Christi van den Heever aangewys as Wes-Kaapse Jongboer 2023
Deur Tisha Steyn
Christi Van den Heever (38) is Woensdagaand 14 Junie tydens ‘n glansgeleentheid in die Paarl as die Agri Wes-Kaap Santam se Jongboer van die Jaar aangewys.
Christi boer die afgelope 15 jaar vir Graaff Fruit, waarvan die afgelope vyf jaar as landgoedbestuurder op die plaas Rietfontein in die Koue Bokkeveld, Hy het voorheen op Robert Graaff, seun van Sir David Graaff, op die plaas Romansrivier naby Wolseley geboer. Daar het hy homself bewys toe hy 12 ha vrugtebome in tien jaar tot 150 ha uitgebou het. Robert het hom toe die geleentheid gegee om sy staal op Rietfontein te wys.
Op Rietfontein boer hy met 220 ha vrugtebome, waarvan 60% appels is, 29% pere, en die res kersies, nektariens en wingerd. Hy plant ook lusern onder spilpuntbesproeing en het ‘n Anguskudde van 200.
Hy het op Springbok in Namakwaland grootgeword. Sy pa het op die myne gewerk, maar vakansies het hy by sy oupa op die plaas in Boesmanland gaan kuier. Hy vertel dat hy voersakke kraalmis saamgeneem het waarmee hy sy groentetuine by die huis bemes het.
Hy het aan Augsburg Landbou Gimnasium op Clanwilliam skoolgegaan, waar hy in 2004 matrikuleer het. Hy was in die koshuis, waar hy uiteindelik koshuishoofseun was. Van gr 10 af het hy al die Hortologie-pryse verower, vertel hy. Daarna het hy landboubestuur op Wellington gaan studeer en vakansies op die plase in die Koue Bokkeveld gewerk.
Volgens Christi is die vernaamste veranderinge wat hy in die boerdery gedurende die afgelope vyf jaar teweeggebring het om produksie praktyke te verbeter, infrastruktuur te ontwikkel en die winsgewendheid van die maatskappy te verhoog.
Hy is ‘n man met ‘n plan wat ‘n probleem as ‘n uitdaging beskou en hy skryf sy sukses aan harde werk, goeie beplanning en aanpasbaarheid toe.
Een van die groot veranderings wat hy op Rietfontein aangebring het, was ‘n beeshoringstruktuur van vierkantyster waarmee hy nette oor sy appelboorde span. Hy het die struktuur na die voorbeeld en met die goedkeuring van die maatskappy Haygrove, wat dit vir tonnelboere ontwerp het, gebou.
Die skag van die geboe beeshoringstruktuur word aan die stutpale vasgemaak. Met behulp van drie drade bo-oor ‘n ry bome word die nette gladweg oorgetrek. Tussen die rye word die nette met knippe vasgemaak. Die nette beskerm die appels teen sonbrand en hy kan tussen 80 en 85% van dié perfekte appels verpak. Na die seisoen word die nette opgerol en aan die stutte vasgemaak. Die struktuur is sterk genoeg om wind van tot 60km/h te weerstaan.
Hy het ‘n platdak-netstelsel vir sy nuwe nektarienboorde ontwerp. Omdat nektariens selfbestuiwend is, bly die nette voltyds in plek. Om te keer dat sneeuval die stelsel laat intuimel het hy ‘n oorhoofse besproeiingstelsel aangebring waarmee die ryp in blomtyd en sneeu in die winter bloot afgewas word.
Hy laat ook nie toe dat beurtkrag hom onderkry nie. Eerder as om hom na duur opsies te wend, maak sy bestuurspan beurte om snags wanneer die krag aangaan die pompe te gaan aanskakel om te besproei. Die damme word ook volgehou.
Hy het toestemming om ‘n groot dam te bou en het die pompstelsel vergroot en is besig om sonpanele op te rig om dag en nag te kan pomp. As die krag af is maak hy gebruik van vrydruk om die boorde te besproei en hy het net een kragopwekker om die water na die hoerliggende boorde te pomp.
Sy langtermynvisie is om volhoubaar te boer en voortdurend te verbeter deur op hoogte van wêreldtendense te bly. Hy strewe ook daarna om mededingend en winsgewend te wees.
“ʼn Goeie boer is iemand wat ʼn verhouding met ons Hemelse Vader het, goeie toekomsvisie het en wat op menseverhoudings fokus. ʼn Boer moet sy mense deel maak van sy sukses,” glo hy.
Kontakbesonderhede
Kontak Christi van den Heever by 082-687-2251 vir meer inligting.
Bronverwysing
Botha, L. (2023) Pak bul by die horings met die slim netstelsel. Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/boereplanne/pak-bul-by-die-horings-met-die-slim-netstelsel-20230405