Brandsiek rooijakkalse kom wyd voor

Brandsiek jakkals –
“My onlangse versoek aan veeboere en jagters om inligting oor rooijakkalse met moontlike brandsiekte aan te meld, het ‘n wye reaksie uitgelok,” sê dr Gerhard Verdoorn, onafhanklike adviseur.
Brandsiekte wat deur sarkoptiese myte veroorsaak word, is ‘n ernstige toestand veral as dit onder wolskape uitbreek. “In die ou dae was dit so ernstig dat die staat spesiale inspekteurs ontplooi het om plase te besoek en dipprogramme at te dwing.”
Hy sê: “Die Karoo is “mak” gedip met die ou arseendipstowwe en mens kan met angs dink aan wat alles in die proses ingeboet is.” Dr Gerhard voeg by dat daar later van tyd minder gevaarlike dipstowwe gebruik is en deesdae is daar verskeie dipstowwe wat die myte doeltreffend beheer, en met relatief min risiko vir die natuurlike omgewing.
Wat verstommend was, was dat daar verslae uit alle oorde in Suid-Afrika was oor brandsiekte onder jakkalse. In die verre noorde is daar jakkalse aangeteken waarvan die sterte sonder hare was en die agterlywe ook min hare gehad het. Uit die Karoo berig boere en jagters dat daar dikwels jakkalse met ernstige brandsiekte waargeneem of geskiet word. In die Kalahari is daar ook brandsiekjakkalse aangeteken en dit is interessant omdat mens die persepsie het dat die Kalahari sulke peste vryspring.
Daar is ‘n moontlike verklaring vir brandsiekte onder jakkalse naamlik dat wanneer ‘n spesie se bevolking uitermatig aanteel die spesie onder spanning kom en natuurlike elemente soos siektes die spesie se bevolking kan uitdun.
Kan die rooijakkels uitgewis word? Volgens dr Gerhard kan dit wel gebeur. “Ek jag op ‘n reservaat naby Mapungubwe met ‘n baie gesonde ekologie waarvan die rooijakkals deel is. In die jaar 2005 het die reservaat so vervuil van rooijakkalse geraak dat die eienaars my versoek het om hulle uit te dun. Ek het hulle oorreed om op die tande te byt en die winter van 2006 het die brandsiekte toegeslaan en die bevolking ‘n ernstige knou gegee. Ek was verstom om feitlik geen jakkalse sonder brandsiekte te sien nie. Daar was weliswaar ook enkele rooibokke met effense haarverlies maar geeneen het gevrek nie terwyl die jakkalse soos nuwe swart kleurvarianet gelyk het.”
Hy sê ‘n mens wonder of die siektes soos brandsiekte nie dalk op ‘n stadium in die veeboerderygebiede die rooijakkalse ‘n knou gaan gee nie. Dr Gerhard sê dat dit ekologies sin maak, maar of dit werklik sal gebeur is ‘n ope vraag.
Louis Meaker se foto van ‘n brandsiekjakkals in die Addo-omgewing het gely tot die versoek dat veeboere moet uitkyk daarvoor en ander in kennis stel.
Deur: Dr Gerhard Verdoorn, onafhanklike adviseur – 082-446-8946, nesher@tiscali.co.za