2016 MAZDA MX-5 Roadster: Oopdak pret op wiele

p1j09989s
Die Mazda MX-5 is die wêreld se topverkoper Roadster. Die vierde generasie van die gewilde klein oopdak sportmotortjie het einde laasjaar op plaaslike bodem geland en ons het onlangs een van die opwindende sportmotortjies vir ‘n week lank se ry-pret gehad. Mazda het die pretresep reeds met die eerste model (toe bekend as die Miata) vervolmaak. Klein, ligte sportiewe agterwiel aangedrewe tweesitplek oopdakker met eenvoudige , betroubare normaal geaspireerde enjin. Voeg daarby ‘n goeie krag-tot-massa verhouding en uitstekende hantering soos dit ‘n rasegte sportmotor betaam en jy het die resep vir heerlike padrykaskenades. Geen wonder die MX-5 het kultus-status onder miljoene aanhangers en eienaars wêreldwyd.
Die nuwe model bou voort op die klassieke resep, weliswaar nou in ‘n meer moderne en beter afgeronde jas met ekstra woema onder die enjinkap.
Voorkoms is treffend met die lang krom neus en fris ronde boudtjies wat breed oor die agterwiele span. Terwyl die nuwe model nie soveel anders is as sy voorganger nie, is daar 100 kg se gewig en 105 mm in lengte gesny om daardie liggewig sportmotor-gevoel te beklemtoon. Die pens hurk effe laer op die grond en die dak is ook effe platter. Binnekant sit die sitplekke 2 cm nader aan die grond wat weer help dat daar meer spasie vir ‘n groot ou soos ek is om onder die klein stuurwiel in te glip. Met die stuurwiel se kantelhelling effe groter en die pedale effe wyer uitmekaar was die kajuit knus, maar tog heel gemaklik vir my 115 kg, 1,85 meter lyf. Die bagasie bak is effe dieper en langer en kan nou een inkopiesak ekstra saam met die oornagtassie sluk. Die kajuit is modern en intuïtief uitgelê met goeie afwerking en hoë kwaliteit materiaal, soorgelyk aan die nuwe Mazda 2. Die raakskerm middel bo in die voorpaneel bied funksies vir die klank-, satnav-, en kommunikasiestelsels en werk maklik.
Mazda het egter besluit om nie die roete te gaan waar kleiner turbo-aangejaagde enjins gebruik word nie en het die model toegerus met hul betroubare 2-liter normaal geaspireerde petrolenjin wat 118 kW en 200 Nm wringkrag lewer. Die idée is nie verstommede krag en blitsige versnelling nie, maar opwindende bestuursgenot en besondere pretbelewenis. Die 6-gang handratkas het heerlik met sulke kort skuifies saamgewerk as die regtervoet hard gewerk het. Die enjin het lekker lewendig gevoel met die 0-100kpu lopie wat 7,3 sekondes geneem het en die topspoed van 214kpu wat gemaklik behaal is.
Uiteraard is die ligter bakgewig bydraend tot beter brandstofekonomie en die MX-5 se amptelike verbruik word aangegee as 6.7L/100km. Na ons week van speel en ook oopketel jaag het ons steeds ‘n gemiddelde verbruik van net meer as 9L/100km behaal. Die elektroniese bestuurderhulp en veiligheidstelsels ESP en ABS met EBD het ons veilig op die pad gehou.
Die nuwe MX-5 kom met ‘n lapdak sonder elektriese op- en afslaan. Na my week met die klein Japanees is ek egter oortuig dat alle klein oopdakkers so behoort te werk. Met die ontsluit van ‘n enkele hefboompie bo voor in die vensterraam, trek jy die ligte springbelaaide seildakkie met een beweging na agter en druk dit gemaklik agter die sitplekke in posisie met een “klik”. Opslaan werk soortgelyk. Ek kon dit sit-sit doen maar iemand kleiner in statuur sal dalk die sitplekgordel moet losmaak om effe om te draai. Dit werk eenvoudig, gemaklik en blitsvinnig.
Die nuwe Mazda MX-5 bou voort op die klassieke Miata van ‘n kwarteeu gelede. Dit is ‘n heerlike klein sportmotor wat pret in motorbestuursgenot terugbring. Die kajuitgeraas laat dit voel asof jy veel vinniger ry as wat jy werklik doen, maar die ervaring wat bestuurder, motor en pad tot ‘n simfonie saam voeg word verslawend. Vir ware motorentoesiaste behoort die MX-5 ‘n ideale speelding te wees.
Die 2016 Mazda MX-5 verkoop vir R413,800-00 en kom standaard met Mazda se omvattende MazdaCare waarborg wat ‘n drie jaar onbeperkte kilometer fabriekswaarborg, ‘n drie jaar padbystanddiens, ‘n drie jaar diensplan en ‘n vyf jaar Roeswaarborg insluit.
Bron: Mazda SA
Fotos: QuickPic & www. Netcarshow.com
Artikel geskryf deur Dirk Gallowitz