Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 26th June 2025

AFIS hou wag teen vlamme – vir jou veiligheid en vir voedselsekerheid

By 5 min read
900 words

aurora-k-27o5LjYQZDc-unsplash

In ’n land soos Suid-Afrika, waar brande elke jaar duisende hektaar landbougrond, bewaringsgebiede, infrastruktuur en selfs menselewens eis, is tydige brandmonitering nie ’n luuksheid nie maar ’n lewensnoodsaaklikheid.

Daarom is die Advanced Fire Information System (AFIS), wat deur die WNNR ontwikkel is, een van die belangrikste maar mees onderskatte stelsels in die land se brandweer- en rampbestuursarsenaal.

‘n Stelsel gebore uit tragedie

Die behoefte aan ’n nasionale brandmoniteringstelsel het ontstaan ná ’n verwoestende veldbrand in 2001 by die Napi-kamp in die Krugerwildtuin, waar 19 mense tragies omgekom het toe die wind onverwags gedraai het en die vuur hulle vasgekeer het. Hierdie gebeurtenis het ’n skok deur die rampbestuursgemeenskap gestuur en die noodsaaklikheid beklemtoon van ’n dinamiese, tydige en akkurate brandwaarskuwingsnetwerk. So is AFIS gebore.

Wat is AFIS?

AFIS is ’n gevorderde stelsel wat veldbrande opspoor, moniteer en daaroor verslag doen deur middel van satellietdata, rekenaarkrag en ’n spesialisspan navorsers van die WNNR se Geospatial Modelling and Analyses (GMA) navorsingsgroep, deel van die NextGen Enterprises and Institutions Cluster. Die stelsel gebruik satelliete soos MODIS, VIIRS en MSG om brande te identifiseer en data soos brandintensiteit, ligging en grootte te bepaal. Dié data word dan verwerk en aan gebruikers oorgedra deur verskeie platforms, insluitend e-pos- en teksboodskapwaarskuwings.

Hoe werk dit?

AFIS bied drie sleutelkomponente aan wat boere en rampbestuurders in staat stel om vinnig en akkuraat op veldbrande te reageer:

  • Brandgevaarindeks en brandpotensiaalvoorspelling: Deur atmosferiese data soos temperatuur, relatiewe humiditeit, windspoed en die vog inhoud van plantegroei te verwerk, kan AFIS ’n brandgevaarindeks opstel wat aandui hoe waarskynlik en hoe vinnig ’n veldbrand in ’n spesifieke gebied kan ontstaan en versprei.
  • Intydse vuur-opsporing en waarskuwings: Wanneer ’n aktiewe vuur opgespoor word, ontvang geregistreerde gebruikers onmiddellik ’n selfoonteksboodskap met die ligging, grootte (in hektaar) en brandintensiteit. Dié waarskuwings is van kritieke belang vir brandweerdienste, boere, grondeienaars en gemeenskappe.
  • Na-brand ontledings vir skadebepaling en versekeringsdoeleindes: Ná ’n brand voorsien AFIS akkurate kaarte van die gebrande gebied. Hierdie inligting is veral waardevol vir boere en versekeraars om skade te kwantifiseer en eise te ondersteun.

Verstaan die tegnologie agter AFIS

AFIS gebruik MODIS, VIIRS en MSG sensors wat op verskeie sateliete beskikbaar is om “brandpieksels” (beeldpunte) op te spoor. ’n Brandpieksel is nie die presiese ligging van ’n vuur nie, maar dui aan dat brandaktiwiteit binne die omvang van daardie pieksel plaasvind.

Die akkuraatheid en resolusie verskil per sensor.Hierdie verskillende sensors werk saam om ’n meer omvattende en akkurate beeld van brande landswyd te skep, met VIIRS wat klein en plaaslike vure kan identifiseer, en MODIS en MSG wat groter brande vinniger kan opspoor.

Die tabel hier onder verduidelik die brandgrootte wat deur die verskillende soorte sensors opgespoor kan word. Dit is egter belangrik om te verstaan dat die brandgrootte wat waargeneem kan word, afhang van die temperatuur en die heersende atmosferiese toestande.

Hoekom is dit belangrik vir landbou en voedselsekerheid?

Die impak van veldbrande op Suid-Afrikaanse landbou is enorm. Elke jaar verloor boere:

• Weiding: Duisende hektaar weiding word vernietig, wat ‘n direkte invloed op veeboerdery het.
• Gewasse: Veral tydens droë seisoene is gewasbrande ’n groot risiko vir oeste en saadproduksie.
• Infrastruktuur: Skade aan heinings, kraglyne, skure en toerusting.

•Lewens: Sowel mense as diere is al lewensgevaarlik aan brande blootgestel.
•Produksie-onderbrekings: Brande veroorsaak dikwels langtermyn onderbrekings in produksie, met ernstige geldelike gevolge.

In ’n land met reeds hoë voedselsekerheidsrisiko’s weens klimaatsverandering, watertekorte en ekonomiese uitdagings, kan veldbrande die finale knou vir ’n boer wees. AFIS se monitering stel boere in staat om proaktief op te tree deur vee tydig te verskuif, brandpaaie te maak en hulpbronne gereed te kry nog voordat die vuur gevaarlik naby is.

Hierdie skermskoot van die AFIS-webtuiste wys hoe vure wat deur die satelliete waargeneem word op ‘n kaart
aangedui word. Hierdie tipe inligting kan van deurslaggewende belang wees om te help met die voorkoming
van die verspreiding van veldbrande en kan jaarliks miljoene rande se skade voorkom.

Die pad vorentoe – en die finansieringskrisis

Tot onlangs was sekere dele van AFIS se dienste gratis beskikbaar aan belanghebbendes, insluitend boere, rampbestuur- en brandbestrydingsagentskappe. Ongelukkig moes hierdie gratis diens in Februarie 2025 gestaak word weens ’n gebrek aan volhoubare befondsing.

Hoewel die tegnologie en kapasiteit bestaan, benodig die projek geldelike ondersteuning om volhoubaar voort te gaan. Die kostes sluit data-aankope van internasionale satellietagentskappe, verwerking van groot datastrome, menslike hulpbronne en tegniese spesialiste en kommunikasie-infrastruktuur vir waarskuwings in.

Wie moet betrokke raak?

AFIS is ’n nasionale bate en moet as sodanig deur samewerking tussen belanghebbendes ondersteun word. Regeringsdepartemente soos Landbou, Omgewing, en Rampbestuur moet AFIS as ’n kerninstrument erken en geldelik ondersteun. Landbou-organisasies en boereverenigings moet die waarde van tydige inligting beklemtoon en help met verspreiding en geldelike ondersteuning.

Die private sektor, veral landbou-ondernemings en versekeraars, het ’n direkte belang in akkurate branddata en kan befondsing of borgskap verskaf. Navorsingsinstellings en universiteite kan AFIS se data integreer in navorsings- en opleidingsprogramme.

‘n Stelsel wat werk – maar nie sonder hulp nie

AFIS het oor meer as twee dekades sy waarde bewys in die beskerming van lewens, die vermindering van ekonomiese verliese en die ondersteuning van strategiese besluitneming. In die hande van beplanners, boere en rampbestuurders is dit ’n kragtige hulpmiddel, maar sonder befondsing is dit bloot ’n onbenutte potensiaal. As Suid-Afrika ernstig is oor voedselsekerheid, klimaatsaanpassing en ramprisikovermindering, is dit tyd dat ons sáámstaan om AFIS te beskerm en te befonds.

Vir meer inligting oor AFIS of om betrokkenheid en ondersteuning te bespreek, besoek www.afis.co.za.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1