2025 Toyota Hilux Legend 55: ‘n Legende groet – lank lewe die LEGEND

2025 Toyota Hilux Legend 55 side front Image supplied
Toyota het onlangs die LEGEND 55 model van sy topverkoper Hilux-bakkie reeks plaaslik bekendgestel. Hierdie spesiale model, gebou in Toyota se Prospecton aanleg buite Durban, sal seker dien as die laaste weergawe van die huidige generasie Hilux wat in 2016 plaaslik gebuig het, voor die heel nuwe Hilux in 2026 sy opwagting plaaslik sal maak.
Toyota Motors het die eerste Hilux bakkie in 1968 aan die wêreld onthul met Toyota Motors SA wat sedert 2004 met die bekendmaking van die Legend 35 daarna elke 5 jaar die Hilux in SA met ‘n spesiale Legend model gedenk. Dink maar aan die Legend 40 in 2010, Legend 45 in 2015 en die Legend 50 in 2020. Elke Legend weergawe het ‘n onuitwisbare impak plaaslik gemaak en bygedra tot die ongekende sukses en gewildheid van die Hilux in SA wat vir baie jare eers as topverkoper bakkie en in die laaste paar jaar as Suid-Afrika se mees verkoopte voertuig gekroon is.
Oor die jare het verkooppryse van gebruikte Legend-modelle bewys dat die spesiale bakkies hoog aangeslaan word deur Toyota liefhebbers wat bereid is om heelwat hoër pryse as sogenaamde markwaarde te betaal. Ons glo dat die Legend 55 ook hierdie pad sal loop.
Vervaardiging van die Legend 55 het in July 2025 by die Prospecton aanleg begin met bakkies wat reeds ‘n maand later by handelaars op die vloere vir kopers beskikbaar was.

Toyota het intussen die produksie van die huidige Legend-modelle gestaak en kopers het nou slegs die keuse van die Raider of die Legend 55. Slegte nuus is egter dat die Legend 55 slegs in 2 modelle beskikbaar is met die keuse tussen Xtra Cab en dubbelkajuit weergawes. Beide van hierdie is egter beskikbaar in 4×2 of 4×4 met die keuse van 6-spd handrat of 6-gang outomaties.
So wat maak die Legend 55 spesiaal?
Die 2025 Hilux Legend 55 kry eksklusief 2 spesiale bakleure naamlik Sand Beige en Dark Green Mica.
Verder word die Legend 55 as topmodel onderskei van sy mindere stalmaats met ‘n glansswart Legend sierrooster en ‘n beskermplaat onder agter die voorbuffer. Agter die kajuit is ‘n blinkswart rolstaaf met Legend 55 insignia, ‘n sleepstang asook ‘n sluitbare meganiese roldeksel ingesluit. Die laaibak is binne uitgevoer met ‘n sterk rubberbedekking vir beskerming. Verder is die Legend 55 ook toegerus met nuut ontwerpte 2-kleur allooiwiele, glansswart wielboë en ‘n etlike “Legend 55” kentekens buite.
Binne die kajuit is daar “Legend 55” insignia op elke kopstut asook die rubbermatte en deurdrumpels met ‘n klein “55 Anniversary” kenteken op die middelkonsole.
Andersins is die kajuit soortgelyk toegerus as die van die uitgaande Legend model.
Enjin, verrigting en paddinamika
Die 2025 Hilux Legend 55 se bakwerk, leerraam onderstel, aandrywing en veerstelsel is steeds soos in die huidige generasie. Aandrywing is steeds met die beproefde 2.8GD-6 turbodiesel (150 kW/500 Nm) en die ratkas ook dieselde 6-spoed handrat of 6-gang outo soos in die huidige Hilux bakkie te vinde is.
Die verrigting is steeds dieselfde, maar so ook die legendariese vermoë in die veld en om te sleep.
Die nuweling bied ook nie beter ritdinamika, hantering of ritgehalte as die uitgaande Legend model nie. Die huidige generasie Hilux bakkies is ook nie klasleidend wat betref ritgehalte en kajuitgerief nie en is soos enige leerraam onderstel bakkie soms ongemaklik op slegte paaie as daar geen vrag agter gelaai is nie. Dit alles is egter relatief onbelangrik gegewe die groter prentjie, want vir die meeste bakkiekopers in Suid-Afrika is die Hilux ‘n taai, betroubare, veilige en gerieflike voertuig vir gesin en werk en boonop uiters bekwaam in die veld as dit boonop ‘n 4×4 model is.
Opsomming
Die huidige generasie Hilux is meer as 10 jaar oud met ‘n onderstel wat selfs ouer is.
Tog wys verkope dat kopers steeds die Hilux begeerlik en bekostigbaar vind. Dit is dus ‘n reuse pluimpie vir Toyota Motors SA dat die Legend 55 op gelyke voet met veel meer moderne bakkies plaaslik kan kompeteer en steeds relevant en begeerlik voel. Lank lewe die Legend!
Prys en Waarborg
2025 Toyota Hilux Legend 55 2.8GD-6 Dubbelkajuit 4×4 6-gang Outomaties – R935 900
Prys soos getoets sluit in ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg en ‘n 9-diens/90 000 km diensplan.