Agri Securitas help honderde boere en plaaswerkers

Agri SA logo Kleur NUWE
Die Agri Securitas Trustfonds het onlangs minstens 500 boere en byna 3 000 plaaswerkers teen landelike misdaad in Mpumalanga, Noordwes, Noord- en Oos-Kaap beskerm.
Die Trustfonds het aan verskeie boereverenigings finansiële bydraes gemaak, wat onder meer vir gevorderde kamerastelsels wat toegangsgebiede monitor en die vestiging van kommunikasie-infrastruktuur gebruik is.
- Die Agri Excelsior, Agri Louwna en Agri Pretoriuskop boereverenigings in Noordwes, die Berg landbouvereniging in die Noord-Kaap en die Aliwal-Noord boerevereniging in die Oos-Kaap het kamerastelsels ontplooi om ‘n permanente observasievermoë te vestig.
- Agri Delareyville in Noordwes en Upper-Cathcart boerevereniging in die Oos-Kaap het kommunikasie-infrastruktuur vir beter kommunikasie in noodgevalle gevestig.
- Die Adelaide boerevereniging en Graaff-Reinet Wolkwekersvereniging in die Oos-Kaap en Agri Piet Retief in Mpumalanga het fondse ontvang om veiligheidstoerusting aan te koop.
Die Agri Securitas Trustfonds is in 1999 gestig.
“Die beskerming van ons plaasgemeenskappe binne ‘n wettelose omgewing en met ‘n toename in geweld en misdadigheid bly ‘n uitdaging. Die Trustfonds bly egter verbind daartoe om ten spyte van beperkte hulpbronne voort te gaan om ‘n bydrae tot plaasveiligheid te maak,” sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds. “Misdaad op plase hou nie net ‘n bedreiging in vir landelike stabiliteit nie, maar ook vir voedselsekerheid en vir nasionale stabiliteit. Daarom moet die boerderygemeenskap as ‘n nasionale bate beskerm word.”
In ‘n onlangse opname deur Agri SA, oor die omvang van landelike misdaad, het die opname getoon dat die boerderygemeenskap in 2017, R1,9 miljard aan beveiliging spandeer het.
“Die Trustfonds sal voortgaan, om met die ondersteuning van die privaatsektor, ‘n bydrae tot die beskerming van die boerderygemeenskap te maak,” sê Grobler.
Bron: Agri Securitas Trustfonds