ProAgri 204 – Februarie 2017

proagri_204_februarie_2017.indd
Elf plaasmoorde in die eerste helfte van die maand. Met die uitbreking van die herfskommandowurmplaag was politieke partye en ander instansies gou om te vra dat dit tot nasionale ramp verklaar word. Met die droogte het landbou-instansies oor en oor by die staat gepleit om dit tot nasionale ramp te verklaar.
Plaasaanvalle en -moorde verwoes nou al vir twee dekades lank gesinne, boerderyondernemings en stabiliteit op die platteland. Wanneer word dit tot ’n nasionale ramp verklaar? As ’n boer vermoor word, raak dit nie net sy familie nie, want boere is ook werkgewers. Hulle besit en bestuur ondernemings wat dikwels vir honderde mense kos op die tafel sit.
Halfhartige pogings om aandag te gee aan die probleem deur na ’n lang gesukkel darem ’n aparte kategorie vir die spesifieke misdaad te skep en mooiklinkende woorde soos sektorpolisiëring en gemeenskapsbeveiliging, help niks as die houding, uitsprake en optrede van die regeerders toon dat hulle kommersiële boere as vyande van hulle politieke ideologie sien nie.
Die houding wys baie duidelik uit die dreigement van die minister van Grondsake dat ’n wet opgestel moet word wat dit moontlik sal maak om grond sonder vergoeding by boere te vat. Daar is bewerings dat hy net die aandag van sy eie probleme probeer aftrek met betrekking tot die bevoordeling van ’n ANC-maatjie wat ’n plaas van R97-miljoen op ’n vreemde manier ontvang het en toe in die afgrond in wanbestuur het, maar dit is nie asof hy vanuit regeringskringe gerepudieer is nie.
In hierdie onsekere omstandighede moet boere steeds voortgaan om te sorg vir kos op die tafel vir almal. Ek haal my hoed af vir boere wat dag na dag voortgaan en steeds opgewonde raak oor die positiewe goed wat gebeur, soos ’n lekker bui reën en nuwe tegnologie wat beter produksie moontlik maak.
In hierdie uitgawe plaas ons die kollig op voer en voerproduksie, bespreek die nuwe pes, die herfskommandowurm, en gaan vind uit wat se kommunikasieopsies daar vir boere is.
Boer slim!
Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za
Laai ProAgri 204 hier af: proagri_204_februarie_2017_web