Chev stileer hardebaard Trailblazer nog beter
Sedert sy bekendstelling ‘n jaar of wat gelede was ek ‘n groot aanhanger van Chev se teenvoeter vir Toyota se Fortuner.
Die Trailblazer was ‘n netjiese ruim 7-sitplekker, het heerlik op die ooppad geloop en die viertrek-modelle was behoorlik hardebaard in die veld. Geen wonder dus dat sedertdien het die ‘Blazer ‘n hele klompie aanhangers gelok in ‘n segment met seker die felste kompetisie in Suid Afrika.
Nou het die Generaal se manne besluit om ‘n aantal kosmetiese verbeteringe en opgraderings aan die Trailblazer te maak.
Ons toetsmodel is die viertrek 2,8 L dieselturbo met outomatiese ratkas en afgewerk in die luukse LTZ spesifikasievlak .

Aan die buitekant is nie veel verander nie, maar kleurgepaste buffers en handvatsels is nou standaard op al die modelle. So-ook kanttrappe vir gemakliker inklim en mooi allooiwiele. Die agterligte kry nou ook LED tegnologie asook chroom invoegsels. Na twee jaar lyk die ‘Blazer na dese heel vars en modern.
Binnekant is die grootste verbetering die donkerder afwerking wat die onpraktiese ligte roomkleur in die eerste model vervang. Ons toetsmodel se donkergrys leerbekleedsel het deftig gelyk en die groot sitplekke was baie gemaklik. Die opgekikkerde model kom nou met ‘n kleur raakskerm in die middel van die voorpaneel waarop die inligting vir die klankstelsel en telefoon asook die beelde van die satellietnavigasie en tru-kamera vertoon word. Daar is ook heerlike praktiese geriefies soos 11 bekerhouers en vier 12V sokke vir as jy ‘n yskas wil saamry om die lafenisse koud te hou.
Ons toetsmodel se 2.8L Duramax dieselturbo lewer nou 144kW (9% verbetering) en 500Nm (30Nm meer) se wringkrag met verbeterde brandstofverbruik (8,5l/100km).