Agri SA doen beroep op regering om droogtehulp te verleen

agri-sa-logo-kleur-nuwe
Boere in sekere dele van Suid-Afrika sukkel om die huidige seisoen te oorleef en Agri SA is besorg oor hulle lewensvatbaarheid op die pad vorentoe. Agri SA het sy bes gedoen om behoeftige boere landwyd van noodhulp in die vorm van vee- en kuilvoer te voorsien.
“Dit is nou tyd vir die regering om in te gryp met hulpverlening aan kommersiële en kleinskaalse boere,” sê Johannes Möller, president van Agri SA. “As boerederysektor en as landburgers, belastingbetalers en bydraers tot die ekonomie, verteenwoordig ons ‘n belangrike belastingbasis. Dit is skandelik dat die kommersiële landbou- en opkomende boeresektore geen hulp van die regering ontvang het nie. Tot dusver het ons geen sent van die regering ontvang nie,” aldus Omri van Zyl, hoofuitvoerende beampte van Agri SA. Dit blyk dat die regering nie toegerus is om rampe van hierdie omvang te hanteer nie; verder is dit kommerwekkend dat die veiligheidsnet vir Suid-Afrikaners sodanig verswak het dat hulpverlening nie moontlik is nie,” sê Omri.
Johannes meld dat, in teenstelling hiermee “het die Tesourie onlangs staatswaarborge ter waarde van nagenoeg R14,4-miljard, met ‘n verdere R5-miljard, goedgekeur vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA). Eskom sit met staatswaarborge van tot op sy limiet van R466-miljard.
Die landbousektor se omset is nagenoeg R227-miljard per jaar, met ‘n netto-belastingbydrae van ongeveer R50-miljard deur die primêre landbousektor alleen oor die afgelope 10 jaar. Ons bied werk aan meer as 850 000 mense in die sektor en is die enigste voedselseker-land in sub-Sahara-Afrika. “Hoe beskerm jy hierdie bate in tye van ernstige nood? Jy help hulle,” sê Omri.
Agri SA het die regering versoek om noodhulp aan boere te verleen, in die vorm van óf staatswaarborge óf direkte hulp, via die strukture van die Landbank, agribesighede of spesiale-doel voertuie. “Enige hulp word verwelkom,” volgens Omri.
’n Droogte is nie ‘n een-jaar verskynsel nie, kontantvloei en produksiekrediet-aangeleenthede sal met ons wees vir die volgende twee tot drie jaar,” sê Omri. Ons het ons eie fonds gestig en sal voortgaan om boere in nood by te staan, maar dit behels slegs ‘n druppel in die maatemmer van wat benodig word. Johannes meld dat Agri SA tans kyk na ‘n langtermyn-rampfonds vir boere. Agri SA kan dit nie alleen doen nie en sal finansiële hulp vanaf die Tesourie, asook ander staatsentiteite, die privaatsektor en enige ander oord benodig.
Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat: Korporatiewe Skakeling