Aerobotics: Tegnologie troef tradisionele boerdery

aerobotics
Goeie nuus is dat boere nou probleme met hulle gewasse vroeg-vroeg kan opspoor om sake betyds te ondersoek en reg te stel voordat dit hand-uit ruk en groot verliese veroorsaak. Hierdie beheer word moontlik gemaak deur lugbeelde wat deur satelliete en hommeltuie ingesamel word, en die slimkoppe wat hierdie diens lewer, is Aerobotics.
Boere verwelkom hierdie tegnologie, want hulle strewe is immers gesonde en presterende boorde, sonder peste en siektes. Die sleutel tot ’n goeie, gesonde oes is deeglike monitering. Dit is noodsaaklik om te weet waar en wanneer om in te gryp. Om op die grond te loop en kyk soos in die verlede, verg baie tyd en lei tot onakkuraatheid … maar Aerobotics bied die perfekte oplossing.
Die hele ding het begin toe Aerobotics se stigters gesien het met watter probleme sitrusboere te kampe het. Dit het hulle oortuig om Aerobotics te stig met die doel om boere te help om hulle oeste met behulp van die nuutste tegnologie te verbeter. In die ses jaar sedert hulle ontstaan het hulle met byna elke soort boord- en wingerdgewas op die aarde gewerk.

Hoe om te begin
Sodra ’n boer by Aeroview aanteken, vind die toepassing (app) jou plaas se ligging en digitaliseer dit. Nadat jy jou plaas op Aeroview uitgeken het, sal jy dadelik toegang hê tot meer as twee jaar se satellietverworwe gesondheidsinligting oor jou boorde of wingerde. Op die satelliethittekaarte dui verskillende kleure aan waar gewasse optimaal gesond is en waar dit spanningstoestande ondervind.
Nou kan jy nog vollediger ontledings van gewasgesondheid verkry deur beelde wat met hommeltuie versamel is te gebruik.

’n Oog in die lug
Nadat jy by Aerobotics ’n vlug bespreek het as deel van enige boordmoniteringspakket, stuur die maatskappy een van hulle geakkrediteerde hommelvlieëniers na jou plaas wanneer dit jou pas. Die multispektrumkameras waarmee die hommeltuie toegerus is versamel beeldmateriaal van tot so naby as 4 cm X 4 cm en stuur dit na die sagteware wat outomaties probleme identifiseer wat vir die blote oog onsigbaar is. Die boer kan nou met ’n paar klikke van sy skootrekenaar-webtoepassing (app), Aeroview, diepgaande gesondheidsverslae van sy boorde of wingerde verkry.
Data per boom byderhand
Boere kan op Aeroview na elke boom se ontleding kyk om sake soos gesondheidstatus, chlorofilvlakke, blaarbedekkingsgebied en volume te sien. Bome wat sukkel en sterk, gesonde bome word op die kleurkaart met verskillende kleure aangedui sodat jy presies kan sien watter bome onderpresteer en aandag nodig het.
Nadat jy die bome met probleme geïdentifiseer het, kan jy binne in die boord kyk met Aerobotics se mobiele toepassing, Aerofiew InField.
Versyferde (gedigitaliseerde) verkenning
Aeroview stel jou daartoe in staat om jou plaaskaart so te filtreer dat jy net die onderpresterende bome kan sien en verkenningsroetes vanuit die gerief van jou kantoor kan beplan deur die GPS-koördinate te merk.
Op die grond lei Aeroview InField die verkenners na die probleemgebied en probleembome op die plaas, soos wat die boer dit op Aeroview aangedui het. Soos hulle deur die boord beweeg,
kan verkenners aantekeninge, foto’s en inligting oor omvang of hoeveelhede op die toepassing laat wat dan op Aeroview ondersoek kan word. Op grond van hierdie inligting kan die boer ingeligte besluite neem oor waar en hoe om in hulle boorde of wingerde stappe te doen teen peste, siektes, tekorte of weerskade aan gewasse.
Hoekom moet nou en volgende maand gevlieg word?
Vandeesmaand beveel die agronomiespan van Aerobotics se hoofkantoor hommelvlugte aan vir sitrus, appels, pere en wyndruiwe, terwyl avokado’s en pekanneute volgende maand as hoëprioriteitgewasse aan die beurt kom. Elke gewas het sy eie moontlike bedreigings.
Sitrus (fenologiese stadium: vrugset, somerdrag, fisiologiese vrugafwerping)

Dit is noodsaaklik dat boere gedurende hierdie maand hulle bome se gesondheid moet nagaan, aangesien enige spanning die opbrengs regstreeks kan beïnvloed.
Na ’n hommelvlug sal Aeroview gebiede uitwys waar bome gespanne voorkom. Daarvolgens kan ’n verkenningsroete bepaal en gevolg word om die probleem van naderby te bekyk. Dit stel die boer in staat om akkurate besluite oor kunsmistoediening en chemiese uitdunnng te neem.
Vir volgende maand behoort boere vlugte te bespreek om probleembome op te spoor, die blaredak te bestuur vir goeie indringing van sonlig sodat rypwording bevorder kan word, en om bome wat swaar dra dop te hou.
Siektes om voor op te let
Hoë risiko: Alternaria bruinvlek
Medium risiko: Phytophthora (wortelverrotting), sitrusvergroening
Peste om voor op te let
Hoë risiko: Blaaspootjie (blare/vrugte),valskodlingmot, wolluis, rooidopluis,bloeiselmot, sagte bruin dopluis,lemoenruspe
Medium risiko: Vrugtevlieg, sitrusbladvlooi
Appels en pere (fenologiese stadium: vrugset en rypwording)

Appel- en peerboere vlieg vandeesmaand om die resultate van hulle bestuurspraktyke teenoor vorige vlugte te vergelyk. Met Aeroview kan jy ’n sonekaart skep om vrugtetoetsplekke te merk.
Siektes om voor op te let
Hoë risiko: Poeieragtige meeldou, appelskurfte
Peste om voor op te let
Hoë risiko: Appelplantluise, kodlingmot, kalanders, wolluis
Wyndruiwe (Fenologiese stadium: korrelgroei, verkleuring en rypwording in Februarie)

Vlieg om die spanning per wingerdstok en die blaredakgebied te moniteer, om bestuurspraktyke te evalueer en om korreltoetsplekke te bepaal.
Siektes om voor op te let
Hoë risiko: Poeieragtige meeldou, donsskimmel, vaalvrot, eutypa-terugsterwing
Peste om voor op te let
Hoë risiko: Wolluis, bladroller, gestreepte vrugtekalander, blaaspootjie
Medium risiko: Bolwurm
Avokado’s (fenologiese stadium: vrugvorming, somerdrag en dan oes)

Siektedruk op avokado’s is in hierdie stadium van die seisoen hoog. Dit is belangrik om hierdie druk te verminder deur diepgaande ontleding wat problemeopspoor nog voordat dit vir die menslike oog sigbaar is.
Siektes om voor op te let
Hoë risiko: Cercospora blaarvlek, Phytophthora/wortelverrotting, swartvlek
Middelmatige risiko: Avokado sonvlek Lae risiko: Luise/swartskimmel
Peste om voor op te let
Hoë risiko: Vrugtevlieg, valskodlingmot, stinkgogga
Medium risiko: Blaaspootjie
Lae risiko: Avocado Bug
Pekanneute (fenologiese stadium: neutgroei en dopdikte)

Vlieg teen die begin van neutvulling om seker te maak blare is gesond en in staat om voedingstowwe vir die huidige vrugbelading te produseer en reserwes vir die volgende seisoen oor te hou.
Aeroview se blaredakindeks stel jou in staat om nuwe groei deur die seisoen op te spoor.
Siektes om na op te let:
Hoë risiko: Antraknose, skurfte, alternaria bruinvlek, poeieragtige meeldou, swartvlek en terugsterwing
Middelmatige risiko: Bunch-siekte
Peste om na op te let
Hoë risiko: Bolwurm, stompkopkewer (shot hole borer), vrugtevlieg, plantluise
Middelmatige risiko: Valskodlingmot
Verkry ’n gesondheidsontleding van jou plaas. Bespreek ’n vlug by Aerobotics. Kontak Aerobotics se hoof van Sake-ontwikkeling, Vic van den Berg, by vic@aerobotics.com of +27(0)76-625-9273.
Volg Aerobotics aanlyn
Webwerf: www.aerobotics.com
Facebook: @aeroboticssa
Twitter: @Aerobotics_SA
LinkedIn: @Aerobotics
Instagram: @aerobotics_sa