Categories: NuusPublished On: 20th October 2025

Bek- en Klouseer brei uit in die Vrystaat: Waaksaamheid nou krities

By 2 min read
381 words

bek en klou

Die Departement van Landbou het Vrydag 17 Oktober, tydens ‘n Gesamentlike Operasionele komitee-vergadering (JOC) oor Bek-en-klouseer, bevestig dat Sasolburg as ’n nuwe Bek- en Klouseer (BKS) gebied verklaar is, terwyl die Viljoenskroon/Vredefort-gebied nou ook ’n geval in Parys aangemeld het. In Kroonstad wag die uitslag van ’n verdagte geval, terwyl verskeie ander reeds negatief getoets het. Die tweede rondte van inentings behoort volgende week in sekere gebiede afgehandel te wees.

Volgens die jongste terugvoer wag abattoirs in die betrokke gebiede op goedkeuring om weer met uitslag te begin. ’n Plaas se kwarantyn kan eers ses weke ná volledige uitslag en ontsmetting opgehef word — soos onlangs in Deneysville die geval was.

Sedert die 2022-uitbraak en die huidige toename in gevalle, is duisende dosisse entstof reeds in die Vrystaat toegedien. Die Departement het bevestig dat geen newe-effekte van die entstof tot dusver aangemeld is nie.
Vrystaat Landbou se vise-president, Friedl von Maltitz, het die vergadering daaraan herinner dat VL reeds verlede jaar voorgestel het dat vee wat oor provinsiale grense vervoer word, slegs met ’n veeartspermit en nie bloot met ’n eienaarsverklaring geskuif mag word nie. Die Departement het kennis geneem van die voorstel, maar wys daarop dat die tekort aan staatsveeartse die implementering daarvan tans bemoeilik, veral in kombinasie met die inentingsproses.

Die Viljoenskroon-gebied bly die ergste geraak, met 25 bevestigde gevalle en nog 15 moontlike wat in die rigting van Vredefort versprei. Gebiede waar nuwe gevalle aangemeld word, toon dat boere hul pligte nakom deur vinnig aan te meld, wat help om verspreiding onder beheer te bring.

“Boere wat nie die simptome van Bek- en Klouseer betyds aanmeld nie, stel die opheffing van kwarantyn ernstig in gevaar en verhoog die risiko van verdere besmetting,” sê Von Maltitz.

Hy beklemtoon dat boere daagliks hul vee moet monitor en onmiddellik enige moontlike tekens van BKS moet rapporteer.

“As ’n boer vermoed ’n dier is besmet, kan hy eenvoudig ’n foto of video aan sy plaaslike veearts of dieregesondheidstegnikus stuur,” verduidelik Von Maltitz. “Op dié manier beskerm ons kritiese mannekrag en help elke boer om die Vrystaatse veesektor te beskerm.”

Vrystaat Landbou doen ’n ernstige beroep op alle boere om waaksaam te bly en volledig saam te werk met die Departement van Landbou in die poging om die uitbreking te beheer en verdere verspreiding te voorkom.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0