2023-stroperresies op Grootpan: Groot, gulsige masjiene wys hulle staal
Sweet, seer rûe en rou hande was in die goeie ou tyd die kernkenmerke van oestyd op die plaas. Die taai oumense het koring met sekels gesny, met donkies en muile op die trapvloer uitgetrap om die korrels uit die are te kry.
Graansuiwering het destyds beteken dat hulle die getrapte spulletjie met gaffels in die lug gegooi het sodat die wind die kaf kon wegwaai en die swaarder korrels op die grond kon terugval waar dit later bymekaar gevee en opgetel kon word. As die wind nie sterk genoeg waai om die graan ordentlik te wan nie, het die oumense geglo dat hulle moes fluit om die wind te roep.
Van sekelsny en van mieliekoppe met die hand pluk of die plante met kapmesse afkap en aanry tot by die moderne stroper was ’n lang en interessante pad van tegnologie-ontwikkeling met osgetrekte sekellemsnyers, selfbinders, stoomenjins en trapmasjiene, soos die oumense die dorsmasjien genoem het. Vandag se moderne stropers doen maar presies wat die oumense gedoen het; net makliker, vinniger en meer gemeganiseerd. Die Engelse noem immers ’n stroper ’n combine harvester, wat bloot beteken dat dit al die oeswerk in een beweging doen: die graan afsny, dors (die korrels uit die are of die pitte van die stronk af of die pitte uit die peule haal) en wan (die kaf van die korrels skei).
Grootpan Studiegroep se boere is van mening dat dit geen skade kan doen om die skouers ՚n bietjie te laat sak voor die harde werk van die stroopseisoen wat voorlê en te gaan kyk hoe die groot stropername mekaar in ’n stroopwedstryd uitdaag nie.
Die Stroperresies word jaarliks deur die Grootpan Studiegroep in samewerking met Du Preez Landgoed aangebied. Daar het groot opwinding geheers onder deelnemers, boere en ondersteuners. Verskaffers bring jaarliks hulle topklasstropers na die resies. Daar was ook vanjaar ՚n paar nuwe toetreders. Beoordeling word volgens hierdie kriteria gedoen: Spoed (50%), vermorsing van graan agter stroper (20%), gebreekte pitte bo die sif (10%), gruis onder die sif (10%) en koppe gelos of geknip (10%). Stropers ding in twee klasse mee – klas 6 en klas 8.
Klas 6 se uitslae was soos volg:
In Klas 6 was vanjaar se deelnemers die Massey Ferguson 9695, Case 6150, New Holland CR 6.80 en die John Deere S760. Met ’n gemiddeld van 87,52% het die New Holland CR 6.80 die eerste plek losgestroop.
Massey Ferguson, ՚n nuwe toetreder, behaal die tweede plek met 76,73%, kop-aan-kop met die Case 6150 wat derde plek beklee met 76,37%. John Deere se S760 behaal vierde plek met ՚n totaal van 69,38%
Die klas 8 uitslae was soos volg:
In klas 8 het die John Deere S780, die CLAAS 7600 Lexion, Fendt Ideal 8, Case 8250 en die New Holland CR 7.90 deelgeneem. Hier het Case met 91,33% stof in die oë van die ander deelnemers gestroop.
CLAAS se 7600 Lexion behaal tweede plek met 86,15%, Fendt Ideal 8 neem derde plek in met 84,13%, John Deere se S780 stap met vierde plek weg met 75,05% en New Holland se CR 7.90 (klas 7-stroper) behaal vyfde plek met 63,34%. Die doel van die resies nie is om enige stroper af te kraak nie, maar wel om aan boere die geleentheid te bied om ’n ingeligte keuse te maak wanneer hulle ’n stroper wil aanskaf. Tot volgende keer. Soet stroop