Beste praktyke vir roofdierbestuur in Suid-Afrika: Deel 1

jakkals
Veeboere het die grondwetlike reg en ‘n verantwoordelikheid om hulle vee te versorg en te beskerm teen alle potensiële bedreigings soos uiterste klimaatstoestande (koue, hitte, droogtes, vloede en brande), asook teen diefstal en uiteraard teen roofdiere. Hierdie raamwerk van beste praktyke handel oor roofdierbestuur en -beheer. Dit noem ‘n aantal van die metodes wat boere as riglyn kan gebruik (alleen of in kombinasie) om hulle vee teen roofdiere te beskerm.
Alle moontlike bestuursmaatreëls moet ingespan word om probleemdiere op ‘n sosiaal aanvaarbare ekonomies verantwoordbare/bekostigbare; ekologies versoenbare en wettige wyse te beheer.
Voorkomende en regstellende bestuursmaatreëls moet saam gebruik word.
Standaarde vir bestuursmaatreëls
Voorkomend
Roofdierwerende sifdraad (jakkalswerend)
Dit word sterk aanbeveel dat veral kleinveeboere lammerkampe met sifdraad toespan. Die volgende maatreëls moet ingestel word om sifdraadheinings doeltreffend te maak:
- Gebruik SABS-goedgekeurde sifdraad met ‘n maasgrootte van 75 mm of kleiner.
- Span sifdraad minstens een meter hoog.
- Pak sifdraad met klippe op die grond vas.
- Maak alle moontlike deurkruipplekke by hekke stewig met sifdraad toe.
- As daar onskadelike klein diere soos oewerkonyne en skilpaaie voorkom, skep enkele klein openinge vir hulle om te kan deurkruip. Hang kettings in sulke deurkruipplekke, want dit verhoed jakkalse om deur te kruip.
- Hang sleepstawe onder hekke om te voorkom dat roofdiere onderdeur kruip.
- Inspekteer en herstel heinings waar nodig weekliks.
Elektriese omheinings
Omgrensende elektriese omheinings en mikrokampstelsels is nuttig, maar hou ‘n gevaar vir diere soos skilpaaie, ietermago’s en likkewane in. Die elektriese geleiers moet so gespan word dat dit nie sulke diere sal vaskeer en uiteindelik doodskok nie:
- Span die aardgeleier 10 cm bo die grond sodat dit bogenoemde diere weg van die elektriese draad kan hou. Span dan effens hoër op (20 cm) die eerste lewendige geleier.
- Span die boonste elektriese draad 15 cm bo die gewone heining.
- Heinings moet met alarms toegerus word wat sal alarm maak as diere in die heinings verstrengel raak. Sulke diere moet onmiddellik losgemaak word, beserings moet verkieslik deur ‘n veearts behandel word en daarna moet die diere vrygelaat word.
- Die lading op die heinings en stroom moet so gestel word dat dit nie ‘n dodelike skok vir diere sal toedien nie.
Kraling van vee
Krale kan van draadheinings, gepakte klippe of ruwe takke gemaak word. Die
volgende kriteria is van belang:
- Draadheinings moet minstens 1,4 meter hoog wees.
- Gepakte klipheinings moet minstens 1,6 meter hoog wees en met doringdraad of ‘n elektriese geleier bo-op toegerus wees.
- Takheinings moet minstens 1,6 meter hoog wees en moet ondeurdringbaar gepak word.
- Takheinings moet aan die binnekant afgewerk word sodat vee nie daardeur beseer word nie.
- Mis moet gereeld uit die krale verwyder word om las van vlieë en ander parasiete te bekamp.
- Voldoende skoon water moet vir diere voorsien word.
- As diere gedurende die dag in krale moet vertoef, moet daar genoeg skaduwee wees waar diere teen warm son kan skuil.
- Wees bedag op oordraagbare siektes omdat veral kleinvee in krale daaraan blootgestel word.
Afwering
Klankafwering
Die klank van mensestemme, musiek of plaasgeluide kan doeltreffend as afweermiddel teen roofdiere aangewend word. Stel die volgende stappe in werking om doeltreffendheid te verseker:
- Gebruik klanke slegs snags in kampe waar ‘n roofdierprobleem ondervind word.
- Skep verskillende klanke met radio’s op verskillende plekke in die kamp.
- Verander die radio se klanke elke aand.
- Skuif elke radio elke aand na ‘n ander plek in die kamp.
- Staak die gebruik van klanke na ses weke en begin weer na ‘n maand daarmee.
Ultrasoniese klanke affekteer die roofdier se gehoor en klaarblyklik is dit so erg versteurend dat dit roofdiere weg hou uit die gebiede waar die klank uitgesaai word. Dit is nie bekend wat die invloed van ultrasoniese klank op die gedrag, produksie en reproduksie van vee het nie. Boere moet daarom baie nou let op hulle vee se gedrag, paring en produksie wanneer ultrasoniese afwering aangewend word.
- Gebruik toestelle wat pulserende ultrasoniese klanke wek en sodat dit slegs vir kort tydperke pulse uitsaai.
- Gebruik ultrasoniese klanke slegs vir kort tydperke (vier weke) en wissel dit met gewone klanke af.
- Vermy die gebruik van ultrasoniese klanke waar uile en vlermuise in die nabye omgewing is.
Ligafwering
Gewone of pulserende ligte kan roofdiere uit kampe hou.
- Gebruik ‘n kombinasie van geel, oranje en wit lig.
- Plaas ligte op strategiese plekke oral in die kamp uit.
- Skuif ligte elke aand na ander plekke in die kamp en wissel die onderskeie kleure af.
- Ligte behoort in kombinasie met klankafwering gebruik word.
- Gebruik ligte vir ses weke en staak die gebruik daarvan vir een maand voordat dit weer aangewend word.
Reukafwering
Apparate wat roofdierafwerende reuke versprei kan moontlik ook roofdiere uit kampe weghou.
- Plaas apparaat so dat die reuke windaf in die kamp indryf.
- Reukapparaat moet nie vir tydperke langer as ses weke aangewend word nie.
- Wissel reukapparate met klank- en ligafwering af.
Beskermende en afwerende halsbande
Hierdie halsbande beskerm of die dier teen roofdieraanvalle of het ‘n afwerende uitwerking op roofdiere.
Beskermende halsbande
- Beskermende halsbande moet van stewige UV-bestande plastiek vervaardig word.
- Elke skaap in die kamp moet met ‘n halsband toegerus word.
- Halsbande moet nie vir langer as ses weke in een kamp aangewend word nie.
- Sodra roofdiere kleinvee op ander plekke as aan die keel byt moet die halsbande almal onmiddellik verwyder word.
- Wissel beskermende halsbande met reukhalsbande, fluoresserende halsbande en klankhalsbande af.
- Halsbande moet gemaklik om diere se nekke pas en nie die diere wurg nie.
Afwerende halsbande
Afwerende halsbande sluit halsbande in wat klanke voortbring, van besonder helder kleure gemaak is of bepaalde reuke afskei:
Klokkiehalsbande
Klokkiehalsbande moet aan minstens ‘n kwart van die trop aangebring word. Dit moet vir nie langer as ses weke gebruik word nie en met ander halsbande afgewissel word.
Kleurhalsbande
Kleurhalsbande is toegerus met fluoresserende materiaal wat snags lig uitstraal. Dit moet vir nie langer as ses weke gebruik word nie en met ander halsbande afgewissel word.
Reukhalsbande
Hierdie halsbande word van eenvoudige materiaal soos katoen gemaak en met verskillende reuke deurweek sodat daar vreemde reuke in die veetrop bestaan. Dit moet vir nie langer as ses weke gebruik word nie en met ander halsbande afgewissel word.
Veewagters
Veewagters kan slegs aangewend word as vee in streng tropverband in klein kampies bestuur word.
- Daar kan nie van veewagters verwag word om snags saam met diere in die veld te slaap nie.
Beskermende diere
Verskeie soorte diere word as teenvoeter vir roofdiere soos rooijakkalse, rooikatte, gevlekte en bruin hiënas, luiperds en jagluiperds in die veebedryf en selfs in die wildbedryf gebruik. Sulke diere moet net soos ander plaasdiere altyd met die nodige sorg en aandag bestuur word. Hulle moet te alle tye vrye toegang tot kos, water en skuiling hê.
Volstruismannetjies
Wend volstruismannetjies aan om jakkalse uit lammerkampe te verdryf.
Blesbokramme
Ontplooi blesbokramme in veekampe om rooijakkalse bedags en snags uit kampe te verwilder. Daar moet geen blesbokooie in sulke kampe teenwoordig wees nie.
Donkiehingste
kan aangewend word om rooijakkalse en rooikatte uit kampe te verjaag. Onttrek donkies uit kampe sodra lammers begin aankom omdat hulle klein lammers by veesuipings beseer.
Alpakkas
word ook suksesvol aangewend om roofdiere van vee af weg te hou.
Honde
Anatoliese berghonde
is doeltreffend om grootvee, kleinvee en wild teen die meeste roofdiere, insluitende leeus, te beskerm.
- Koop berghonde aan by telers wat met vee boer en honde in ‘n boerdery-omgewing grootmaak.
- Berghonde moet teen alle hondverwante siektes ingeënt word en gereeld deur ‘n veearts ondersoek word.
- Berghonde moet elke dag vars kos en drinkwater kry.
- Berghonde moet nie toegelaat word om met ander honde op die plaas te meng nie.
Bokhonde
Dit is honde van ander rasse wat ook soos Anatoliese berghonde in kleinveetroppe grootgemaak word. Dieselfde norme as wat vir berghonde geld, moet vir bokhonde toegepas word.
Bron: Predasiebestuursforum
(VERVOLG)