Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 6th June 2025

Auto Commodities: Sake soos in die ou dae met ‘n moderne draai

By 3 min read
621 words

daan Sr Daan Jr Riaan Andre

Daan Joubert (sr), Daan Joubert (jr), Riaan Joubert en André Joubert is die bestuur van Auto Commodities en Payloads.

Vir meer as 30 jaar is Auto Commodities reeds ‘n betroubare brandstofverskaffer aan brandstofherverkopers, logistieke en vervoermaatskappye asook die landbou-, konstruksie- en mynbedryf.

Met die waarborg van hulle Shell-produkte agter hulle naam het hierdie maatskappy deur die jare net meer en meer suskes behaal.

Die ontstaan van Auto Commodities

In 1994 was Daan Joubert (sr) reeds die eienaar van ‘n vervoermaatskappy genaamd Payloads. Hulle het gebruik gemaak van die plaaslike Shell-brandstofdepot om hulle vragmotors van brandstof te voorsien.

Toe die Shell-depot in Krugersdorp egter toemaak het hulle die depot vir Daan aangebied. Sonder om enigiets van brandstof bestuur te weet, het Daan die depot oorgekoop met die belofte dat hy steeds Shell se produkte sou versprei.

“Dit was ‘n handskud en ‘n betaling, soos saketransaksies in die oud dae maar beklink is, en vandag leef ons maatskappy steeds voort op daardie handskud,” vertel André Joubert wat saam met sy pa, Daan, een van die direkteure van Auto Commodities is.

‘n Produk wat jy kan vertrou

In 2013 het Shell die ‘Shell branded distribution programme’ geloods om uitgekose klante geakkrediteerde verskaffers van Shell te maak. Auto Commodities was een van hierdie klante, en daarom kan jy maar weet wanneer jy by hulle koop, kry jy die ware Jakob.

Auto Commodities kan jou voorsien van diesel, petrol, paraffien en smeermiddels. Alhoewel hulle depot in Krugersdorp is, lewer hulle produkte regoor die land af en voorsien herverkopers en eindverbruikers van sleuteloplossings.

Payloads

Die verhaal van Payloads gaan wel baie verder terug as dié van Auto Commodities. Die vervoermaatskappy is reeds in 1981 gestig. Aanvanklik het Daan as ‘n subkontrakteur vir die oorspronklike Payloads-eienaar gewerk, en hy het die saak in 1985 oorgekoop.

Hierdie gedeelte van die familiesaak word deur die oudste en jongste Joubert-broers, Daan (jr) en Riaan, behartig.

Vandag spog Payloads met ‘n vloot van 55 voertuie wat hoofsaaklik chroom- en mangaanerts vervoer vir die mynbedryf. Payloads onderhou en bestuur ook ‘n vloot van 10 tenkwavragmotors namens Auto Commodities.

Een van die maatskappy se mees noemenswaardige prestasies is die ontwerp van die kantelbak-tenkwakonsep wat vaste stowwe en vloeistowwe op een enkele sleepwa kombineer.

Die Auto Commodities-depot in Krugersdorp waar vragmotors, onder meer Payloads-vragmotors, brandstof kry.

‘n Familie wat saamstaan

By Auto Commodities en Payloads is jy nie bloot ‘n werker nie; jy is deel van die familie. Behalwe vir die Joubert-broers wat hierdie twee sake met dieselfde toewyding as hulle pa bestuur, glo hulle ook daarin om hulle personeel, klante en verskaffers met die respek te behandel wat ‘n familielid sal kry.

André vertel ook dat baie van hulle personeel uit gesinslede bestaan, hetsy ‘n vrou en haar man of ‘n pa en sy seun.

“Die mense wat hier werk bly hier vir jare,” vertel hy trots.

Die RFA en die vragmotorbedryf

Daan (sr) het ook vir jare in die raad van die Padvragvereniging (Road Freight Association) gedien en is steeds nou betrokke by die organisasie.

Die Padvragvereniging (RFA) is die grootste en mees omvattende nasionale handelsvereniging vir die vragmotorbedryf. Die Padvragvereniging het ‘n invloed oor die heffings van owerhede, die instandhouding van padinfrastruktuur, padveiligheid, vragsekerheid, bestuurdersbelange, onderwys, gesondheid, die brandstofprys, wetstoepassing, arbeidsverhoudinge en vele ander kwessies wat verband hou met padvragvervoer.

Daan en nou sy kinders glo vas in die werk wat die RFA doen, nie net om die vragmotorbedryf te bevorder nie, maar ook vir die veiligheid van hulle eie personeel en ander vragmotorbestuurders.

Wat hou die toekoms in?

André vertel dat hy nie juis al hulle geheime vir die toekoms van Auto Commodities kan verklap nie, maar dat hulle wel planne het om hulle produkreeks in die groep te vergroot. Alhoewel die planne in die pyplyn is, is sy groot hoop vir die toekoms maar net vir die volgehoue sukses van sowel Auto Commodities as Payloads.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0