Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 22nd October 2020

Beskerm jou oes 1: Waaruit bestaan ’n goeie spuit?

By 6 min read
1047 words

spuit 1

Opgestel deur JP le Roux

’n Wapen waarsonder ’n boer nie sy oes teen onkruid kan beskerm nie, is onkruiddoder. Maar net soos die beste ammunisie niks help as jy nie ’n akkurate, betroubare geweer het nie, help die beste onkruiddoder niks as jy nie ’n doeltreffende spuit het wat dit in presies die regte hoeveelheid op presies die regte plek toedien nie.

Daar is ’n sterk verband tussen die doeltreffendheid van ’n plaagdoder en die doeltreffende toediening daarvan.

Daarom is dit belangrik om doeltreffende spuittoerusting te gebruik en om dit reg in te stel. Dit is noodsaaklik dat die boer hom vooraf deeglik vergewis van die onderskeie onderdele van ’n plaagdoderspuit voordat hy besluit wat om te koop. Dit sal vir hom baie ellende, vermorsing, tyd en geld bespaar as hy ’n spuit koop wat hy verstaan en wat betroubaar en akkuraat werk.

Spuittenk

Die spuit se tenk moet van ’n roesbestande materiaal gemaak wees. Die binne-oppervlak moet glad wees sodat die spuitstofneerslag maklik verwyder kan word. ’n Spuittenk met ’n ingesinkte gedeelte rondom die inlaatopening word aanbeveel om die stort van spuitstowwe te bekamp.

Die inlaatopening moet verkieslik ’n deursnit van minstens 250 mm hê sodat onderdele binne-in die tenk maklik bereikbaar is. ’n Aftapkraan onder aan die spuittenk is ’n vereiste.

Die spuit se hoof- en mengtenk moet roesbestand wees.

Filtreerders

Filtreerders voorkom dat vreemde stowwe die spuitpunte verstop. ’n Minimum van twee filtreerders word aanbeveel; ’n suigfiltreerder en ’n deurvloeifiltreerder. ’n Sif by die inlaat van die tenk is ook ’n vereiste. Suigfiltreerders moet siffies van 100 maas of fyner hê. Siffies wat fyner as 100 maas (byvoorbeeld 200 maas) is, kan die vryvloei van sommige benatbare poeiers verhoed, maar is noodsaaklik waar kleiner spuitpunte gebruik word.

Alhoewel siffies van 150 tot 200 maas by die spuitpunte self probleme mag veroorsaak deurdat hulle gedeeltelik verstop kan raak sonder dat die operateur daarvan bewus is en dit so onakkurate toediening tot gevolg mag hê, bly dit egter raadsaam om wel siffies te gebruik en hulle gereeld skoon te maak.

Doeltreffende filtreerders is uiters noodsaaklik vir die doeltreffende werking van die spuitstelsel. Daarom behoort hulle dikwels skoongemaak en vir beskadiging ondersoek te word. Gebruik ’n filtreerder wat maklik en vinnig skoongemaak kan word, verkieslik van die tipe wat nie uitmekaar gehaal hoef te word in die skoonmaakproses nie. Sommige filtreerders het byvoorbeeld slegs ‘n skroefdoppie wat verwyder moet word.

Die pomp bepaal die doeltreffende werking van die spuit, en is daarom een van die belangrikste dele.

Vermenging

’n Roerder in die spuittenk is noodsaaklik om die spuitstof eweredig te vermeng en in suspensie te hou, sodat die chemikalieë nie uitsak en die toedieningshoeveelhede gevolglik wissel nie. Vir deeglike vermenging in tenkgroottes van minder as 1 000 liter behoort daar vanaf ’n punt tussen die pomp en die afsluitklep ’n afsonderlike pyp na die tenk voorsien te word, wat  so geplaas is dat dit die inhoud van die tenk deurentyd vermeng. Die opening van die pyp moet naby die tenkbodem wees om materiaal wat wil afsak weer boontoe te voer en te vermeng.

Vir spuittenks groter as 1 000 liter word aanbeveel om ’n spesiale meganiese roerder onder in die tenk te installeer. Dit is beslis ’n vereiste waar die tenkinhoud 2 000 liter oorskry.

Pomp

Die pomp bepaal die doeltreffende werking van ’n spuit. ’n Verskeidenheid pompe is beskikbaar elk met eienskappe wat hom geskik maak om sekere funksies goed te verrig.

Gaan alle pype gereeld na.

Faktore wat die keuse van ’n spuitpomp bepaal is:

• Volume benodig per oppervlakteeenheid

• Druk benodig om teiken egalig te benat

• Egalige volume en spuitdruk (noodsaaklik vir akkurate toediening)

• Minimum verwering en slytasie deur spuitstowwe

• Indien slytasie of skade voorkom, behoort die herstel van die pomp vinnig, eenvoudig en ekonomies te wees

• Diens en gemak van skoonmaak kan van primêre belang wees indien die pomp verskillende soorte spuitstowwe moet hanteer

• Onderdele moet vrylik beskikbaar wees

Spuitpunte behoort gereeld nagesien te word om seker te maak dat die spuitstof doeltreffend toegedien word.

Die volgende pompe is beskikbaar:

Suierpomp

’n Suierpomp is moontlik die duurste en die betroubaarste, maar ook die veelsydigste. Dit hanteer ’n hoë spuitdruk en volume en is opgewasse vir sowel skurende as nie-skurende stowwe.

Sentrifugale pomp

Hanteer alle soorte spuitstowwe, selfs growwe, skurende produkte. Kan hoë volume teen lae druk lewer.

Diafragmapomp

Hanteer die meeste soorte chemikalieë. Hierdie spuitpomp is ekonomies, doeltreffend en is ook die spuitpomp wat die meeste gebruik word.

Let wel:

• Vervang die diafragmas elke seisoen

• Handhaaf die drukking in die drukkamer volgens spesifikasie

Maak seker daar is geen verstoppings
in spuitpunte nie.

Rollerpomp

Hierdie pomp is die goedkoopste, maar word nie aanbeveel vir die spuit van benatbare poeiers nie omdat die rollertjies sowel as die rollerkamertjies beskadig kan word. Dit word slegs vir emulgeerbare konsentrate aanbeveel, aangesien slytasie ’n belangrike faktor by hierdie tipe pomp is.

Pype

Gebruik deurgaans duursame pype met ’n gladde binnekant wat die korrosie-effek van onkruiddoders kan weerstaan. Ondersoek pype gereeld en vervang indien nodig.

Spuitpunte

Die spuitpunt beheer die hoeveelheid spuitstof wat toegedien word en ook die deeglikheid waarmee die oppervlak of teiken benat word.

Spuitpuntslytasie

Namate spuitpunte slyt, vermeerder die toedieningsvolume en verander die spuitpatroon. Toetse het getoon dat sommige benatbare poeiers geelkoperspuitpunte so kan laat slyt dat die volume met soveel as 24% kan toeneem nadat 500 ha bespuit is. Gereelde kalibrasie en vervanging by hierdie tipe spuitpunte is uiters noodsaaklik.

Gebruik die regte spuitpunt vir ’n bepaalde toepassing.

Spuitpuntversorging

Bo en behalwe normale slytasie van spuitpunte deur die spuitmengsel, kan die spuitpatroon en lewering van spuitpunte versteur word deur beskadiging van die spuitpuntopening. Beskadiging kom gewoonlik voor wanneer ’n harde voorwerp soos ’n naald of draad gebruik word om die spuit-opening na verstopping oop te maak.

In geen omstandighede moet daar met harde voorwerpe in die spuitopening gekrap word nie. Gebruik eerder ’n tandeborsel of tandestokkies om die presies-gevormde opening van die spuitpunt skoon te maak.  ’n Goeie spuit is onmisbaar in suksesvolle gewasboerdery. Waar boere al hoe meer na geenbewerking kyk, is ’n goeie spuit deurslaggewend vir die suksesvolle inwerkingstelling van die metode. In ons volgende aflewering kyk ons na die verskillende spuitpuntsoorte en vergelyk die koste van selfaangedrewe, sleep- en driepuntspuite.

’n Goeie roerder in die mengtenk is
noodsaaklik.

Kontak hom gerus by 082-828-9531 of stuur ‘n e-pos na koosleroux@live.co.za

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0