Categories: Stock and game farmingPublished On: 11th October 2016

Beefmasters is meer as mooiweersbeeste

By 3 min read
544 words
beefmasters

beefmasters-feature

Beefmasters word as ’n sintetiese of saamgestelde ras beskou, maar hierdie slimgeteelde diere is allesbehalwe kunsmatig of aanmekaargeflans. Na baie jare se navorsing en teling met die beste genetika van drie uitsonderlike rasse is die Beefmaster in die 1940’s in die Suide van Texas gebore.

In hierdie moderne ras vloei daar 50% Brahman-, 25% Hereford- en 25% Korthoringbloed. In 1987 is die Beefmaster in Suid-Afrika geregistreer en vanweë die aantal telers wat deurlopend na Beefmasters oorskakel, wink daar ’n uitstekende toekoms op hierdie ras.

Bill Pendergrass, die uitvoerende onderpresident van Beefmasters Breeders United in Amerika, en Gary Frenzel, ’n genetikaverskaffer (‘seed stock producer’) wat die afgelope 35 jaar met Beefmasters in Texas teel en semen en embrio’s verkoop, was onlangs in Suid-Afrika. Hulle is deur die Amerikaanse regering geborg om na ons genetika te kom kyk en met samewerkingsvoorstelle vorendag te kom. Connie van Vuuren, president van die Beefmaster-beestelersgenootskap, was hulle gasheer en hy het hulle na verskeie Beefmastertelers en -veilings in die land geneem. Die Amerikaners was baie beïndruk met die vordering wat ons met hulle ras maak.

“Die algemene gehalte van die Beefmasters in Suid-Afrika is regtig baie goed,” sê Bill. “Die meeste van die diere wat ons gesien het sal maklik in die VSA aanvaar word. Ek het gesien dat die Suid-Afrikaanse boere mooi op die struktuur en dikte van bespiering fokus, wat goed sal voldoen aan die vleisbemarkingstandaarde in die VSA. Ons is ook baie beïndruk met die telers se nougesetheid om data te versamel en dit aan SA Stamboek te verskaf vir genetiese evaluering.”

Gary Frenzer het ons boere ook gelukgewens en was baie tevrede met sy Suid-Afrikaanse Beefmaster-ondervinding. “Die hoofrede hoekom ons gekom het, was om ’n konferensie met die Beefmaster Beestelersgenootskap en SA Stamboek te hou sodat ons mekaar se genetiese data kan uitruil. Julle versamel baie inligting wat ons nie doen nie en vice versa. Ons wil in die toekoms ook saam met julle navorsing doen wat nie net almal van ons sal bevoordeel nie, maar ook die Beefmaster-ras wêreldwyd,” sê Gary.

Net na die Amerikaners weg is het Connie, wat saam met sy skoonpa, Peet snr, en swaer, Petie, die bekende Petana Beefmasterstoet besit, hulle jaarlikse veiling op Wolmaransstad gehou. André Kock en Seuns van Vryburg het die veiling aangebied en Theuns Visser was die afslaer. Petana het weer uitstekende genetika en goed afgeronde diere aangebied en alhoewel die droogte se hand swaar op die boere se beursies druk, kon hulle al hulle diere verkoop. Die veilingsgemiddeld was ’n skaflike R32 560 en die duurste bul is vir R75 000 verkoop. Oom Peet het na die veiling ’n baie bemoedigende boodskap uitgestuur: “Kêrels, byt vas. Dit is baie droog in ons onmiddellike omgewing en op baie plekke regoor die land. Dit gaan nou moeilik daar buite. Die mense het nie geld nie, maar wat ons troos, is dat ons die beste ras in die wêreld het. As ons op die bestaande manier voortbou, sal ons kan kos produseer vir ons mense.”

beefmasters

Tiny Smith van ProAgri, Gary Frenzel, Connie van Vuuren en Bill Pendergrass het baie gehad om oor te gesels tydens die Amerikaners se besoek.

beefmasters

Die duurste bul op Petana Beefmasters se veiling is vir R75 000 verkoop en die gemiddelde prys vir die bulle was R32 560.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0