Brandstofpryse dalk bietjie laer in Maart

petrolprys
Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-Ekonoom
Brandstofpryse sal nie in Maart 2017 baie verander nie. Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie wat vandag bekend gemaak is, sal die prys van 93-oktaan petrol (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 1 Maart 2017 met ongeveer 7c per liter en die prys van diesel met ‘n 0,005% swaelinhoud met ongeveer 2c per liter daal.
Hoewel die hoër internasionale petroleumprodukpryse stygings van 6c per liter in die petrolprys en 11c per liter in die dieselprys veroorsaak het, het die versterking van die R/$-wisselkoers ‘n daling van ongeveer 13c per liter vir beide petrol en diesel tot gevolg gehad wat veroorsaak het dat die pryse van brandstof volgende maand met ‘n paar sent per liter sal daal.
Die verhogings van die brandstofheffing met 30c per liter en die heffing vir die Padongeluksfonds met 9c per liter wat hierdie week deur die minister van Finansies in sy begrotingstoespraak aangekondig is, sal eers saam met die normale aanpassings van die brandstofpryse op Woensdag, 5 April 2017 in werking tree.
Die finale brandstofprysveranderings sal teen die einde van die maand deur die minister van Energie aangekondig word.