Boer baal en draai soja toe vir kuilvoer
Die nut en voortreflikhede van soja word wyd besing, maar nou kom nog ’n waardevolle aanwending van dié kontantgewas na vore: Gebaalde en gebergde soja as voortreflike veevoer.
Om soja suksesvol te baal en te berg kan ’n moeilike en langdradige proses wees en ook baie gevaarlik omdat dié oliesaadgewas sy vog lank na sny vashou, maar met ’n bietjie boerderyvernuf en goeie tegnologie kan sojavoer na die ‘onsekere volgende seisoen’ of selfs die seisoen daarna, oorgedra word.
Adam Kethro is die eienaar van Greenfields en hy is baie in sy nappies oor die jongste neiging om sojabale toe te draai om kuilvoer te maak. Hy is oortuig daarvan dat dit ook lekker in Suid-Afrika gaan werk en tot boere se voordeel sal strek.
“Gewoonlik moet sojabone eers hittebehandeling kry voor dit verteerbaar vir herkouers is, maar die kuilvoermaakproses los die problem baie makliker op. Tydens Maart, sodra die soja tussen groen en geel is, moet dit so laag moontlik afgesny word en dan kan dit dadelik gebaal word. Die baler se kerwer moet ook nie eers aangeskakel word nie, want dit veroorsaak dat van die bone verlore raak.
Nadat ’n kuilvoerkatalisator bygesit is, kan die bale toegedraai word en met ’n McHale R5-baalgryper wat vooraan ’n trekker pas twee-twee opmekaar gestapel word. Dit kan vir twee jaar lê, solank jy goeie gehalte UV-weerstandbiedende plastiek gebruik en solank daar net nie ’n kwaaddoener met ’n skerp voorwerp naby die bale kom nie,” sê Adam.
“Om die sojaranke laag af te sny is ook voordelig vir geenbewerkingboere wat gewoonlik in die stoppels kan sukkel. Die vroeg afsny gee ook vir boere geleentheid om wintervoergewasse soos hawer en stoelrog te plant wat die laat somerreëns kan benut,” sê hy.
Francis Mandy, ’n boer van die plaas Welgegund naby Verkykerskop, het die McHale 991-hoëspoedbaaltoedraaier by Greenfields gekoop en die kuns van sojakuilvoermaak vervolmaak.
“Sodra die soja net effens geel word, is die vogpersentasie reg om gesny te word,” sê hy. “Ons vel dit dan met ’n kantsnyer sodat dit nie te veel beskadig nie en kom dan dadelik met die baler agterna as die vog buite op die soja aanvaarbaar is. Ons hark ook nie die soja nie, want dit maak te veel stof wat die gehalte benadeel. Indien die buitenste vog te veel is, kan ons ’n dag wag voor ons baal.”
Hy stapel die toegedraaide sojabale twee-twee hoog. Gelukkig is die plastiek dikker aan die kante waarop hulle maats moet druk, sodat die materiaal nie maklik kan deursteek waar daar vertikale druk plaasvind nie.
“My sojakuilvoerbale het ’n uitstekende 13 persent vog, wat heerlik sag is vir hoë verteerbaarheid en vinnig meng,” sê Francis. Adam het ook begin om sy gebaalde gras toe te draai: “In wisselvallige reënweer kan oulandsgras beter en langer benut word deur dit dadelik te baal en toe te draai as om twee tot drie dae te wag tot dit droog genoeg word vir gewone baal. Oulandsgras wat vroegoggend gesny word, kan op ’n sonnige dag na tienuur gebaal word. Die ander voordeel is dat oulandsgras wat deur die doelgemaakte McHale 5400- of McHale 5500-baler gekerf word, in kuilvoervorm sag genoeg is om die beeste se tande langer te laat hou.
“In die wintermaande kan ’n boer ook die graskuilvoer wat net langs die land gestapel word met min moeite en vervoerkoste op die kaal lande uitstrooi vir die diere sodat hulle die land kan bemes terwyl hulle vreet,” sê Adam.