Categories: NewsPublished On: 17th October 2016

2017 Mercedes SL 500: Die ikoon kry nog meer styl

By 6 min read
1193 words

mercedessl500-august2016-5231-2

Daar was ‘n tyd hier in die sewentiger en tagtiger jare toe Mercedes gereken is as die beste motor in die wêreld. Gewone mense, uitgesluit jou swartpakdraende politici, hogere regeringsamptenare en natuurlik diegene met lidmaatskap van organisasies met nasionale belange vooropgestel, moes hul Mercedes bestel, die aankoopprys betaal en dan geduldig vir ‘n jaar of so wag tot die handelaar jou laat weet dat jou kar uiteindelik gekom het.

Daar was ‘n byna boheemse gevoel van status en rykdom wat Mercedes Benz motors embalm het. Ek onthou die swaar reuk van leer en die pragtige grein van die houtinsetsels van my oom se 1976 280SE. Die kar was so ‘n maroonrooi met bruin afwerking in die kajuit en roomkleurige matte. As jy ‘n Mercedes besit het was jou status in die gemeenskap geonderstreep.

In die negentigs het Mercedes se naam getaan met motors waarvan die betroubaarheid, afwerking en vakmanskap afgesteek het by selfs van sy Duitse kompetisie. Toe kom die huwelik met Chrysler wat gou op die rotse beland het en waarvan Daimler met verdere letsels weggeloop het.  Tog het dit gestalte gegee aan ‘n nuwe era van Mercedes Benz motors met Dieter Zetsche aan die hoof wat die maatskappy terug sou neem na sy eens glorieryke reputasie en om weer die drie-punt stêr aan die bopunt van die luukse motorbedryf te vestig.

Niemand sal kan stry dat die moderne Mercedes Benz se omvattende reeks passasier- en sportmotors die verbeelding aangryp van meeste motorentoesiaste nie. Talle van Mercedes se gewilde AMG-modelle en SUV’s is mark- en segmentleiers met rekordverkope.

Met AMG het Mercedes ook weer sy glorie op die renbane van die wêreld herwin met ongeëwenaarde sukses ook met Formule 1, in besonder. Tussen die baie nuwe en opgekikkerde Mercedes modelle wat jaarliks bekendgestel word, was daar ook vroeër vanjaar die bekendstelling van die opgedateerde ikonies SL-reeks luukse oopdaksportmotor.

Geskiedenis van Mercedes Benz

Die ikoniese SL model is al meer as 60 jaar deel van die geskiedenis van Mercedes Benz se model reeks. Vir meeste van daardie jare sekerlik die mees begeerlike model in die Mercedes stal. Sedert sy ontstaan in motorsport, toe die W194 in 1952 gedebuteer het as die 300SL renmotor, het die SL legendariese status in renkringe bereik. Dit het aanleiding gegee tot die ontwerp en produksie van die befaamde  SL “Gullwing” – koepee en oopdak sportmotors wat in Februarie 1954 hulle buiging in New York tydens die Internasionale Motorsportskou gemaak het.

In 1963 het die W 113 SL-reeks verskyn wat as die “Pagoda SL” bekendgestaan het met sy unieke ontwerp van die hardedak. Toe volg die R107 reeks (Bobby Ewing in die TV reeks  Dallas het so ‘n rooie gery) vir 18 jaar voordat die R129 model sy verskyning gemaak het in Maart 1989. In 2001 verskyn die R230 reeks met die huidige R231 wat in 2012 bekendgestel is.

Ek het onlangs die voorreg gehad om die nuwe SL500  in pragtige blou afgewerk, vir ‘n week te geniet. Die Weskusweer het saamgespeel vir ‘n onthou-belewenis.

Die nuwe SL500

Die hedendaagse SL is ’n groot plat breë kar. Die elegante stylvolle ontwerp tref egter die oog en met die metaaldak agter weggevou is die oopdak weergawe vir my nog meer stylvol. Alhoewel die SL as ‘n sportmotor voorgehou word en veral in SL63 en SL65 gewaad asemsnak-verrigting lewer, is die SL ten beste ‘n stylvolle GT toermotor vir die langpad. “SL”is die afkorting vir “Super Light”.

Die 2017-model se voorkant kry inspirasie by die legendariese 300SL Panamericana renmotor  met die regop sierrooster wat in die opgekikkerde model Mercedes se diamond ontwerp dra. Die enjinkap is met agressiewe stilering meer sportief gemaak  en die hoofligte is LED’s.Die buffers is nuut en kosmetiese luginlate is weerskante agter die voorwiele geplaas om verdere sportiwiteit aan die voorkoms te gee.

Die kantprofiel van die SL, veral met die dak weggevou is klassiek proporsioneel en tipies “roadster”.  Agter vou die groot geronde ligte om die hoeke met die SL se breë heupe wat styf span oor 19” vyf-speekwiele met die AMG-tipe lugsnoer wat die sportiwiteit van die twee groot uitlaatpype weerskante beklemtoon.

Binne is die tweesitplek kajuit knus, sportief en tog über-luuks afgewerk en toegerus.Die wit nappa leerbekleedsel mag dalk onprakties wees, maar in kombinasie met die blinkswart en dowwe chroomafwerking is die kajuit visueel ‘n treffer.

mercedes-benz-sl-2017-1024-12-2

Instrumentasie is soortgelyk aan die in die S-klas met die twee groot TFT skerms waarop alle inligting en stelsels vertoon word.  Standaard toerusting sluit ‘n indrukwekkende  en omvattende lys van kommunikasie-, klank- , media-, navigasie- en motorinligting in wat via Mercedes se DYNAMIC SELECT–stelsel beheer word.

Mercedes se “Vario” dak kan nou tot 40 kpu op- of afslaan en die glas gedeelte in die sondak kan met Mercedes se “ MAGIC SKY CONTROL” verdonker of meer lig deurlaat deur bloot ‘n skakelaar te druk wat die elektromagnetiese partikels in die glas aan/afskakel.  Bestuur jy met die dak afgeslaan, selfs in aand as die luggie koel raak, kan jy Mercedes se ‘Air scarf” aanskakel en heerlike warm lug word deur openinge in die boonste gedeelte van die sitplek na die nek-area gekanaliseer.

Die 2017 SL500 is toegerus met‘n kragtige V8 turbo petrolenjin wat 335 kW en 700 Nm se piekkrag lewer. Aandrywing is na die agterwiele via Mercedes se nuwe 9G-Tronic nege spoed outomatiese ratkas. Dit is genoeg om die SL 500  van 0-100 kpu in slegs 4,3 sekondes te laat versnel met ‘n  topspoed wat by 250 kpu elektronies beperk word. Die SL se bakstruktuur is geheel aluminium wat bydra tot die relatief lae gewig en goeie krag-tot-massa verhouding. Mercedes se amptelike brandstofverbruiksyfer vir die SL500 word aangegee as 9,0l/100 km in ‘n gekombineerde gebruiksiklus van ooppad en dorpry. Die brandstoftenk kan 75 liter loodvrye oktaan inneem.

Die supergladde 9-gangratkas kom toegerus met Mercedes se DYNAMIC SELECT stelsel, waar jy met die druk van ‘n knoppie, uit vyf verskillende ratkasmodusse kan kies. Hierdie stelsel verander die enjin se verrigting, ratskakeling, veerstelsel en stuurgevoel aan om by die bestuurder se behoefte en bestuurstyl te pas. Daar is ook ‘n opsie beskikbaar wat Mercedes “ABC” noem,oftewel “Active Body Control” waar die stelsel die motor gelyk hou wanneer deur draaie, tydens wegtrek en remming die bak normaalweg sou kantel of oorhel.

Die SL500 is ‘n heerlike luukse en gerieflike toermotor wat ook  kragtig en vinnig genoeg is om menige sogenaamde sportmotors met brute krag in ‘n versnelren te klop. Tydens my tyd saam met die SL500 was ek verbaas om te sien hoe maklik die agterkant na buite uitswaai as die regtervoet geplant word. Dit is egter op die ooppad met sy arsenaal van elektroniese passiewe en aktiewe veiligheidstelsels waar hierdie elegante stylwa as ‘n ware ingeneursprestasie ontpop. Die lys met al die bestuurderhulpstelsels is egter hopeloos te lank om hier te publiseer.

Die SL 500 was ‘n heerlike bestuurservaring. Die pragtige voorkoms en sportiewe lyne spreek van rykdom. Dit maak dit ook duidelik aan almal wie kyk, dat die toppunt van sukses bereik is. Waar ek ookal geparkeer het, het die selfoonkameras oortyd gewerk. Nou ja, nou moet ek nog net een of twee Lotto’s wen, dan kry ek myne!

Die 2017 SL500 verkoop teen R1,776,621-00 wat ondermeer ‘n 6 jaar/100 000 diensplan insluit.

ultimate-drive

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

merc

merc

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0