Dekalb bring die plaas na NAMPO…… en stuur ’n nuttige geskenk plaas toe

DSC_0444
Elkeen wat op die plaas grootgeword het ken die nuttige ou kôkôk – die kan of groot emmer met die hingsel waarmee enigiets van water tot varkkos en tamatiesaailinge aangedra is. Monsanto se mense weet steeds hoe die boer se hart klop en watter nuttige plaasgeskenk ’n stewige kôkôk kan wees. Daarom het hulle ’n stewige blou Dekalb-kôkôk aan elkeen gegee wat die Monsanto-uitstalling besoek het.
Oral by NAMPO het tevrede boere met hulle blou Dekalb-emmers rondgestap. Die wat nog leëhande was het hulle na Monsanto se standplaas gehaas om daar tou te staan vir hulle Dekalb-emmers. Monsanto het elke dag duisend emmers weggegee by NAMPO, asook Monsanto bufferplakkers en blou stokkielekkers.
Sommer net daar by NAMPO is die Dekalb-emmers reeds nuttig ingespan. Boere kon alles wat hulle gekoop en gekry het daarin saamdra, en as ’n man se bene moeg word, is die emmer ’n perfekte sitplekkie om ’n bietjie te rus.
“Ons het vooraf verskillende mense op die emmer laat sit om te toets of hy sal hou,” sê Pieter Smit, bemarkingsbestuurder van Monsanto.
“Ons het gedink hoe kan ons iets anders by NAMPO doen hierdie jaar, want NAMPO bly NAMPO. Toe besluit ons om blou Dekalb-emmers weg te gee,” sê Pieter.
“Op die Oesdag gaan dit ook oor die produkte wat maatskappye vertoon – wat jy vir die boer wil sê en wys en hoe jy kan bemark. Ons verkoop byvoorbeeld nie iets aanskoulik soos ’n trekkermaatskappy nie, so ons moes seker maak ons kry ’n bemarkingsvoordeel. Ons het wel ons proewe vir ons kliënte gaan wys.”
Sedert verlede jaar is proefaanplantings deur die verskillende saadmaatskappye op die terrein te sien, sodat boere behoorlik kan vergelyk en lekker gesels oor al die saadtegnologie.
Pieter is van mening dat die boere vanjaar meer positief was, seker oor hulle mooi oeste, daarom wou boere graag geselsies aanknoop en raad vra oor sake soos kultivarkeuses, plantdigtheid en siekteverdraagsaamheid.
“Ons het ook baie boere van die buiteland af gekry soos Botswana, die Kongo en Lesotho.”
Vir meer inligting oor Monsanto se saad en diens, kontak Yolandi Stolz by yolandi.stoltz@monsanto.com of 011-790-8200.
Hooffoto: Die Monsanto-span wat boere by NAMPO met raad en mooi blou Dekalb-emmers bedien het. Voor: Paul Groenewald, Rodney Ndau, Johan Bibbey. Agter: Charles Krugel, Tony Johnson, Pieter Smit, Yolandi Stoltz en Kobus Steenekamp.