Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 22nd March 2024

Agri Skills Transfer plant landbou in hulle studente se harte

By 5 min read
942 words

DSC_6069

Op Agri Skills Transfer se plaas by Cullinan kan studente praktiese ervaring opdoen.

Agri Skills Transfer se mense glo dat landbou die toekoms is. Hier kry jy meer as net ‘n sertifikaat of diploma. Jy kry waardevolle boerdery-ondervinding en die vaardighede om nie net te boer nie, maar ook jou boerdery suksesvol te bestuur.

Leer is nie net vir jong boere nie en Agri Skills Transfer bied kursusse aan vir oud en jonk. Van kortkursusse en merietediplomas tot vaardigheidsopknappingskursusse word aangebied. Shaun Welmans, Agri Skills Transfer se hoofuitvoerende beampte vertel dat al hulle akkreditasies by AgriSETA geregistreer is.

By hulle doen jy nie net teorie nie maar hulle maak ook voorsiening vir die praktiese gedeelte van boerdery.

Agri Skills Transfer het hulle eie plaas net buite Cullinan. Vyftig studente bly voltyds op die plaas en studeer. Die plaas word ook gebruk vir praktiese opleiding vir hulle kortkursusse. Hulle het ook ‘n kampus in Groenkloof vir teoretiese aanbiedings van kortkursusse voor die studente plaas toe gaan. Soms besoek die studente ook ander bedryfsleiers se plase vir praktiese opleiding.

Afstandsonderwys

 “Baie mense stel belang om die akkreditasie te bekom maar dan het hulle nie die geriewe om die praktiese deel te voltooi nie. So ons het toe die plaas ingerig,” verduidelik Shaun.

Indien jy klaar self boer en nie tot by die kampus kan kom nie, bied Agri Skills Transfer ook afstandsonderwys.

Hy vertel dat ‘n mens altyd die mark daar buite in sig moet hou en nie vergeet van die mense wat reeds in die bedryf is nie. Daar is boere wat elke dag op hulle plase doenig is, maar graag meer wil leer by kenners en ‘n formele kwalifikasie bekom. Dit is waar afstandsonderrig van groot waarde is.

“Dit is perfek vir mense wat klaar in die bedryf is, maar graag die papierwerk ook wil kry.”

Die praktiese gedeelte van hulle afstandsonderrig word gemeet aan die tyd wat die boer in die praktyk spandeer. Wanneer dit plant- of oesseisoen is kom daardie ure in aanmerking vir die student se prakties. Die studente doen ook praktiese assesserings, soos die uitleg van die plaas en die beplanning van die boerdery se dag-tot-dag bestuur.

Shaun vertel dat waardetoevoeging vir hulle baie belangrik is; nie net die waarde wat hulle studente tot die landbou kan voeg nie maar ook die waarde wat hulle aan hulle studente bied. Daarom is hulle deurentyd besig om hulle studiemetodes en kursusse op te knap en nuwe dinge in te bring.

Vir sekere kortkursusse doen die studente prakties op bedryfsleiers se plase soos hier by Kleinskuur Aquaponics.

Kortkursusse

 Een van die behoeftes wat hulle opgelet het was vir kortkursusse.

“Ons het agtergekom dat baie mense belangstel om kortkursusse te doen. Veral onder die hoender- en varkboere is daar baie boere wat met geen kennis begin het nie en staat gemaak het op raad vanuit hulle gemeenskap. Ons het vir hulle gesê; hier is ‘n manier hoe jy die uitdagings van jou boerdery beter kan verstaan. Dit het goeie aftrek gekry want nou het die boer sy handboek.”

Hulle kortkursusse handel ook oor die bemarking en finansiële beplanning in die boerdery. Shaun vertel dat hulle gevind het dat mense wat die boerdery betree fantasties produseer maar dan sukkel wanneer dit kom by die verkope. Hulle kursusse sluit inligting in soos die waarde van verpakking, die kouewaardeketting en praktiese maniere om jou produk aantreklik te maak vir die mark en hoe om waarde toe te voeg.

Die nuutste kortkursus wat in April vir die eerste keer aangebied word gaan oor akwaponika, Introduction to Aquaponics, wat deur leiers in die bedryf aangebied word. Meer inligting is hier beskikbaar: https://agriskills.net/aquaponics/

By Agri Skills Transfer kry jy nie net teoretiese opleiding nie maar prakties ook

Opknappingsvaardighede

 Of jy nou al jare in die bedryf is of as nuweling die bedryf wil betree, Agri Skills Transfer het die kursus vir jou. Ook as jy jare gelede geboer het en net op hoogte van sake wil kom voor jy weer begin boer kan Agri Skills Transfer jou help met ‘n opknappingskursus.

Shaun verduidelik dat hulle saam met ondernemings werk om personeel wat aftree se vaardighede op te knap.

“Dikwels, wanneer ‘n persoon aftree het hy ‘n stukkie grond met ‘n paar beeste of skape wat daar loop. So ‘n persoon kan ‘n kursus of twee doen om die nodige vaardighede en kennis te verkry om na sy aftrede ‘n nuwe onderneming te begin of ‘n reeds bestaande onderneming uit te brei,” sê Shaun.

Hierdie kursusse word ook aangebied met die ondersteuning van myngroepe waar die gemeenskap vir jare afhanklik was van die inkomste van die myne. Wanneer die myn  uitgewerk is en tot niet gaan kan die gemeenskap voortgaan deur boerderye op die been te bring. Die boerderye kan selfs begin terwyl die myn nog operasioneel is.

Agri Skills Transfer doen ook hierdie kursusse en kort kursusse by skole. Dit is veral gewild by skole waar ambagte aangebied word en skole waar daar kinders met leerprobleme is.

“Ons gaan een keer ‘n jaar met ons mobiele eenheid uit en dan leer ons die kinders byvoorbeeld hoe om met beeste te werk,” vertel Shaun.

Hy verduidelik dat daardie kinders nie altyd die geleentheid het om ‘n loopbaan te volg nie, maar landbou kan vir hulle ‘n toekoms bied.

“Ons hart is landbou, ons sê altyd landbou is ‘n bedryf wat jou kan liefhê en jou kan omhels … of dit gaan jou uitspoeg as jy nie die regte vaardighede het nie. As jy dit liefhet gaan dit jou terug liefhê? Ons is lief vir landbou, ons wil vir nog 20 en 200 jaar in landbou wees.”

Gaan kyk wat Agri Skills Transfer het om jou te bied by https://agriskills.net/.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0