Huldeblyk aan Willie Roux

blouberg 1
Die groep boere betrokke by Blouberg Aanteelveiling dra graag die 29ste Blouberg Aanteelveiling op aan Wyle Willie Roux.

01 Augustus 1930 – 21 September 2022
Willie Roux was dalk ‘n man van min woorde maar glad met die bek op die vendusie podium, lekker-lag-man, rots-man, statige man en ‘n lojale man wat nooit nagelaat het om tyd te maak vir elke koper en verkoper nie.
In 1964 het hy as bemarker by Vleissentraal Malelane begin waarna hy in 1970 verplaas is na Louis Trichardt om veilings in die Bosveld te behartig. In 1974 was Suid-Afrika se eerste wildveiling deur hom aangebied in Hoedspruit, wat vir hom een van sy grootste mylpale was.
In 1994 het hy saam met Anton Bothma, Hendrik Knox en Robbie Emmerich Blouberg Aanteelveiling begin en was ‘n trotse bemarker en afslaer in ons omgewing gewees. Hy het sy laaste veiling, hier op Vivo, op ouderdom 83 jaar aangebied.
Veilings groot of klein, hy het altyd dieselfde moeite gedoen en die ekstra myl gestap. Hy het ‘n persoonlike band met elke koper en verkoper gehad en so ook altyd almal op dieselfde manier hanteer, professioneel en met respek. Koper of verkoper kon op hom staatmaak en hom vertrou. Hy het seker gemaak hy kry jou telefoon nommer sodat jy op sy bel lys kom, hy het ook seker gemaak almal in die omgewing weet as daar ‘n Blouberg aanteelveiling aangebied word en presies hoeveel van watse diere staan in watter kraal. Hy was baie noukeurig op sy voorbereiding, iets wat hom laat uitstaan het bo ander.
Vandag is Blouberg Aanteelveiling welbekend in Limpopo en hy was baie trots om deel te wees van hierdie veilingsgroep, sy mense en kollegas.
“As hy daar bo gestaan het, maak hy jou lus om te koop, al was dit nie jou plan nie.”
Die familie, Blouberg Aanteelveilinggroep asook Vleissentraal kollegas.