Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 7th November 2023

Bewaringsboerdery, begroting maak hom Graanboer van die Jaar: Waar Pieter de Jager trap, daar groei dit

By 8 min read

Pieter 1

Pieter de Jager van Albertinia is pas aangewys as Graan SA se Graanboer van die Jaar. Van links: Pieter en sy vrou Marié, Derek Matthews, voorsitter van Graan SA, en Christian Giesel, interim-bestuurder van Syngenta SA. (Foto: Graan SA)

Pieter de Jager van Albertinia in die Suid-Kaap is pas aangewys as Graan SA se Graanboer van die Jaar. Hy boer saam met sy broer André op verskeie plase in die streek en die boerdery word die afgelope drie jaar onder die naam Tartouwa (Edms) Bpk bedryf.

Pieter hanteer die saaiboerdery (koring, kanola, ander peulgewasse, hawer en gars op ՚n rotasiegrondslag, asook die finansies en administrasie, terwyl André die vee-afdeling, bestaande uit Brangus-vleisbeeste en Merino-skape, hanteer.

Vierde geslag

Pieter vertel hulle is die vierde geslag De Jagers wat in die omgewing boer. Sy oupagrootjie Pieter de Jager het in die dertigerjare die plaas Swartklip gekoop, wat geskik was vir veeboerdery en waar André nog woon. Sy oupa Andries de Jager het nie juis in boerdery belanggestel nie en het ՚n vervoermaatskappy gehad, terwyl sy ouma, Lettie de Jager, ՚n bietjie met skaap en melkkoeie geboer het . Sy pa Pieter het die grondslag vir veeboerdery gelê en in 1980 die eerste keer met graan begin boer.

“Omdat die grond uitgeput was van al die jare se jare se diep ploeg, was graanproduksie nie meer lonend nie en daar is in die middel-negentigerjare op vee gefokus.”

Pa Pieter het in 1986 van melkboerdery na volstruise oorgeskakel en het met vyf broeipare die kudde stelselmatig opgebou tot 1 000 volstruise geslag kon word. “Dit was baie winsgewend en ons het die volstruisgeld gebruik om nog plase by te koop. Toe voëlgriep die eerste keer in 2011 uitbreek, het die risiko verbonde aan die volstruisbedryf te hoog geraak en ons het van die voëls ontslae geraak om ons skaapkomponent uit te brei.”

Landbouopleiding

Pieter en André, wat twee jaar ouer is, het aan Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal gematrikuleer en daarna Landbou by Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit of NMMU, vandag Nelson Mandela Universiteit, se Saasveldkampus op George gaan studeer. Na afloop van die nasionale B Techkursus het albei broers nagraads ՚n M Tech gedoen waartydens Pieter op kommersiële kwartelboerdery en André op bye gefokus het. Albei is na afloop van hulle studie terug plaas toe om te boer.

Koring word in rotasie op 2 800 ha verbou. Wisselbou gee toegang tot meer metodes om onkruid, insekte en grondgedraagde en swamsiektes te bekamp. (Foto: Verskaf)

Bewaringsboerdery

Pieter het op skool al kennis gemaak met die beginsels van bewaringsboerdery. “Mnr Willie Janse van Rensburg, ՚n onderwyser op Oakdale, het in 1994 al gesê het bewaringsboerdery is die toekoms van landbou.”

Die skoolseuns het ook ՚n praktiese dag op Jack Human se plaas deurgebring. Jack, wat as ՚n pionier in bewaringslandbou in die streek beskou word, is pas postuum deur Graan SA vir sy rol daarin vereer. “Ek het toe al besef die benadering is waardevol en saamgestem dat dit die pad vorentoe is. Toe ek plaas toe is, het ek dadelik begin kyk hoe die beginsels toegepas kan word,” sê Pieter. Dit was nie klimaatsverandering wat hom motiveer het nie, want daardie jare was dit ook maar ՚n newelige konsep.

“Ek wou probeer om graanboerdery winsgewend te maak en om dit te doen moes ek eers die grond regkry.”

Minimumbewerking

Minimumbewerking word sedert 2004 toegepas om grondgesondheid en vogbewaring te verbeter. Dit help nie net die invloed van droogte buffer nie, maar bring ook ՚n aansienlike besparing op meganisasie en brandstof teweeg.

Wisselbou

Koring word in wisselbou op 2 800 ha geproduseer. “Wisselbou gee ons toegang tot meer metodes om onkruid, insekte en grondgedraagde en swamsiektes te bekamp.” Die wisselbou is gebaseer op die grond se potensiaal, markvooruitsigte en die klimaatvoorspelling. In kampe met ՚n hoë potensiaal word koring, kanola, gars, hawer en lupine geplant, wat voortdurend geoes kan word. Dit kom daarop neer dat ՚n oes soos kanola en lupine waarop onkruiddoder vir gras gebruik kan word, opgevolg word deur ՚n oes soos koring, hawer en gars waarop breëblaar-onkruiddoder gebruik kan word. Volgens Pieter is die koringoes 25% hoër op lande waar lupine die vorige jaar geplant is. Op goeie grond kan hy twee jaar na mekaar koring plant op landerye waar lupine geplant was. Hy gebruik gewoonlik nuwe kultivars wat in produksieproewe getoets is.

Pieter en Marie de Jager van Albertinia in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

“Ek kies ՚n kombinasie van gewasse met ՚n lang en medium groeityd soos kanola en koring om ՚n klimaatrisiko uit te skakel. Die keuse word beperk tot enkele kultivars omdat ek nie die produksiebestuur te ingewikkeld wil maak nie.”

Dit verminder ook markrisiko’s omdat die verskillende oestye toegang tot meer markte gee: wanneer pryse swak is, word die graan in die SSK se koöperasie se silo’s gestoor totdat die Safex-pryse beter is.” Van die graansaad word teruggehou om die daaropvolgende jaar se plantkoste te verlaag. “Om saad terug te hou behoort nie ՚n negatiewe uitwerking op die opbrengs te hê as die saad behoorlik skoongemaak word sodat dit nie siektes kan oordra nie.” Die saad word by die plaaslike koöperasie gehou. Kanola word met gesertifiseerde saad geplant. Lae-risiko grond word deurlopend geoes. Op hoërisikogrond word ՚n langtermynstelsel met vyf jaar lusern en drie jaar kontantgewas toegepas.

Presisieboerdery

Sedert 2007 word presisieboerdery toegepas, wat die produksie verder verbeter het. Dit behels die toediening van kalk en makro-elemente soos kalium, stikstof en fosfaat volgens grondontledings wat op elke twee hektaar gedoen word. Die benadering balanseer die verskille in die lande uit en voorkom dat sekere dele te veel en ander te min bemes word. Om die impak hiervan op die kontantvloei te verlig, word bemesting oor ՚n tydperk van drie jaar versprei.

“Met presisieboerdery bewerk ek elke vierkante meter volgens die besondere behoeftes van daardie grond. Destyds het ons nie juis die regte werktuie gehad nie – ons het nie eens ՚n kajuittrekker gehad nie! Ek het besluit om die beste werktuie wat die werk 100% kon doen te koop. Ons moes van die hamels verkoop om dit te kon bekostig.”

Hy het by ander graanboere geleer hoe om daarmee te boer.

“Vandag is daar baie tegnologie en kennis beskikbaar, maar ek leer steeds by ander graanboere.”

Die waterkar ry water aan na die lande waar chemiese middels gemeng moet word. (Foto: Graan SA)

Skape en beeste

Die veekudde van 3 000 Merino-ooie en 150 Brangus-koeie voeg waarde toe tot die grond met lae verbouingspotensiaal of wat ՚n hoë risiko inhou en ongeskik is vir koring. Die vee voeg ook waarde toe tot die wisselverbouing van koring omdat die oesreste en die lusern bewei kan word. Die skape wei net ՚n kort rukkie op die stoppellande om te keer dat die grond verdig en hulle verwyder basies net die vorige seisoen se saad. Die skape word elke agt maande geskeer en die lammers word op agt weke gespeen en verkoop wanneer hulle op vier maande 45 kg weeg.

Begroting is belangrik

Volgens Pieter is dit noodsaaklik om ՚n begroting te hê wat gesonde kontantvloei teweegbring en wat finansiële besluite kan rig, veral wanneer met ՚n seisoensgebonde produk soos koring geboer word. Daar word streng boekgehou van alle inkomste en uitgawes met behulp van ՚n Australiese rekenaarprogram, AgCommander, wat sedert 2011 gebruik word om die plase as geheel, die onderafdelings en die kampe se finansiële status aan te dui. Die koste vir indiwiduele take soos meganiese bewerkings en spesifieke chemiese of bemestingtoedienings word per hektaar per uur vir die kampe en die plase as geheel ontleed. Die inligting word deurlopend bygewerk om die daaglikse uitgawes en inkomste en dus die winsgewendheid van elke kamp te meet en met die ander kampe te vergelyk sodat tred gehou kan word met die plase se prestasie.

Pieter het besluit om die beste werktuie wat die werk 100% kan doen te koop. (Foto: Graan SA)

Meet aan ander boere

Pieter is die afgelope twintig jaar betrokke by ՚n studiegroep waar produksierekords en planne om uitdagings te oorkom gedeel word. Met behulp van produksiemetings teen ander boere kry hulle ՚n realistiese prentjie van hulle eie boerdery en kan hulle goeie besluite neem wat nie deur sentiment beïnvloed word nie.

Uitdagings

Van die grootste uitdagings is die vloeibaarheid, nie net van die rand/ dollar-wisselkoers nie, maar ook van insetkoste wat verband hou met die wêreldekonomie en ander wêreldgebeure, soos die COVID-19-pandemie en nou ook oorlog tussen Rusland en Oekraine, en Israel en Hamas.”

“Dit is moeilik om onder hierdie omstandighede mediumtermyn-beplanning te doen: Vanjaar was my insetkoste. 28% meer as in 2022 sonder dat ek ekstra insette gebruik het. Graanpryse is 15% laer as verlede jaar. Dit is moeilik om ՚n boerdery te bestuur en ՚n mens moet veral kontantvloei baie goed bestuur.”

Pieter de Jager by ՚n weerstasie wat weerdata en siektemodelle voorspel wat belangrik is vir beplanning in presisieboerdery. (Foto: Graan SA)

Wagwoord vir landbou

Pieter se leuse vir boerdery is onomwonde: “Kyk na die grond en die grond sal na jou kyk!”

Kontak Pieter de Jager by 082- 442-5009 of dejagerph@gmail.com

Bronverwysings

Bezuidenhout, G. (2023) Graan SA wys sy topboere aan. Landbou.com

Kriel, G. (2019) Financial planning: crucial to sustainable production. https://www.farmersweekly.co.za/crops/field-crops/financialplanning-crucial-to-sustainableproduction/

Price, I. (2023) Pieter pioneers precision agriculture for farming harmony. Foodfor Mzansi.co.za https://www.foodformzansi.co.za/pieter-pioneers-precision-agriculture-for-farming-harmony/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0