Alida Botma word gesien en gehoor by Senwes
“As jy ingelig is oor iets, kan niemand jou kommentaar afmaak as ontoepaslik nie,” sê Alida Botma, administreerder van Agrifriend, Senwes se onderdelebeen. Alida is al 25 jaar lank ‘n staatmaker by Senwes, eers by graanverhandeling en -bemarking en die afgelope twee jaar as deel van die toerustingspan. Sy glo dat kundigheid die verskil maak om jou stem te laat hoor.
Alida sê vroue moenie geintimideer voel om hulle menings te lug en hulle stemme te laat hoor nie, maar dit moet ‘n ingeligte mening wees.
Haar raad aan vroue in die beroepswêreld is om nuuskierig te wees en die regte vrae te vra. “Leer soveel jy kan en vra as jy nie weet nie. Woon werksessies by oor fasette van die onderneming. In ons geval, gaan na boeredae waar jy self met die rolspelers tyd kan bestee en kennis kan opdoen.”
Sy meen vroue is van nature baie veelsydig en goeie kommunikeerders, maar hulle moet ook leer om netwerkskakeling te doen. “Wie jy ken, is dikwels net so belangrik soos wie jy is!”
Alida het as jong meisie by Senwes begin werk in die graandafdeling waar sy haarself so goed onderskei het dat sy later haar eie handelaarskode bekom het om op Safex te verhandel. In 2013 is TradeVantage binne die Senwes Groep gestig. Sy was deel van dié span wat onafhanklik van die graanbemarkingsafdeling gefunksioneer het.
Twee jaar gelede het sy die geleentheid om deel te word van die toerustingspan aangegryp. Sy bied administratiewe ondersteuning aan die onderdelebestuurders en hulle personeel. Haar uitdaging is om administratiewe prosesse te vergemaklik en om te sorg dat kommunikasiekanale in die afdeling duidelik is en oop bly.
Sy sê dit was vir haar ‘n groot voorreg om saam met ‘n dinamiese landboumaatskappy te groei tussen al die verskillende mense, stelsels en deur ekonomiese veranderings.
Nog ‘n voordeel van die maatskappy is dat vroue aangemoedig word om te presteer. “Daar word geen uitsonderings gemaak wat ‘n vrou ongemaklik of minderwaardig laat voel nie. Al my manlike kollegas respekteer ons as vroue.”
Sy glo daar is wel sektore in die landboubedryf wat nog nie heeltemal die kopskuif gemaak het oor die rol van vroue nie, maar dit is besig om te verander en dit behoort aan vroue die motivering te gee om te bewys dat boerdery nie meer net ‘n manswêreld is nie.
Alida is baie lief vir mense en dit maak haar gelukkig om ander gelukkig te maak: “Daar is soveel om voor dankbaar te wees as ‘n mens rondom jou kyk. Om iemand ‘n pluimpie te gee of moed in te praat. Om ‘n grappie te kan maak en te kan lag. Om te weet ek het ‘n verskil in iemand se dag met my woorde gemaak. Dit maak alles die moeite werd.”
Natuurlik is die beroepslewe nie sonder uitdagings nie. Veral nie met twee tienerdogters nie!
Alida sê: “Daar is ongelukkig geen wonderkuur wat jy vinnig kan sluk om soms meer positief of in beheer te voel nie. As die ma van twee tienerdogters gaan dit nogal rof en dit voel partykeer of jy tien balle gelyk in die lug moet hou. Dank Vader vir ‘n baie ondersteunende man wat kalm bly deur sulke tye. Gebed, geloof en dankbaarheid speel ook ‘n groot rol.”
Landbou is ‘n sentrale en belangrike deel van Alida se lewe. Landbou beteken vir haar hoop, geloof en liefde. Dit gaan oor versorging, werkskepping en groei.
Sy is baie opgewonde en optimisties oor die bedryf en al die ontwikkelings en vernuwings wat aan die gang is.
Wat sy wil nalaat is: “Die wete dat ek deel was van ‘n besonderse bedryf. Dat ek hard gewerk het en deel was van die groei en bevordering van landbou. Dat ek ‘n verskil in iemand se lewe gemaak het met my kleurvolle persoonlikheid.”