Categories: Artikels, Besproeiing, GewasproduksiePublished On: 31st March 2020

Betroubaar en duursaam: Agrico-spilpunte staan reeds dekades sterk

By 4 min read
723 words

agrico izak reg 4

Betroubaar, sterk en stewig staan Agrico se spilpunt op Izak van der Merwe se land.

Betroubare, sterk, stewige toerusting en goeie dienslewering. Dit is wat elke boer vir sy plaas soek. Agrico bied al hierdie eienskappe en nog meer, en daarom loop elke eienaar van ’n Agrico-spilpunt met ’n glimlag van oor tot oor. Agrico verbeter ook elke dag hulle besproeiingstelsels om by die boer se veranderende omstandighede aan te pas.

“Agrico se spilpunte is baie stewig, eerder te sterk as te swak,” sê Izak van der Merwe wat met mielies en koring boer op die plaas Kransfontein buite Gariep. Op Kransfontein is net Agrico-spilpunte en Izak het dit nog nooit oorweeg om ’n ander soort spilpunt aan te skaf nie.

Izak vertel ook dat hy die derde geslag is wat sake doen met Agrico. “My oupa was al in die 60’s ’n klant van P Andrag en Seuns.”

Izak het al gedeeltes van sy ouer spilpunte vervang, maar sê die konstruksie is baie sterk. “Ek het nog nooit ’n omvalprobleem as gevolg van wind gehad nie. Agrico het spesifiek hoë-stabiliteittorings met ’n langer asafstand vir winderige gebiede,” sê Izak.

Al Izak se nuwe spilpunte het Cablesaver op vir diefstal en hy sal ook vorentoe daaraan dink om die Wheelsaver-wiele aan te skaf, want dit is ’n goeie produk vir veiligheid. Cablesaver plaas die kabel binne-in die spilpuntpyp.

Die kabel word in en uit die pyp gevoer deur afdigstukke (glands) by die toringkaste (aan die begin en einde van elke toring), en bly beskerm teen diefstal, selfs al word die afdigstukke van buite losgemaak.

Wheelsaver is weer ’n stelsel van peuterbestande wielmoere wat nie losgemaak kan word met oop-sok-, skuif- of bobbejaansleutels nie. ’n Spesiale, genommerde sleutel word saam met die spilpunt aan die boer voorsien vir gebruik tydens herstel- en instandhoudingswerk.

Agrico hou ook ’n register van alle spesiale sleutels wat verkoop is vir ingeval die boer sy sleutel verloor. Izak gebruik ook Agrico se Advanced Rain-beheerstelsels op sy spilpunte. “Dis baie gerieflik om jou spilpunte vanaf ’n selfoon of rekenaar te beheer. Ons is drie mense op die plaas wat in kennis gestel word as iets fout gaan met ’n spilpunt, sodat dit dadelik reggestel kan word.”

Hy sê verder dat die beheerstelsels baie help met die beplanning op die plaas, asook om water- en kragvermorsing te beperk.

Die kere toe hy wel ’n probleempie met ’n spilpunt gehad het, het Agrico se tegnici soos blits uitgekom plaas toe om dit te herstel. Izak gebruik ook soos sy voorgeslagte van Agrico se betroubare werktuie. Hy het onder meer verlede jaar ’n nuwe Agrico HSD (hoëspoed dis) gekoop, waarmee hy baie tevrede is.

Hier word nog ’n nuwe Agrico-spilpunt opgerig op Izak van der Merwe se plaas, Kransfontein.

Agrico se sterk spilpuntstruktuur:

• Geen kommersiële gehalte staal word gebruik nie.

• Pype, flense en hoekysters word vervaardig van graad 300 WA staal, met ’n beheerde silikooninhoud vir herhaalbare versinking.

• Ultrasterk spanstangkoppelstukke word gebruik.

• Die spilpunt het spesifieke pype in die struktuur waaraan die bene vasbout. Hierdie pype is versterk op die spanningspunte waar die kragte vanaf die bene inwerk. Dit skakel die probleem uit van pype wat swig waar die bene vasbout.

• Agrico waarborg ’n versinkingslaagdikte van minstens 100 mikron op al hulle spilpuntpype.

• Aangesien die sinklaag se lewe direk eweredig is aan sy dikte, sal ’n Agrico-spilpuntpyp minstens 1,8 keer so lank hou as ’n pyp wat volgens ISO 1461 slegs 55 mikron dik gegalvaniseer is.

Agrico se geskiedenis:

Paul Andrag het in 1896 in Kaapstad aangekom vanaf Duitsland en in 1904 het hy sy eie winkel geopen. Hy het agtergekom dat plaaslike boere probleme het omdat hulle nie ordentlike toerusting het nie en daarom Europese landboutoerusting ingevoer en plaaslik verkoop.

Later jare het Paul se vyf seuns by hom en die onderneming, P Andrag & Seuns, aangesluit. In 1950 is Agrico Machinery (Edms) Bpk gestig om invoere van Lanz-trekkers voort te sit. Hulle het die spilpuntmark in 1978 betree, met ’n agentskap uit die VSA. Sedert 1985 vervaardig Agrico sy eie spilpunte plaaslik. Gedurende 2000 het Andrag en Agrico saamgesmelt.

Vandag vervaardig Agrico landbouwerktuie en verskeie produkte vir die besproeiingbedryf in sy wêreldklas fabrieke wat onder meer ’n versinkingsaanleg insluit. Met Agrico se 33 takke is dit maklik om een van hulle produkte aan te skaf en diens en onderdele is altyd byderhand.

Vir enige navrae, kontak Alfred Andrag by 082-824-1214 of 021-950-4111 of stuur ’n e-pos na Alfred.andrag@agrico.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0