Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 7th March 2025

AGCO en JWL Landbou maak geskiedenis in Middelburg

By 8 min read
1613 words

IMG_1151

Goeie nuus vir boere in die omgewing van Middelburg is dat JWL Landbou, ՚n toonaangewende verspreider van landboutoerusting, in Februarie 2025 sy splinternuwe handelstak in Middelburg oopgemaak het. Hierdie uitbreiding is ՚n belangrike mylpaal in die maatskappy se strewe om boere regoor die streek beter te bedien met wêreldklas toerusting en diens.

Die nuwe tak bied ՚n uitgebreide reeks produkte, die volledige JWLprodukreeks, insluitend AGCO se gewilde Massey Ferguson- en Fendt-trekkers en toerusting wat bekend is vir hulle doeltreffendheid, betroubaarheid en gevorderde tegnologie. Met hierdie stap versterk JWL sy teenwoordigheid nie net in die streek nie, maar ook in die landbousektor, wat gehalte-oplossings nog nader aan plaaslike boere bring.

՚n Mylpaal in JWL se geskiedenis

Werner Nel, besturende direkteur van JWL Landbou, beskou die opening van die Middelburg-handelstak
as ՚n mylpaal in die maatskappy se geskiedenis. Hy sê: “Massey Ferguson was al vir ՚n geruime tyd afwesig in die Middelburg-omgewing, en ons het vanuit ons Ermelo-tak die omgewing bedien. Maar ՚n mens kan nie die volle potensiaal van hierdie omgewing ontwikkel as jy nie hier plaaslik ՚n tak gevestig het nie. Ons het dit daarom goedgedink om nader aan die boere te beweeg en hier ՚n volwaardige tak oop te maak.”

Werner sê dat hulle reeds ՚n sterk en gevestigde klantebasis in hierdie omgewing het, en dat hulle net daarop wil uitbrei en bou om beter diens aan boere te bied deur nader aan hulle te wees.

Wat sê die boere?

Charles Griffiths, boer van die Belfast-distrik, vertel dat hulle ՚n gemengde boerdery bedryf wat die verbouing van mielies, sojabone en ՚n kommersiële beesboerdery insluit. “Ons is baie opgewonde oor die opening van JWL se nuwe tak hier in Middelburg. Die opening van hierdie tak beteken baie vir ons, aangesien die naaste JWL-tak in Ermelo was, wat ՚n bietjie ver van ons af is. Die nuwe tak is veel meer sentraal vir ons om sake te doen, aangesien 80% van my sake in Middelburg is.”

Charles vertel dat hy in 2012 klein begin het met sy trekkerreeks. “Ek was op soek na ՚n geenbewerkingsplanter, waar ek toe by Werner van JWL uitgekom het, en van daar af het ons nooit weer teruggekyk nie. Die planter het gemaak dat ek by Massey ook uitkom en by Massey bly.” Charles sê die naverkopediens by JWL is ongelooflik: “Dit is waarom ek sedert 2012 steeds by JWL bly.”

Charles vertel meer oor sy reeks Masseytrekkers op die plaas: “Ons het ՚n verskeidenheid van die MF200, wat ՚n voermenger en ՚n snyer trek, tot die MF4700-reeks wat kleiner werk op die plaas doen, en die MF5400-reeks waarmee ons ՚n sleepspuit trek. Ons het ook twee MF6700-reeks trekkers, een met ՚n Massey Ferguson 4121-laaigraaf op, en ek moet dit nou self beaam: my TLB kon nie by my kunsmiswa uitkom nie, en die Masseylaaigraaf tel die vrag met gemak op!

“Dan het ons ook twee MF7700-reeks trekkers, ՚n MF7720 wat redelik oud is. Ek het hom ongeveer sewe jaar gelede by JWL Landbou gekoop, en hy loop nog al die pad! Ons het ook ՚n MF7724 wat ons gebruik om kunsmis op die rygewasse te strooi. En dan het ek ook my vlagskiptrekker, die MF8737S, waarmee ons al die plantwerk op die plaas doen. ՚n Baie lekker trekker! Al die Massey-trekkers op my plaas is baie operateursvriendelik, veral die gevorderde trekkers. Daar is baie tegnologie in, maar as jy hom eers verstaan, kan jy nie daarsonder nie. Gerieflikheid, met ՚n lekker uitleg, alles naby jou, waar jy dit nodig het.”

Charles vertel ook dat die Globalreeks trekkers ՚n lekker trekker is vir ouer geslag werknemers op die plaas. “Dit is ՚n lekker en maklike trekker om mee te werk.” Charles het ook ՚n Massey Ferguson 9330-hoogloopspuit wat baie lekker werk en ՚n ouer Challenger-stroper wat nog al die pad sy kant bring, sonder enige probleme. Wat vir Charles die meeste uitstaan van Massey se trekkers, is hulle brandstofverbruik.

“Ek het al van ander fabrikate gebruik gemaak, en Massey se brandstofverbruik is puik. Hulle kry kilowatts op die grond, en dit is waarvan ek hou!” Hy lig ook uit dat die MF 8700 se veringstelsel fantasties is, en dat die rygerief van die trekker uitmuntend is. Charles vertel dat daar oor die jare al verskeie boere na hom toe gekom het en uitgevra het oor die Massey-trekkers en toerusting, veral die 8700-reeks. “Hulle het al met die trekker kom werk en gery op die plaas, en my buurman, oom Frik Prinsloo, het een aangeskaf en daar is nog een op pad. Ek kan met die grootste gemoedsrus Massey aan enige boer aanbeveel.

“Ek sal daarvan hou as ՚n mens die hele pakkie by JWL in Middelburg kan kry; van ՚n grassnyer tot ՚n geelmasjien, jou onderdele, slytdele en meer. Dit is baie lekker om by een plek te stop en alles te kan bekom en dat een werktuigkundige by jou werk. Mag hierdie daarheen groei en net van krag tot krag gaan,” sluit Charles af.

Plaaslike boere en belangstellendes is hartlik verwelkom om die nuwe tak te besigtig en eerstehands kennis te maak met die span wat gereed staan om hulle landboubehoeftes te bevredig.

Nico van Eeden, boer van Middelburg-distrik, sê: “Ons is vandag hier by JWL se takopening om te sien wat hulle vir ons kan bied, en hoe hierdie toerusting ons boerdery vorentoe kan vat. Ons is 30 km vanaf Middelburg, so hierdie tak gaan ՚n reuse verskil in ons boerdery meebring in terme van diens en die beskikbaarheid van onderdele wanneer ons dit benodig.”

Nico vertel dat hulle sedert 2023 sake met JWL doen. Hulle het ՚n Fendt 720 wat hoofsaaklik vir strooiwerk op die plaas gebruik word. Nico verklaar dat die Fendt-trekker se brandstofverbruik, gerieflikheid en gebruikersvriendelikheid vir hom uitstaan. “Hoe vinniger en geriefliker jy kan werk, hoe meer tyd bespaar jy aan die einde van die dag,” meen hy. Nico sê dat die dag vir hom baie insiggewend was, veral om al die rolspelers, JWL en AGCO se bestuur, op een plek te kon hê, die vrae te kon vra wat ՚n mens het, en om meer oor die tegnologie en produkte te leer van die kundiges wat hier was.

Die JWL Landbou-span by die nuwe Middelburg-handelstak.

Pa en seun, Izak en Herman De Villiers van De Ville Boerdery tussen Middelburg en Stofberg, het ook die takopening bygewoon. Hulle het ՚n gemengde saaiboerdery, hoofsaaklik mielies en sojabone, met ՚n veevertakking wat beeste, skape en varke insluit. Izak vertel dat hulle onlangs ՚n nuwe Massey Ferguson 8737S-trekker vir plantwerk aangeskaf het, waarmee hulle baie gelukkig en tevrede is, sowel as met die naverkopediens van Werner en sy span by JWL.

“Ons is tans in die mark vir ՚n nuwe stroper, en dit is juis waarom ons vandag ook die nuwe takopening bygewoon het; om meer te leer oor die Massey-stropers.” Izak meen dat die nuwe tak in Middelburg spreek van professionele mense en dienste.

“Die opset hier is netjies en professioneel uitgelê, en die personeel is goed opgelei. Die pluspunt vir ons is ook dat dit nader vir ons is. Trekkers breek nie wanneer dit buite seisoen is nie; hulle gee probleme in planttyd, so hoe nader ons tegnikusse aan ons het, hoe beter is dit vir ons. “Aangesien hier nou naverkopediens in Middelburg is, maak dit vir ons meer sin om by dieselfde handelsmerk te bly. Ons plan vorentoe is om alles by Massey te hou. Ons het nou begin
met die MF8737S, en vir ons volgende trekkers wat vervang moet word, sal ons beslis kyk of daar trekkers in die Massey-stal is wat aan ons behoeftes voldoen – wat ek glo daar sal wees,”  vertel Izak vol selfvertroue.

Herman voeg by: “Die tak wat op Middelburg oopgemaak het, is beslis ՚n pluspunt vir ons in terme van die beskikbaarheid van onderdele en verminderde staantyd; dit sal ons boerdery baie baat.”

“Ons hoop en vertrou dat Massey en die nuwe JWL-tak sal voortgaan en volhoubaar bly met die reekse wat hulle nou aanhou, sodat ՚n mens kan voortgaan met dit wat ons nou het, en nie kort-kort hoef te verander of vervang nie. Werner van JWL Landbou is ՚n fenomenale mens. Daar is nie ՚n tyd wat jy hom nie kan bel, of dit dag of nag is nie. Hy sal altyd uit sy pad uit gaan om te help en ՚n plan vir jou te maak, en dit is waarom ons JWL Landbou en hulle produkreeks sal aanhou ondersteun,” sluit Izak af.

Charles Griffiths, boer van die Belfast-distrik, saam met Werner Nel, besturende direkteur van JWL Landbou.

AGCO se toewyding tot Suid-Afrikaanse Boere Dominik Reus, besturende direkteur van AGCO Afrika, vertel dat die uitbreiding van die nuwe JWL-tak vir AGCO baie beteken, aangesien dit ՚n groot landbou-omgewing is, en een waarin AGCO, Massey Ferguson en Fendt nog nie so ՚n groot impak het nie.

Hy vertel dat dit vir AGCO en JWL ՚n groot mylpaal is, veral omdat hulle boere in hierdie omgewing vanaf Ermelo, wat redelik ver is, bedien het. “Die terugvoer wat ons vandag vanaf die boere ontvang het, is baie positief. Die boere is tevrede met die opening en dat hulle ook ՚n tak nader aan hulle het, en dit is wat ons as AGCO juis wil bereik. Ons is toegewyd daartoe om die behoeftes van ons boere te verstaan en naby aan ons boere te werk,” sê Dominik.

Gaan loer gerus in by JWL Landbou Middelburg, by Mbonistraat 6. Werner Nel en sy vriendelike span staan gereed om jou te verwelkom!

Vir meer inligting besoek JWL Middelburg se webwerf by https://jwlmiddelburg.
co.za/ of kontak vir Sias Humphries by (+27)83-630-5560 of stuur ‘n e-pos na sias@jwl.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0