Cradock Saad se Mielieboer van die jaar 2016 – Noordelike streek
Cradock Saad hou jaarliks ‘n mieliekompetisie tussen die boere in hulle streek om te kyk wie se opbrengs is die hoogste. In die noordstreek het Erich Cloete van die plaas Sanctuary, vir die derde keer gewen met ‘n opbrengs van 23,92 ton per hektaar. Erich boer met mielies, lusern, pekaneute en kleinvee soos dormers. Erich se plantestand was 95 000 en hy het die varitëit DKC 6478 BR GEN geplant.
Die naaswenner na Erich was Isak van der Merwe met 21,76 ton per hektaar.
Erich het 10 jaar gelede in samewerking met Cradock Saad proewe geplant. Toe het hy gemiddeld 16 en 17 ton gelewer. Met die eerste kompetisie in 2014, het Erich 18,87 ton mielies per hektaar opbrengs gehad en het hy ‘n tweede plek verwerf.
Erich het in 1980 saam met sy pa begin boer en glo aan 100% plantestand, 100% ontkieming en goeie waterbestuur en geen onkruid. Aangesien hy geen onkruid duld nie gebruik hy die Roundup Ready-varitëite . Die optimale plantdatum is 1 Oktober tot einde November. Die 2015-mielieseisoen was moeilik as gevolg van die droogte.
Erich is nie lief vir kompetisies nie, maar dit maak hom bewus van ander mense se boerderymetodes en hulle sukses. Hy sê: “Twee jaar gelede het niemand die 20 ton-merk gehaal nie en vandag is al die wenners bokant 20 ton.”
Erich plant met ‘n mengsel van 450 kg fosfaat en kalium. 200 kg stikstof word na opkoms vir elke 14 dae toegedien tot by die totaal van 800 kg stikstof per hektaar.
Bron: Cradock Saad