Daars n Ranger vir werk en speel
deur Dirk Gallowitz
Met die nuwe Ford Ranger op ons drumpel, het ek vir oulaas twee modelle van die baie gewilde bakkie onder hande geneem.

Die Ford Ranger XL-Plus is in die derde kwartaal van verlede jaar plaaslik bekendgestel met Ford SA wat die bakkie as ‘n intreevlak-werkesel met wêreldklas veiligheidseienskappe aan veral die mynbedryf voorgehou het. Die bakkie is juis behoorlik onder die strafste moontlike omstandighede getoets om aan onder meer die mynbedryf se streng gehaltevereistes (5-ster ENCAP- en ANCAP-graderings) te voldoen, maar is ook geskik vir die landboubedryf en ander tipe bedrywe waar ‘n bakkie behoorlik moet werk.
Die eerste van die twee Ranger-toetsbakkies was die XL-Plus 2,2 turbodiesel dubbelkajuit met ‘n 6-spoed handratkas. Die XL-Plus kom met heelwat aanpassings om die bakkie in sy swaardiens aanwendings te laat slaag en is onder meer toegerus met ‘n versterkte onderstelraam om die sleepvermoë van tot 3500 kg te kan hanteer. Daar is ook ‘n swaardiens voorbuffer, aluminium kanttrappe en ‘n fris sleepstang agter.
Binnekant is daar spesiale, hoë-gehalte, 4×4-seilsitplekoortreksels om die sitplekke teen verweer te beskerm en die vloermatte het plek gemaak vir ’n harde plastiekbedekking. Verder bied die XL-Plus voor-, kant- en gordynlugsakke asook ‘n knielugsak vir die bestuurder.

Die Ranger XL-Plus kry ook ‘n “Crew Chief”- monteerraam gekoppel aan ‘n uitgebreide bedradingsharnas om voorsiening te maak vir bykomende skakelaars en koppelpunte. ’n Bykomende swaardiensbattery is vir die doel spesiaal agter op die bak gemonteer.
Aandrywing is met Ford se Duratorq 2.2-litre TDCi-enjin wat via ‘n 6-spoed ratkas na al vier die wiele trek.‘n Elektroniese agterste ewenaarslot is standaard (’n norm?) aan die XL-Plus. Die viersilinder turbodiesel lewer 110 kW teen 3 700 opm en 375 Nm piekwringkrag teen tussen 1 500 en 2 500 opm.
Die XL-Plus het aanvanklik groot, swaar en lomp gevoel, veral in stedelike verkeer. Hoe meer ek egter die bakkie op die grond- en plaaspaaie laat werk het, hoe meer het ek die XL-Plus geniet. Dit is my keuse vir ‘n werkbakkie.
Die XL-Plus-dubbelkajuit handrat soos getoets verkoop vir R391 900 insluitend BTW en omgewingsbelasting.
Ons tweede Ford Ranger toetsbakkie was die Wildtrac-dubbelkajuit 3,2 Tdci 4×4 Outomaties en dit is Ford SA se vlagskipbakkie teen R551 900 met BTW en Groen taks ingesluit.
![]()
Hierdie artikel is deur Dirk Gallowitz van Ultimage Drive geskryf. Besoek gerus hulle webwerf by www.ultimatedrive.co.za vir nog puik artikels.