Afrikaner Beestelersgenootskap maak gereed om die wêreld aan te vat

Afrikaner 1
“Wanneer ‘n eier van binne af oopgebreek word, beteken dit daar is nuwe lewe geskep, maar wanneer ‘n eier van buite af gebreek word, word lewe vernietig.” Dit was die boodskap wat professor Michiel Scholtz, direkteur van die Landbounavorsingsraad, aan die Afrikaner Beestelersgenootskap oorgedra het op ‘n glansdinee wat tydens die Jakaranda Landbouskou in Pretoria aangebied is.
Hy het gesels oor die groeipotensiaal van dié Afrika-ras, veral na aanleiding van die werk wat by die LNR se toetsstasie gedoen is oor die kruisteelmoontlikhede van die Afrikaner. “Dit is ‘n wonderlike ras en julle telers moet besluit waarheen julle wil gaan,” sê hy.
Die geleentheid en die simposium wat vroeër die dag gehou is, is ook bygewoon deur internasionale kundiges. Die hoofspreker by die dinee, professor Connie McManus-Pimentel van die Darcy Ribeiro Universiteit in Brasilië, het in ‘n kort en kragtige boodskap aan die telers gesê hulle moenie moed verloor nie.
“Die wêreld stel belang in Afrikaners! In Brasilië het ons ook die pad geloop met ‘n plaaslike ras waarna niemand wou kyk nie, maar ons het die situasie omgedraai en is nou deel van die wêreldgenetika,” sê sy.
Met die Presidentstoekennings is duidelik gewys dat die Genootskap ‘n hoë premie plaas op die navorsing wat rondom die ras gedoen word, met onder meer toekennings aan professor Michiel Scholtz, asook Lenè Pienaar, Anette Theunissen en Frans Jordaan vir hulle navorsingswerk.
Magda van Biljon het die aand se verrigtinge vanaf ‘n ossewa geopen met die voorlees van ‘n Afrikanerteler se Erekode. ‘n Span van ses Afrikanerosse het die ossewa getrek, wat vir plesierritte op die terrein gebruik is.
Pragtige skilderye van Afrikanerbeeste deur Deirdre van Straaten is deur Allan Sinclair van Vleissentraal ten bate van liefdadigheid opgeveil.
Nasionale veiling en raskampioenskappe
Op die nasionale veiling is die hoogste prys behaal vir ‘n bul van dr Pieter de Kock se Pronk Afrikanerstoet wat vir R110 000 aan Pierre-André Cronjé van Grootkuil Afrikaners verkoop is.
Opsomming van veilingsuitslae:
15 bulle is teen ‘n gemiddelde prys van R38 1333 verkoop, 8 dragtige koeie is teen gemiddeld R13 500 verkoop, 40 dragtige verse is teen gemiddeld R13 206 verkoop en twee osse is elk vir R20 000 verkoop.
Kampioenskapnuus
‘n Bul van Nico en Fanus van der Walt se Esfané-stoet is as die raskampioenbul van die Afrikaners, en reserwe senior interraskampioenbul aangewys.
Die opperste kampioen is na baie wik en weeg aangewys. Dr Pieter de Kock se Anika (met haar pragtige kalf) het met die eretoekenning weggestap.
Vir meer inligting oor die Afrikanerras skakel vir Lauren Tissier by 051-447-7405, 078-791-1880, stuur ‘n e-pos na afcattle@intekom.co.za of besoek www.afrikanerbees.com.

Die kroon vir opperste kampioen het na Anika (hier saam met haar pragtige kalfie) van dr Pieter de Kock se Pronk Afrikanerstoet gegaan.

Die aand is heerlik tradisioneel begin met ‘n ossewarit, natuurlik gesleep deur ‘n span Afrikanerosse. Die aktrise, Magda van Biljon, het die Erekode van ‘n Afrikanerteler voorgelees.

Die hoofspreker by die dinee, professor Connie McManus-Pimentel van Brasilië, tussen die skilderye wat vir liefdadigheid opgeveil is.