Boer kritiek na aanval

witkruismonument web
Drie verdagtes word gesoek nadat die 28-jarige CJ Steyn Sondagaand omstreeks agtuur op die plaas Swartfontein tussen Warden en Verkykerskop aangeval is. Merwe Terreblanche, veiligheidskoördineerder by Verkykerskop, sê die verdagtes het moontlik toegang tot die huis gekry deur ’n venster.
Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting het die verdagtes glo geld van CJ geëis, en is hy tydens die voorval met ‘n mes gesteek. Hy is sowat ’n uur en ‘n half lank deur die verdagtes aangehou, waarna hulle met sy bakkie, selfoon en ander items op die vlug geslaan het. CJ het ’n verstreekte selfoon in die huis gehad, en kon sy suster skakel om hulp te ontbied.
Hy is in die hart gesteek, en het ’n noodoperasie ondergaan. Sy toestand is tans kritiek, maar stabiel en hy word in ’n hospitaal in Bethlehem behandel. Die bakkie is vanoggend naby Qwa-Qwa gevind.
Die plaaslike veiligheidstruktuur wil hulle opregte dank uitspreek vir die vinnige optrede van alle landbouverenigings wat op die noodoproep gereageer het. Boere het so wyd soos Bethlehem paaie gesluit.
Geweldadige samelewing
Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van Vrystaat Landbou (VL), sê die organisasie is baie dankbaar vir boere en die Polisie se reaksie op die noodoproep. “Die organisasie veroordeel die voorval ten sterkste. Hierdie voorval was die tweede een in een week in die provinsie. Misdaad en plaasaanvalle is en bly onaanvaarbaar vir VL. Daar is groot fout in ons samelewing met ’n gees wat heers om misdaad en geweld te gebruik om frustrasies of ontevredenheid uit te spreek. Ons wil boere derhalwe aanmoedig om paraat te wees en basiese veiligheidsmaatreëls streng toe te pas en by veiligheidstrukture in te skakel.”
Henk sê dit is bemoedigend om te weet dat talle grondstukture proaktiewe stappe volg om saam met die Polisie plaasaanvalle in die provinsie te voorkom. “Ons is onder andere bewus van plaasaanval-inoefeninge wat Sondag elders in die provinsie plaasgevind het, nieteenstaande die negatiewe sentiment wat tans heers.”
Volgens die lessenaar se statistiek, was dié voorval die agtste een in die provinsie die jaar, met drie boere en vyf plaaswerkers wat tydens die voorvalle die slagoffers was. Nog geen moorde is die jaar in die Vrystaat aangeteken nie.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, sê vergaderings met verskeie rolspelers, insluitend die Polisie, vind voortdurend plaas en dit is uiters belangrik dat alle rolspelers moet hande vat en saamwerk binne die Landelike Veiligheidsplan. “Die uiteinde van die samewerking is die veiligheid van ons boere en die voorkoming van voorvalle en lewensverlies, en dit bly ons hooffokus.”
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar