Bewaringsboerdery: Is dit dalk die oplossing vir kleinboere?

barry8reg
deur Tisha Steyn
Immerdeur is boere op soek na maniere om hulle produksie te verbeter en hulle koste te verminder, en bewaringsboerdery mag die antwoord op talle drome wees.
՚n Groep van sestien ontwikkelende boere in die Klein-Karoo het onlangs by Barry Meijer op sy plaas, Meijers Rust, by die ingang na Meiringspoort naby De Rust kom besoek aflê om te sien hoe hy sy bewaringsboerdery bedryf. Barry en sy vrou Vivienne boer met Bonsmaras op die plaas van 2 000 ha, waarvan 105 ha vir bewerking geskik is.
Tans hou hulle ՚n kudde van 100 koeie aan die gang op 21 ha onder besproeiing. Die res van die veld is bergfynbos. Hulle het agt jaar gelede met bewaringsboerdery begin. “Sedert die eerste artikel oor ons boedery in 2018 verskyn het, het heelwat ander boere al kom kyk wat ons doen.”
Hy sê daar is etlike boere in die De Rust-omgewing wat bewaringslandbou toepas. Op 22 November het die Departement van Landbou ՚n groep opkomende boere na Meijers Rust gebring om te sien hoe Barry herlewingsboerdery toepas. Op 9 Desember het die Departement ook ՚n aantal voorligtingsbeamptes van die George Navorsingsplaas plaas toe gebring om te kom kyk.

aan.
“Die beamptes was baie goed ingelig oor bewaringsboerdery en hulle probeer reeds om boere daarmee te help. Dit was goed om dit wat hulle aan hulle boere oordra te kon beaam,” sê Barry.
Grootste uitdagings
Volgens Barry het die boere genoem dat hulle grootste uitdagings die koste van energie, diefstal, toegang tot kapitaal en die droogte is. “Ek kan my met hulle vereenselwig omdat die droogte en die koste van energie my ook knel,” verduidelik Barry. Hy het albei groepe geesdriftig ingelig oor wat hy doen en hoekom dit werk.
Hoekom bewaringsboerdery?
Die oorwegende faktor wat Barry laat besluit het om oor te skakel was die grond wat nie water absorbeer het nie.
“Selfs na 2 mm reën het die water weggeloop,” onthou hy. Terwyl hy op die internet navorsing gedoen het oor die rede hiervoor, het hy op Ray Archuletta van die USDA en Gabe Brown, ՚n bekende bewaringsboer in Amerika, afgekom. “Dit het my bewus gemaak het van die waarde van bewaringsboerdery. Vandag is daar soveel meer inligting beskikbaar omdat baie meer wetenskaplikes hulle daarop toespits. Van die groot name sluit Walter Jehna, Christine Jones, Christine Nichols en David Johnson in.”

dolwe nie.
Volgens Barry berus bewaringsboerdery op vier beginsels, naamlik
• minimum versteuring van die grond en geen gebruik van chemiese middels nie;
• dekgewasse wat die grond altyd bedek hou en sorg dat lewende wortels so lank moontlik in die grond bly;
• gemengde aanplantings pleks van monokultuur-gewasse; en
• lewendehawe moet ingesluit word omdat hulle teenwoordigheid die ontwikkeling van bakterieë aanspoor.
“Bedekte grond kan tot 20 °Celsius koeler as kaal grond wees. Die lewende plante sit koolstof in die grond, en vir elke kilogram koolstof in die grond kan dit tot 7 kg water absorbeer.
“Enige aanplantings moet bestaan uit vier funksionele plantgroepe, naamlik peulgewasse, grasse, kort kruie en lang kruie.” Volgens hom het die Jena-eksperiment in Duitsland bewys dat plantdiversiteit ՚n positiewe bedrae lewer tot die produktiwiteit van plante en talle ander ekosisteem-veranderlikes. Dit ondersteun die aanname dat biodiversiteit multi-funksionaliteit in die ekosisteem bevorder.

Dekgewasse
Aanvanklik is meestal eenjarige dekgewasse geplant, maar daar is mettertyd beweeg na meerjarige gewasse uit vier funksionele groepe. “Minder peulgewasse word geplant want dit kan lei tot te veel stikstof in die grond, wat tot verdigting lei. Alle plante het die vermoë om omstandighede te skep sodat bakterieë vir hulle kan stikstof maak.”
Die dekgewasse se wortels dring die grond tot verskillende dieptes binne en die gewasse is op verskillende tye geskik vir beweiding. “Die belangrikste is dat daar te alle tye plantwortels in die grond en ՚n blaarbedekking op die oppervlak moet wees.”
Die plantbedekking keer dat die grond uitdroog omdat die enigste waterverlies deur verdamping deur die blare deur evapo-transpirasie plaasvind. Die wortels keer dat die grond wegspoel en sorg dat dit goed deurlug word, wat voordelig is vir koolstof- en stikstofinhoud, en dit voed noodsaaklike bakterieë in die grond wat, in interaksie met mikorisa-swamme, die grond gesond hou. Hoe digter die plantbedekking is, hoe minder onkruid kom voor, terwyl dit terselfdertyd heelwat meer voordelige as skadelike insekte huisves wat chemiese onkruid- en plaagbeheer oorbodig maak.
Weidingbeheer
Omdat die weiding soveel verbeter het, bewei die beeste 40 m² per koei. Hulle weidingbewegings word beheer deur ՚n enkele elektriese draad wat elke twaalf uur verskuif word. ”Boere wat hulle beeste sewe keer per dag verskuif het baie beter resultate,” verduidelik hy. Die beeste word net toegelaat om 50% van die blaarbedekking te vreet voordat die heining verskuif word.
“Dit laat genoeg blare vir fotosintese sodat die plante kan aanhou groei.” Die grootste voordeel hiervan is dat heelwat minder water gebruik word en dat daar altyd groen weiding beskikbaar is, selfs te midde van die ergste droogte in 100 jaar waaronder die Klein-Karoo tans gebuk gaan. Hy meen die aspek van hoëdrukbeweiding kan die kleinboere van waarde wees.
“Hulle kan baie vee op ՚n klein stukkie grond laat wei, maar dit is belangrik dat die vee nie toegelaat moet word om weer te bewei voordat die weiding ten volle herstel is nie.”

word, word gesaai.
Voordele van bewaringsboerdery
Die water wat gebruik word, produseer meer biomassa per liter as met tradisionele boerdery. ”Met navorsing weet ons nou dat indien ons bewaringboerdery toepas, kan ons tot 250-miljard ton koolstof bykomend in die grond sit. Herlewingslandbou lei tot meer gesonde voedsel en meer gesonde mense.” Buiten dat daar heeljaar deur groen weiding beskikbaar is, lê die besparing daarin dat dieselverbruik aansienlik verminder is. Hy glo bewaringsboerdery of herlewingslandbou kan die ergste byt uit klimaatsverandering haal.
“Landbou kan nie op sy eie klimaatsverandering omkeer nie, maar deur sekere beginsels toe te pas – wat lynreg teenoor konvensionele landboumetodes staan – is dit moontlik om minstens in die mikrokosmos van jou plaas ՚n verskil te maak. “Landbou word allerweë beskou as een van die grootste bydraers tot klimaatsverandering. Navorsing het getoon dat biodiversiteit in grond, en veral in grasveld, lei tot ՚n dramatiese toename in die vermoë daarvan om koolstof op te neem en te berg.
“Dit beteken die grond moenie omgedolwe word nie, maar eerder gevoed en beskerm word deur dekgewasse te plant. Geen chemiese middels, hetsy bemesting, onkruid- of insekdoder nie. Monokultuurgewasse moet vermy word, maar dit is nie altyd haalbaar vir kommersiële graan- en oliesaadboere nie – wisselbou kan help.”
Toerisme
Die ongerepte fynbos op die hoërliggende gedeelte het groot aantrekkingskrag vir Suid-Afrikaanse en buitelandse besoekers wat in ՚n aantal huisies op die plaas kom vertoef. “Toerisme is ՚n nuttige ekstra inkomste, want die huisies is feitlik heeljaar deur vol bespreek.”
Kontakbesonderhede Kontak Barry Meijer by 072-495- 5196 of bmeijer@aol.com vir meer inligting.
Verwysingsbronne
Eisenhauer, N. (n.d.) The Jena Experiment: Exploring mechanisms underlying the relationship between biodiversity and ecosystem functioning. German Center for Integrative Biodiversity Research (iDiv) Halle-Jena-Leipzig http://www.the-jena-experiment.de/
Elmqvist, T. (2022) Regenerative Agriculture: Healthy soil best bet for carbon storage. Stockholm Resilience Centre https://easac.eu/news/details/regenerative-agriculture-healthy-soilbest-bet-for-carbon-storage/
Stika, J. (2016). A soil owner’s manual: How to restore and maintain soil health.