Categories: NuusPublished On: 11th December 2019

Bonnievale wingerde skitter in nuwe wyne in beperkte hoeveelhede

By 3 min read
612 words
bonnievale

bonnievale

Bonnievale Wyne het twee nuwe, enkel-kultivar wyne, wat noukeurig uit top wingerd-blokke gekies is, bekendgestel. Beide wyne weerspieël die invloed van eeuoue grond, klimaat en die Bonnievale-wyk se weer en is slegs in beperkte hoeveelhede beskikbaar.

Die wyne is ‘n Cabernet Sauvignon van die 2017-oesjaar en ’n Chardonnay van 2019 – beide bestem vir  die uitgelese connoisseur se wynrak.

“Ons is baie opgewonde oor hierdie twee wyne. Ons droom al lank hieroor,” sê Marthinus Rademeyer, Bonnievale Wyne se hoofwynmaker en produksiebestuurder. “Bonnievale Wyne het nog altyd met trots die uitgebreide terroir-diversiteit tot ons beskikking verkondig. Dit bied aan ons die geleentheid om net die beste van die beste vir ons handelsmerke uit te soek. Met hierdie twee nuwe wyne, word dieselfde beginsels gevolg, maar met die beperkte volumes was dit moontlik om met net die mees uitsonderlike wingerde te werk om iets baie spesiaal te skep.”

Die nuwe wyne spog met spesiale verpakking en -etikette wat met sorg ontwerp is om die gehalte van die inhoud te weerspieël.

Proenotas

Die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2017 vertoon ’n pragtige, skoon rooivrug, veral framboos, met vinkel-ondertone op die neus. Die sappige rooivrug dra deur na die smaak en word ondersteun deur fyn, ryp tanniene, wat stuktuur en diepte aan die wyn verleen.

Die Cabernet Sauvignon is vir 18 maande in hoofsaaklik nuwe Franse- en Amerikaanse eikehout verouder. Die resultaat is ’n gebalanseerde en goed-geïntegreerde wyn, wat lank ná die laaste slukkie talm.

Die Limited Release Chardonnay 2019 het sitrus op die neus, spesifiek lemmetjie en bloedlemoen, wat deurdra na die smaak. Dit is vars en het ’n kenmerkende flintagtige einde. Ook hier is die Franse eikehout waarin die wyn vir sewe maande verouder het, goed geïntegreer. Dit ondersteun die vrug, maar lewer ook ’n elegante, geronde mondgevoel.

Waarom die kultivars?

“Die wyne is eerstens ’n belangrike weerspieëling van spesifieke wingerd-blokke,” sê Marthinus. “Hulle spreek ook van die sorg wat in die wingerde toegepas is om die geure, aromas en teksture van die vrug – van die wingerd tot die bottel – te behou.”

Die kultivar-keuse van hierdie beperkte vrystelling, het op Cabernet Sauvignon en Chardonnay geval, omdat beide uitblinkers in die Bonnievale portefeulje is. Cabernet Sauvignon en Chardonnay bly ook internasionaal die mees gesogte kwaliteitskultivars. Beide kultivars word ook graag deur van Suid-Afrika se voorste wynmakers opgeraap, om in hul eie versnitte en handelsmerke te gebruik.

Hierdie belangstelling in Bonnievale Wyne se druiwe, het hernieude fokus geplaas op gehalte en om waarde te ontlok uit hierdie kwaliteit. Die Bonnievale handelsmerk en wynstyle het dus oor die afgelope twee jaar ‘n gedaanteverwisseling en herposisionering ondergaan. Die nuwe Bonnievale River Collection reeks was eerste aan die beurt en is sowat 18 maande gelede vrygestel. Sedertdien is die reeks met ’n hele gros plaaslike- en internasionale toekennings bekroon.

Bonnievale Wyne

Bonnievale Wyne se tuiste is die gelyknamige dorpie, sowat 200 km oos van Kaapstad. Bonnievale se wingerde in hierdie bekende wynstreek word – benewens ander faktore – deur twee groot riviere – die Breede en Riviersonderend – beïnvloed. Die omringende heuwels en berge dra verder by tot die skep van interessante, individuele mikro-klimate.

Waar te koop en koste

Die wyne wat hier produseer word, is landwyd beskikbaar en kan ook deur Bonnievale Wyne se aanlyn-winkel gekoop word by www.bonnievalewines.co.za. Die Limited Release Cabernet Sauvignon 2017 verkoop teen R140/bottel en die Limited Release Chardonnay 2019 teen R95/bottel.

Vir meer inligting oor Bonnievale Wyne, besoek www.bonnievalewines.co.za, bel 023-616-2795 of epos info@bonnievalewines.co.za.

Word deel van die gesprek met Bonnievale Wyne op Twitter @bonnievalewines; Instagram as bonnievalewines; en Facebook (https://www.facebook.com/bonnievalewines/).

Bron: Yolandi de Wet PR

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0