Verspreider van die maand

verspreider
ProAgri gee elke maand ‘n R500-koopbewys aan die verteenwoordiger van ‘n koöperasiehandelstak wat besondere
moeite gedoen het om die tydskrif onder die boere te bevorder.
Hierdie maand is BKB Jacobsdal ons pryswenner. Hulle bedien onder andere die boere wat uit die Modderrivier
en Rietrivier-waterskema besproei en gewasse soos lusern, koring, mielies en hawer gedy in die streek. Pekaneute is ook baie gewild en skape is die vernaamste vee.
BKB ondersteun ook die bekende Jacobsdal Landbouskool om die boere van môre beter toe te rus. Jacobsdal Primêre Skool is ook op BKB se ondersteunerslys en hulle borg onder meer die medaljes vir die huissport. Die skool word uit 17 dorpe bedien en die koshuis is vol, wat ‘n baie goeie teken in die platteland is. Die BKB-span doen ook hulle deel om te sorg dat ProAgri in die boer se hande beland. “As die tydskrifte afgelewer word, stal ons dit by die deur uit, stapel dit op die betaaltoonbank en plaas dit ook in die boere se sakkies. Wanneer ‘n boer oor ‘n produk navraag doen en ons weet dat daar ‘n advertensie of ‘n artikel daaroor in die tydskrif is, wys ons dit vir hom,” sê Henriëtte du Plooy, die handelstakhoof.
Neem só deel:
Neem ’n foto of laat jou kollega ’n foto neem van jou of julle tak se poging om te sorg dat ProAgri by elke boer uitkom en stuur dit na 079-515-8708 of versprei@proagri.co.za. Angeline sal verder met jou gesels. Sy gaan ook elke maand skakel om seker te maak dat julle wel julle tydskrifte ontvang het.
Foto: Henriëtte du Plooy en Christa du Plooy van BKB Jacobsdal oorhandig die jongste ProAgri aan Matie Smit wat met skaap en lusern in die Rietrivierbesproeiingsskema boer.