2025 GWM P300 2.4TD 4×4 dubbelkajuit: ‘n Slim opsie

25004GWMP3003Quarter
GWM Suid-Afrika het in Februarie vanjaar die nuwe P300 dubbelkajuitbakkie plaaslik bekendgestel. Dit dien as die opvolger vir die uitgaande P-reeks en is ook die kleiner weergawe van die meer gerekende P500 dubbelkajuitbakkie waarvan die luukse HEV model algeheel die gesogde SA Bakkie van die Jaar titel in 2024 ingepalm het.
Die eerste generasie P-reeks is in Desember 2020 plaaslik bekendgestel en het tot Februarie vanjaar oor 17 verskillende modelle beskik wat 4 enkelkajuite, 8 kommersiële dubbelkajuit modelle en 5 passassier dubbelkajuite ingesluit het.
In Suid-Afrika is die nuwe P300 toegerus met ‘n 2.4 liter viersilinder turbodiesel enjin en is tans slegs as dubbelkajuit in 3 weergawes beskikbaar, naamlik die 2.4 LT 2WD, 2.4 LT 4WD en die topmodel 2.4 LTD 4WD. Ons het laasgenoemde vir ‘n week lank toetsbestuur en was aangenaam verras.
Voorkoms en ontwerp
Die 2025 P300 is duidelik geskoei op die uitgaande model.
In China staan die bakkie bekend as die “Poer”-reeks terwyl dit “Cannon” heet in Australië.
Die nuweling is ontwerp om hard te werk, oor lang afstande te sleep, uitdagende veldrytoestande baas te raak en tog ook hoë vlakke van gerief, tegnologie en verfyndheid aan insittendes te bied.
Die vooraansig tref met ‘n groot aggressiewe sierrooster en skrefiesoog LED hoofligte en nuutontwerpte voor en agter buffers.
Die uitgeboude wielboë hurk oor 18 duim sierwiele en vet rubber, terwyl swart en chroom kanttrappe die syprofiel netjies afrond. Agter word die groot agterklap ondersteun deur 2 skokbrekers vir maklik oop- en toemaak. ‘n Glas sondak bied passasiermotor gerief in ‘n dubbelkajuit bakkiesegment.
Kajuit en toerusting
Binnekant bied die P300, soos die groter P500, segmentleidende vlakke van weelde en toerusting vir ‘n werkbakkie.
‘n Nuwe 12.3-duim vrystaande raakskerm/infotainment skerm domineer die voorpaneel (daarenteen het die uitgaande model ‘n 9” ingeboude skerm gebied) wat saam met die digitale 7-duim LCD instrumentpaneel ‘n moderne voorkoms aan die kajuit gee. Die inligtingskerm bied toegang tot ritinligting, klank- en kommunikasiestelsels en word ondersteun deur Apple CarPlay en Android Auto koppeling. Daar is ook ’n koordlose laaiblad vir slimfone, sleutellose Stop/Aansit asook Oop-/Toesluit om maar net ‘n paar te noem.
Die leerbeklede stuurwiel, sitplekke en panele spreek van goeie materiale en vakmanskap en meng hoë vlakke van tegnologiese toerusting met goeie afwerking. Beide die geventileerde sitplekke en stuurwiel bied ook verhitting. Sagte stemmingsbeligting met die opsie van verskeie kleure bied ‘n gesofistikeerde afwerking wat nie in werksbakkies verwag word nie.
Die kajuit bied gemaklik sitplek aan tot 5 volwassenes met klasleidende beenspasie vir agterste insittendes.
Veiligheidstoerusting
GWM se 2025 P300 LTD soos getoets bied standaard omvattende aktiewe en passiewe veiligheidtoerusting wat insluit ondermeer Outomatiese noodremming, Baanhou Hulp met waarskuwing as die voertuig uit die baan beweeg sonder flikkerligte . Ook funksies soos “Driver Fatigue Monitoring en Traffic Sign Recognition” is standaard ingesluit.
Daar is ook ‘n 360° Panoramiese kamera stelsel, Blindekol montering en Baanwissel hulp. Verder bied die P300 omvattende lugsakbeskerming, “ Intelligent Cruise Assistance” en “ Collision Avoidance Systems”.
Enjin en verrigting
Die uitgaande P-reeks LTD se 2.0liter turbodiesel (120 kW/400 Nm) maak plek vir ‘n nuwe 4 silinder 2.4 liter turbodiesel wat 135 kW en 480 Nm se piekkragte bied en krag na al vier wiel stuur met behulp van ‘n intelligente 9-spoed outomatiese ratkas wat die uitgaande model se 8-spoed outo vervang.
GWM se amptelike brandstofverbruik word aangegee as 8,2 l/100 km vir ons 4×4 toetsmodel. Ons syfer wat vragdra en diksand ry ingesluit het, was 8,9L/100km na meer as 1400 kilometer se gemengde siklus, wat steeds na ons mening steeds uitstekend is.
Die P300 4×4 het ‘n maksimum sleepkapasiteit van 3 500 kg as die vragwa oor remming beskik.
Ons kon ongelukkig nie die P300 2.4TD 4×4 se sleepvermoë toets nie, aangesien ons toetsmodel nie oor ‘n sleepstang beskik het nie.
Ons kon wel die veldry en spesifiek sandryvermoë van die P300 toets en was aangenaam verras, danksy ondermeer die slim ratkas, ‘n elektroniese slot op die agter ewenaar, Off road Expert Mode en TOD (Torque on Demand)
Opsomming
Ons was beïndruk met die gerieflike rit, lae wind-, pad- en enjingeraas van die P300. Ook die moeitelose verrigting van die nuweling het verras wanneer daar teen hoofweg snelheid verbygesteek moes word.
Die nuwe 2.4L Td maak gebruik van “Variable Geometry Turbocharger (VGT) wat danksy beter ontwerpte lugvloei, kraglewering en verrigting oor enige terrein verbeter teen laer brandstofverbruik. Die nuwe P300 se Advanced NVH (Noise, Vibration, and Harshness optimization) verfyn die nuweling se enjinverrigting, maar verlaag terselfdertyd geraas en vibrasievlakke in die kajuit.
Danksy die P300 se onderstel en veerstelsel wat dubbelmikke voor en bladvere agter op ‘n soliede agteras gebruik, hanteer die P300 gemaklik op die pad en in die veld.
In geheel is die GWM P300 2.4 TD 4×4 Dubbelkajuit outomaties ‘n ruim, luukse bakkie wat net so gemaklik in die veld is as in die stad. Met hoë vlakke van die nuutste tegnologie, uitstekende brandstofverbruik en ‘n pryskaartjie van minder as R700,000 is die P300 ‘n baie slim kopie.
Prys en waarborg
Die nuwe P300 se prys sluit standaard in GWM se nut opgegradeerde en omvattende oordraagbare voertuigwaarborg en diensplanne as volg:
7 jaar / 200 00 km waarborg, 7 jaar onbeperkte km padbystanddiens
7 jaar / 75 000 km diensplan met 12 maande / 15 000 km diensintervalle
GWM P300 2.4TD DC LT 4X2 9AT – R599 900
GWM P300 2.4TD DC LT 4×4 9AT – R649 900
GWM P300 2.4TD DC LTD 4×4 9AT – R699 900