Witbrood nie duurder oor invoertarief

Green wheat under a blue sky
Green wheat under a blue sky
Brood is belangrike stapelvoedsel vir die meeste Suid-Afrikaners en speel ‘n groot rol in voedselsekuriteit. Die prys van hierdie stapelvoedsel is besig om te styg saam met ander voedselpryse, maar Graan SA wys daarop dat die oorsaak van die styging nie die invoertarief is wat nou gaan verhoog nie en dat die verhoging ook nie in boere se sakke gaan beland nie.
Hoe die koringprys bepaal word
Suid-Afrika plant nie genoeg koring nie en dit moet ingevoer word. Die prys van koring word dus deur die internasionale koringprys bepaal. Die uitruilwaarde en aanvraag na koring speel ‘n groot rol.
Volgens Graan SA werk Suid-Afrika aan strategieë om binnelandse koringsproduksie ‘n hupstoot te gee sodat die land minder afhanklik is van invoere wat pryse kan opjaag. ‘n Deel van die strategie is om die binnelandse mark te beskerm deur die gebruik van invoertariewe. Die tarief is tans R911,17 per ton en gaan na verwagting na R1224,31 per ton verhoog.
Watter deel na boere toe gaan
Die pryse wat verbuikers vir kos betaal is baie hoër as wat boere vir hulle onverwerkte goedere kry.
Byvoorbeeld: Om ‘n 700 g witbrood te bak word daar gemiddeld 480 g meel benodig. Vir die 480 g meel moet 588 g koring gemaal word; dus kan 1 700 witbrode van 1 ton koring geproduseer word.
Die boer se prys word bereken deur die jaarlikse gemiddelde Safex-prys te vat vir elke bemarkingsjaar en sekere kostes soos stoorkostes af te trek. As ‘n brood 21 snye in het, is die boer se inkomste gelyk aan vier snye. Tussen 2008 en 2015 het ‘n koringboer se deel van ‘n 700 g witbrood tussen 15% en 20% gewissel.
Bron: GraanSA