en hierdie dokumentasie aan toepaslike wetgewing voldoen.
