Categories: Artikels, WielePublished On: 12th June 2023

2023 Citroën C3: Nuwe Franse SUV buksie slaan ‘n bres vir bekostigbaarheid

By 4 min read
830 words

citroen

DEUR DIRK GALLOWITZ van ultimate Drive

Citroën is deesdae onder die vaandel van die Stellantis konglomeraat, een van die wêreld se grootste motorvervaardigers met verskeie bekende motorhandelsname onder sy vaandel.

In die verlede het die Franse vervaardiger in Suid-Afrika altyd op die buiterand van motorvervaardigers gestaan en was verkope uiteraard ook nie aan die voorpunt nie. Dan weer was Citroen motors effe van ‘n mengsel van Franse styl wat ‘n goeie skeut moderne artistieke ontwerp met nuwerwetse motortegnologie gemeng het. Juis daarom het Citroen motors in die verlede tot ‘n baie spesifieke koper in SA gespreek.

Die vorige generasies van die C3 was klein stadkruiper luikrug modelle wat deftig afgewerk was, maar  met hoë vlakke van standaard toerusting, soortgelyk aan die modelle wat in Europa gewild was.

Met die nuweling het Stellantis besluit om ‘n ander roete te volg. ‘n Nuwe fabriek is in Indië opgerig waar modelle vir markte buite Europa goedkoper vervaardig kan word danksy laer insetkoste, soos onder meer arbeid.

Die nuweling is dus nie meer die stadskruiper-luikrug motortjie van ouds nie, maar meer van ‘n klein kompakte nutsvoertuig wat ten doel het om in die al meer gewilde segment van stoftrapper nutsvoertuie mee te ding. Dink maar aan die uiters goeie verkope van ander soortgelyke modelle in Suid-Afrika soos die Renault Kwid, Suzuki se S-Presso en Ignis asook die Nissan Magnite wat bekostigbare mobiliteit bied aan veral eerstekeer-kopers, maar ook mense wat goedkoper meer ekonomiese voertuie  soek.

Citroen SA se nuwe C3 wat slegs as die intreemodel “Feel” met ‘n 5-gang handratkas beskikbaar gestel is, word juis gemik op hierdie mark en verkoop teen die uiters aantreklike prys van R229 900.

Vir hierdie prys kry kopers ‘n stoftrappertjie met Franse styl en ‘n baie goed toegeruste kajuit wat uiters mededingend gaan wees in hierdie segment.

Buite beklemtoon swart plastiek wielboogomhulsels, ‘n silwer skermplaat onder die neus en swart dakrakrelings die nuwe C3 se aspirasies om die grondpaaie te gaan verken. Die effe hoër grondvryhoogte onderstreep die buksie se hunkering na SUV status.

Binne is die kajuit verbasend ruim en vertoon vars en modern met veral die kleurgepaste voorpaneel om  by die bakkleur te pas, wat aandag trek.

‘n 10-duim raakskerm vir al die klank-, kommunikasie- en ritinfo is netjies voor bo op die voorpaneel geplaas. Die skerm werk intuïtief en maklik. Dit bied ook Bluetooth aanpasbaarheid wat maklik slimfone koordloos deur die stelsel integreer vir kommunikasie, navigasie en ook musiek met behulp van Apple CarPlay en Android Auto. Daar is ook drie USB laaisokke beskikbaar met een voor en twee vir die agterste passasiers. Die kantspieëls kan met die hand verstel word, maar daar is ongelukkig geen tru-kamera nie. Die nuwe C3 beskik egter oor parkeergonsers agter, twee lugsakke voor asook  ABS-remme, maar geen elektroniese stabiliteitsbeheer nie..

Die 7-duim instrumentasieskerm bied tot 6 verskillende info-modusse waar ritinligting, brandstofverbruik en banddruk ondermeer vertoon kan word.

Die netjiese stuurwiel is hoogte verstelbaar en daar is ‘n paar vernuftige en handige stoorplekkies in die C3 soos byvoorbeeld die van die voordeure wat 2L bottels kan hanteer, terwyl die agterdeure weer 1L bottels kan stoor. Die smukkassie in die voorpaneel asook die houer tussen die voorste sitplekke bied  beide een liter stoorspasie. Verder is daar ook bekerhouers voor en agter asook ‘n lêplekkie voor vir die slimfoon. Die kajuit bied gemaklik sitplek vir 4 insittendes, maar bagasieruimte is beperk tot inkopiesakkies of twee klein oornagtassies.

Die 2023 Citroen C3 Feel word aangedryf deur Stellantis se bekende 1.2 liter petrolenjin sonder turbokrag en lewer 61kW verrigtingskrag met 115Nm piek wringkrag. Krag word na die voorwiele gestuur met behulp van ‘n 5-spoed handratkas.

Tydens die bekendstellingsrit in Gauteng se dun lug het die C3 nooit die indruk gewek dat die enjintjie mank gaan aan verrigting nie. Terwyl meeste van die C3 se mededingers in hierdie segment met 1.0liter turbo-aangejaagte enjintjies toegerus is, het die C3 gemaklik op die snelweg verbygesteek as die regte rat gehak is en die toere hoog bly. Ons was nogal beïndruk met die gladde en gemaklike oorgooie van die handratkas.

‘n Baie groot pluspunt vir die nuwe C3 is sy suinige brandstofverbruik wat amptelik aangegee word as 5,6l/100km.

Citroën SA se strategie met die nuwe C3 is om ‘n bekostigbare, goed toegeruste en brandstofsuinige kompakte SUV plaaslik bekend te stel wat ‘n veel breër klientebasis teiken as wat die vorige model gedoen het.

Kopers kan byvoorbeeld hulle C3 Feel verfraai en mooimaak met pasgemaakte kleurkombinasie en  aksentpakkette wat deur Citroen se handelaarsnetwerk beskikbaar gestel word.

Die Elegance pakket kos R2200 en bied chroom-aksente by die deure, sierrooster, ligte en buffers.

Die Energy pakket verhandel vir R2700 en kopers kry ‘n drukvlerk en ‘n skermplaat vir agter.

Ons is van mening dat Citroen SA met die nuwe C3 Feel nou die standaard stel vir bekostigbaarheid en waarde vir geld in hierdie segment en met die handelaarsnetwerk wat steeds uitgebrei word, raak die Fransman uit Indië ‘n al meer aantrekliker opsie.

Fotos verskaf: Citroen SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0