Categories: NuusPublished On: 13th August 2025

AgriSA waarsku teen risiko’s van Wysigingswetsontwerp op Minerale Hulpbronne

By 2 min read
344 words

open-pit-mining-920200_1920

Source: Pixabay

AgriSA spreek ernstige kommer uit oor die Konsepwysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne (2025), wat in Mei 2025 vir openbare kommentaar deur die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne gepubliseer is.

Terwyl die wetsontwerp voorgee om regulering meer vaartbelyn te maak en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling te bevorder, hou die huidige vorm daarvan beduidende risiko’s vir Suid-Afrika se landbousektor, voedselsekerheid en landelike volhoubaarheid in.

Die wetsontwerp stel bepalings in wat ambagsmyners en kleinskaalse mynboubedrywighede (ASM) toegang tot private landbougrond sal toelaat sonder enige leiding oor hoe betekenisvolle konsultasie moet plaasvind of oor vergoedingsvereistes. Dit ondermyn grondwetlik beskermde eiendomsreg en bedreig die lewensvatbaarheid van boerderybedrywighede, veral in hoëpotensiaal-landbousones.

Die afwesigheid van kumulatiewe omgewingsimpakbeoordelings en afdwingbare rehabilitasiewaarborge stel grondeienaars verder bloot aan langtermyn-agteruitgang sonder herstelgeleenthede.

AgriSA is diep bekommerd dat die wetsontwerp nie aan ‘n Sosio-Ekonomiese Impakstudie (SEIA) onderwerp is nie, soos deur die kabinetsbeleid vereis word. As so ‘n assessering gedoen is, sou die risiko’s vir voedselproduksie, watergehalte en landelike lewensbestaan duidelik gewees het.

Buiten die wetsontwerp bly die breër verhouding tussen mynbou en landbou gespanne. Gefragmenteerde toelatingsregimes, ondeursigtige konsultasieprosesse en swak afdwingings-meganismes erodeer steeds vertroue en kompromitteer grondgebruikbeplanning. Mynbou-aktiwiteite ontwrig dikwels besproeiingsinfrastruktuur, besoedel waterbronne en laat ongerehabiliteerde grond agter, waardeur beide huidige en toekomstige landbouproduktiwiteit in gevaar gestel word.

AgriSA doen ‘n beroep op die regering om:

•die huidige wetsontwerp terug te trek en dit aan ‘n volledige SEIA te onderwerp;
•bindende toestemming van grondeienaars vir mynbou in te stel op gesoneerde landbougrond;
•mynbouwetgewing met die Wet op die Bewaring en Ontwikkeling van Landbougrond (PDALA) te laat ooreenstem;
•’n enkelbaan-toelatingstelsel te vestig wat geïntegreerde grondgebruik betref; en
•kumulatiewe omgewings- en waterimpakbeoordelings vir alle mynbouaktiwiteite af te dwing.

Suid-Afrika se toekoms hang af van ‘n gebalanseerde benadering tot hulpbronontwikkeling, wat die regte van boere respekteer, die omgewing beskerm en langtermynvoedselsekerheid verseker. AgriSA bly daartoe verbind om die belange van boere te verseker en doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om die belangrikheid van ‘n behoorlik gereguleerde, deursigtige en volhoubare mynbedryf wat behoorlik saam met landbou kan bestaan van die regering te eis.

Bron: Agri SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0