Agter die skerms: Hoe die Agrico-span ’n spilpunt oprig

IMG_5136
Vir ’n boer is die besluit om ’n nuwe spilpunt op te rig nie sommer net nog ’n belegging nie. Dit is ’n stap wat sy hele boerdery kan verander. By Agrico begin die proses lank voor enige staal op die plaas afgelewer word. Elke stap, van ontwerp tot oprigting, word deurdink en bestuur sodat boere met vertroue kan besproei.
“Ons beplan van dag een af saam met die boer,” sê Theo van Staden van Agrico se Nylstroom-tak.
Van bestelling tot ontwerp
“Die proses begin altyd by die boer,” sê Theo. “Wanneer hy besluit om ’n Agrico-spilpunt op te sit, kontak hy sy naaste tak en bespreek die stelsel met ’n ontwerper. Die ontwerper neem nie net die boer se behoeftes in ag nie, maar ondersoek ook die beskikbare waterbronne en kragbronne. Op grond hiervan ontwerp Agrico ’n besproeiingstelsel wat optimaal sal werk in die spesifieke situasie.”
As die ontwerp klaar is, moet Agrico die senter uitpen voordat konstruksie kan begin. Dan is dit die boer se beurt.
“Ons meet dit eers presies uit, en die boer moet intussen ’n sementblad voorberei waarop die spilpunt se middelpunt kan staan. Dit verseker dat alles reg opgestel word en die torings stabiel en waterpas is.”
Die oprigting van die spilpunt
Theo verduidelik dat die fisieke konstruksie van die spilpunt ’n gedetailleerde maar redelik vinnige proses is. Hoewel daar teoreties ’n toring per dag gebou kan word, werk die proses nie op dié manier nie.
Wanneer die span met ’n vragmotor op die plaas opdaag, word die hele spilpunt op die grond uitgepak en soveel as moontlik daarvan aanmekaar gesit. Daarna word die spilpunt van een kant af met ’n kraantrok opgetel.
“Ons sê dat ons die spilpunt ‘buig’,” verduidelik Theo. “Eers daarna word die spilpunt opgetel, die bene en wiele in plek gesit, en die oorhang gebou. Heel laaste haak ons die eerste toring aan die senter.”
Die proses word goed georkestreer sodat die stelsel so vinnig en effektief moontlik opgestel kan word. Sodra die struktuur staan, stuur Agrico ’n tegnikus om te verseker dat die bedrading korrek geïnstalleer word. Laastens word die voltooide spilpunt onder druk gesit om dit te toets – met die Agrico-span byderhand om enige foutjies reg te stel sodat die stelsel perfek kan funksioneer.
Noodsaaklikheid van tegniese kennis en beplanning
Volgens Theo is die sleutel tot sukses nie net die gehalte van die produk nie, maar ook deeglike voorbereiding en beplanning. “Elke stelsel word ontwerp vir die spesifieke plaas, en is pasgemaak volgens die beskikbare water en energie sowel as die boer se doelwitte. Ons werk saam met die boer vanaf die begin tot die einde van die projek om te verseker dat die stelsel nie net funksioneel is nie, maar ook winsgewend en betroubaar.”
Hierdie benadering oorkom die werklikheid van afgeleë areas, waar lang afstande, beperkte elektrisiteit en water en beperkte voorraad ’n realiteit is.
Voorraad en vinnige reaksie
Vir goeie naverkopediens is min dinge so belangrik as die nodige voorraad en ekstra onderdele by Agrico se takke. Theo vertel dat die Nylstroom-tak ’n totaal van 14 torings se onderdele in voorraad het.
“Dit beteken dat ons vinnig kan reageer, vanaf die versending van ’n enkele onderdeel tot die oprigting van ’n hele spilpunt, sonder enige oponthoud. Dit is ’n groot voordeel vir boere wat in afgeleë gebiede boer en nie die tyd het om te wag nie.”
Hierdie vinnige reaksie is veral belangrik in noodgevalle. Theo noem ’n voorbeeld: “Ons het ’n oproep om nege-uur in die oggend ontvang van ’n boer in Botswana wat sy spilpunt per ongeluk met ’n trekker getref het.
“Dieselfde middag was ons span reeds op pad oor die grens met die vragmotor om die herstelwerk aan te pak. Dit wys hoe ons die boere se produksie beskou as ’n prioriteit en hoe toegewyd ons aan vinnige nooddienste is.”
Die waarde van in-huis vervaardiging
Die gehalte van die galvanisering is ’n kernaspek van enige spilpunt se betroubaarheid. Alle Agrico-pype word intern gegalvaniseer en gewaarborg om minstens ’n 100-mikron sinklaag te hê. Dit beteken dat die pype van ’n Agrico-spilpunt minstens 1,4 keer so lank sal hou as pype wat volgens bedryfstandaarde gegalvaniseer is.
“Ons is die enigste spilpunt-maatskappy in die land wat staal in-huis galvaniseer. Dit gee ons volle beheer oor die gehalte van die versinking. Hierdie beheer oor die kwaliteit beteken dat die spilpunte langer hou en minder onderhoud benodig. Boere kan seker wees dat hulle ’n stabiele en langlewende stelsel kry wat selfs ekstreme klimaat- en terreinuitdagings sal oorleef.”
‘Vinnig, doeltreffend en betroubaar’
Agrico se waarde vir boere nie net lê by die produkte self nie, maar ook by die diens en toegewydheid wat daarmee saam gaan. Vir boere in afgeleë areas bied Agrico nie net masjinerie nie, maar ’n vennootskap wat hul bedrywighede stabiel en winsgewend maak.
“Ons wil hê boere moet weet dat wanneer hulle ’n stelsel bestel, hulle nie net ’n stuk masjinerie kry nie, maar ook ’n span wat agter hulle staan: vinnig, doeltreffend en betroubaar,” sê Theo.
Kyk die video vir meer inligting:
Besoek Agrico se webwerf vir meer inligting.