Categories: Artikels, Boer slim!Published On: 21st November 2022

Boere help red Overberg Rûens se Renosterveld

By 7 min read
1341 words

renosterveld1

Renosterveld is ryk aan biodiversiteit wat talle blomplantspesies insluit.

Boere in die Overberg Rûens lewer ՚n belangrike bydrae tot die bewaring en restourasie van die oorblywende renosterveld.

Renosterveld verwys nie na ՚n enkele plantsoort nie, maar sluit ՚n verskeidenheid plante in. Dit word as die rykste bolplantstreek op aarde beskou en sluit bolplante soos Freesia en Gladiolus in wat wêreldwyd bekend is en gekweek word.

Die Overberg Rûens het eens op ՚n tyd bestaan uit gras- en bossiesveld met ruigtes langs waterlope. Vandag is dit ՚n monokultuur-landskap met flentertjies renosterveld wat hoofsaaklik beperk is tot koppies, rotswande en rivierlope.

Die bewaring van renosterveld strek tot voordeel van die hele ekostelsel en landbou.

“Ongelukkig is hierdie biodiverse brandpunt nou gevaarlik na aan uitwissing,” sê dr Odette Curtis-Scott, wat die Overberg Renosterveld Conservation Trust tien jaar gelede begin het.

Daar is slegs sowat vyf persent renosterveld oor in die Overberg en dit is hoofsaaklik fragmente in laagliggende gebiede langs stroompies en vleilande – ‘uitvalgrond’ wat ongeskik is vir landbou uit die grondeienaar of boer se oogpunt. Die ander 95% het geswig voor die ploeg om plek te maak vir die prentjiemooi, uitgestrekte, monokultuur graan- en kanolalande waarvoor die Rûensgebied bekend is.

Daar is gedeeltes wat ongeskonde is, maar baie daarvan het weens verkeerde bestuurspraktyke in die verlede – en hede – dringende ingryping nodig om dit te restoureer.

Huidige status

Die renosterveld van vandag verskil heelwat van wat dit 300 jaar gelede was. Toe het die ryke verskeidenheid plantegroei, wat gras en struikgewasse ingesluit het, groot getalle wild onderhou, insluitend swartrenosters, elande en die uitgestorwe bloubok en kwagga.

Dr Odette Curtis-Scott, direkteur van die Overberg Renosterveld Conservation Trust, met ‘n witkruisvleivalk, een van verskeie spesies waaroor navorsing gedoen word.

Die blaar- en grasvreters het die natuurlike diversiteit en struktuur van die stelsel gehandhaaf. Toe migrerende grootwild deur vee vervang is, het die veld begin agteruitgaan. Bestuursprobleme soos oorbeweiding, te veel of te min beheerde brande, erosie en indringerplante het mettertyd hulle tol geëis.

Tog is daar hoop: hoewel die toestand van die veld agteruit gegaan het, het verskeie studies bewys dat die veld met goeie bestuur gerestoureer kan word.

Uitdaging

Die Kaapse floristiese streek is bekend as die kleinste, maar rykste planteryk ter wêreld. Dit bestaan uit bergfynbos wat voorkom op arm grond, strandveld op alkaliese grond ryk aan spoorelemente, en renosterveld op vrugbare kleigrond (skalie), soos dié van die Rûens.

Die Overberg-rûens bestaan uit vier verskillende plantegroeistreke, naamlik die Westelike Rûens, Sentrale Rûens, Oostelike Rûens-skalierenosterveld en Rûenssilkreet-renosterveld. Die plantegroei in al vier streke is op die Rooi Datalys as kritiek bedreig geklassifiseer.

“Ten spyte van die enorme verlies aan habitat, verteenwoordig hierdie oorblywende fragmente renosterveld steeds een van die rykste biodiversiteitbrandpunte op aarde, en dit het dringend bewaring nodig,” sê Odette.

Swak bestuurstelsels bedreig die waterlope en habitatoorblyfsels wat die ekologiese funksies van die Rûensgraanstreek aanmekaar hou.

Gemeganiseerde landboupraktyke en grootskaalse aanplanting van monokultuur-voedselgewasse het die natuurlike landskap wat hier bestaan het, tot nadeel van die natuurlike plantegroei in landerye omskep.

Die Trust se doelstelling is om boere in die gebied bewus te maak van die waarde van die renosterveld en hoe bewaring en landbou saam sorg vir ՚n gesonde ekostelsel én produkverbouing. Die renosterveld dien as ‘n skakel tussen die omliggende kus- en bergstreke en dit is belangrik om dit as korridors te beskerm.

Navorsing het bewys dat goeie bestuur van die oorblywende diverse plantegroei die renosterveld kan restoureer.

Die biodiversiteit is die “lewensbloed van die hele streek,” sê Odette. “Noudat die verband tussen gesonde ekostelsels en landbou begryp en die lot van die laaglande beter verstaan word, het die landbou en natuurbewaring tot ander insigte gekom.”

Die bewaringsfokus moes wyer as geïsoleerde reservate beweeg om die algehele verdwyning van hele ekostelsels te verhoed. Terselfdertyd is die verlies aan biodiversiteit, gesonde en goeie gehalte grond en funksionerende waterlope en riviere bewys as negatief vir produksielandskappe, en daarom het die landbou besef dat ՚n ommeswaai in boerderypraktyke nodig geword het.

Kopskuif

Volgens Odette begin grondeienaars besef dat ՚n dringende kopskuif nodig is om die natuurlike prosesse in die streek aan die gang te hou en die Trust se doel is om noodsaaklike verandering mee te bring deur verhoudings met grondeienaars en boere te bou en leiding en ondersteuning aan hulle te bied.

Vir die doel het sy en vier ander kundiges ՚n gidsboek saamgestel waarin die plante, diere en voëls in die oorblywende renosterveld toegelig word en hoe hulle voortbestaan verseker kan word.

“Hierdie handleiding is ons geskenk aan die boere van die Overberg Rûens.
Julle is die bewaarders van die oorblywende renosterveld en dit is ons droom om julle te inspireer om dit op te pas, en die verborge skatte daarin vir die nageslag te bewaar. Dit gaan nie net oor natuurbewaring nie, maar op die lange duur ook oor produktiewe en gesonde boerdery.”

Wetgewing

Grant Forbes is bewaringsbestuurder van die Overberg Renosterveld Conservation Trust.

“Wette is nodig om natuurlike landbouhulpbronne te beskerm en sodoende gesonde, lewende landskappe te onderhou waar daar vir nog baie geslagte geboer kan word,” sê Odette. “Gesonde ekostelsels is die grondslag vir produktiewe plase, en plase wat goed bestuur word, sluit natuurlike weiding en skuiling in.

Ekostelseldienste sluit in:

  • natuurlike dreinering deur natuurlike plantegroei in vleilande en waterlope;
  • bestuiwingsdienste deur voorsiening te maak vir ՚n verskeidenheid bestuiwers, veral bye;
  • erosiebeheer deur natuurlike plantegroei wat help om erosie teen steil hellings en in klowe te bekamp.

Twee wette is van krag vir die verbouing van braaklande en die bestuur van natuurlike hulpbronne, naamlik die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (National Environmental Management Act – NEMA) en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Conservation of Agricultural Resources Act CARA). CARA fokus op die bewerking van braaklande, terwyl NEMA op die bewerking van voorheen onbewerkte gebiede van toepassing is.

Albei wette verklaar dat dit onwettig is om sonder ՚n permit enige braaklande of velde wat nie in die laaste tien jaar bewerk is nie, te ploeg of te bewerk. Dit is ՚n strafregtelike oortreding en strafbaar met ՚n groot boete van miljoene rand en/of tronkstraf, en dan sit jy met ՚n misdaadrekord. Die wette word deur die Departement van Omgewingsake en die Departement van Landbou toegepas.

Voogdyskapprogramme

Rooivlerkies is een van die visspesies wat in die riviere in die Overberg voorkom.

Suid-Afrika is die wêreldleier ten opsigte van geleenthede skep vir grondeienaars om dele van hulle eiendom in bewaringsgebiede vir die nageslag te bewaar.

Organisasies soos CapeNature, SANParke, die WWF-SA en Overberg Renosterveld Conservation Trust is besig om verskillende modelle te ontwikkel wat grondeienaars help om hulle grond as bewaringsbate te beskerm.

CapeNature bestuur die Biodiversiteits-voogdyskapprogram om volhoubare biodiversiteit in ՚n veranderende klimaat buite beskermde gebiede te verseker. Dit hou die voordeel van CapeNature se kundigheid in wat bydra tot die goeie bestuur van die verskillende gebiede.

Vier voogdyskapprogramme bestaan, naamlik:

Kontrak-natuurreservate, waar wettig beskermde en verklaarde natuurreservate geproklameer word ingevolge artikel 23 van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur:

  • Beskermde gebiede, wat aanbeveel word vir gebiede van kritieke biodiversiteitsbelang waar bedreigde ekostelsels met uitsonderlike biodiversiteitsversamelings voorkom.
  • Beskermde omgewing, vir formeel beskermde en geproklameerde omgewings ingevolge artikel 28 van die Wet op Nasionale Omgewingbestuur: Beskermde Gebiede. Dit is ՚n werkbare opsie vir groepe eienaars wat verskillende grondgebruike op ՚n groter gebied toepas.
  • Biodiversieitooreenkoms, waar ՚n kontraktueel wettige ooreenkoms tussen die grondeienaar en CapeNature ingevolge die wette van die Wes-Kaapse Natuurbewaringsraad gesluit word. Gebiede wat as beskermingswaardig beskou word, kan vir ՚n tydperk van minstens tien jaar deur die biodiversiteitooreenkoms beskerm word.

Bewaringserwituutprogram

Die Serwituurprogram is ՚n nuwe konsep in Suid-Afrika en is oorspronklik deur WWF-SA en die Overberg Renosterveld Conservation Trust ontwikkel en word sedert 2017 deur goedgekeurde nie-regeringsorganisasies soos die Trust bestuur.

In Renosterveld Deel 2 word gekyk na doeltreffende, volhoubare bestuurspraktyke soos voorgestel deur die Overberg Renosterveld Conservation Trust.

Kontak dr Odette Curtis-Scott van die Overberg Renosterveld Conservation Trust by 083-551-3341 of info@overbergrenosterveld.org.za

Verwysings

Curtis-Scott, O., Goulding, M., Helme, N., Mcmaster, R., Privett, S., Stirton, C.H., (2020). Field Guide to Renosterveld of the Overberg. Penguin Random
House South Africa. Beskikbaar by: https://overbergrenosterveld.org.za/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0