Spilpuntbeheer word afstandbeheer

agrico
Beter bestuur, beter tydsbenutting en beter gebruik van tegnologie is noodsaaklik om die immer groeiende uitdagings van moderne boerdery te bowe te kom. Een van die hulpmiddels wat die boer help om sy aandag oor meer plekke op die plaas te versprei en om raker te bestuur, is afstand-datakommunikasie, wat byna daagliks verder verfyn en uitgebrei word om die boer nog beter te dien. Spilpuntvervaardigers besef deeglik watter waarde hierdie tegnologie vir die boer inhou en daarom sluit elke spilpuntmaatskappy se span dikbrille deesdae ook ’n datakommunikasieingenieur of twee in. Ons het by elkeen van die vier grotes in Suid-Afrika gaan
uitvind wat hulle in die 21ste eeu vir die spilpuntboer bied om moeite, tyd en rondry te bespaar. Daar is ook ’n
afsonderlike maatskappy wat teen ’n uiters billike prys die mees basiese spilpuntbeheerfunksies bied. Een feit wat soos ’n paal bo water staan, is dat dit nie vir ’n boer wat een of twee spilpunte het, die moeite werd is om die jongste en spoggerigste nuwe tegnologie aan te skaf nie. Eerstens is dit baie duur en tweedens is dit heeltemal oorbodig.
Dit is die megaboere of maatskappyplase wat daarby baat sal vind om al die spoggerige funksies van tientalle spilpunte vanaf ’n slimfoon, tablet of skootrekenaar te beheer. Met ’n gebruikersvriendelike, grafiese uitleg van al sy spilpunte kan ’n boerderybestuurder met ’n oogopslag besluite neem en beheer toepas. Maar vir die
kleiner boer wat nie lus is om gereeld die lang pad na sy spilpunt af te lê nie, is daar gelukkig ook ’n gerieflike
oplossing of twee.
Agrico
Agrico noem hulle stelsel Advanced RAIN en bied twee keuses vir afstandbeheer op spilpuntpanele: Eerstens kan ’n boer met die selfoonteksboodskap-beheerfunksie die spilpunt laat loop of staan, die rigting verander, die neerslag van die spilpunt stel en droog laat loop vir werktuigbeweging tydens plant- of oestyd. Agrico het dit ook reggekry om die status van sekere funksies, soos die posisie van die spilpunt en waterdruk in die spilpunt, met ’n selfoonteksboodskap aan die boer te stuur. Belangrike kennisgewings kan ook op dieselfde manier aan die boer gestuur word. Tweedens kan ’n Agrico-spilpunt met die internet beheer word. ’n Boer kan met sy slimfoon, tablet of rekenaar vinnige toegang tot die basiese beheerkeuses van een of meer van sy spilpunte verkry en met ’n tablet of rekenaar word ‘n kaartvoorstelling van al die spilpunte vertoon. Ander keuses wat uitgeoefen kan word, is die skedulering van spuitprogramme en die grafiese voorstellings van statistieke. Agrico se nuutste toevoeging is
pompbeheer via die internetbeheerstelsel. Nou kan die boer met behulp van ’n VSD (veranderlike spoeddrywer)
die stelseldruk aanpas en die pomp aan- of afskakel, wat aansienlike elektrisiteitsbesparing beteken.
Agrico gee tans twee jaar gratis toegang tot die internetbeheerstelsel saam met enige nuwe Advanced RAIN-toestel.
Senter 360
Hierdie Suid-Afrikaansemaatskappy, wat bekendheid verwerf het met die modulêre ontwerp van hulle spilpunte, pas dit ook in hulle afstandbeheer toe. Hulle gebruik radioof GSM- (Global System for Mobile Communications) -platforms om die bevel- en terugvoerseine tussen die operateur en spilpunt te stuur. Soos ’n boer meer spilpunte aanskaf, kan hy sy beheerkas maklik en goedkoop aanpas deur net die no-dige afstandbeheerkomponente
by te voeg. Dit kan òf ’n radiosender (radio plug-in), òf ’n selfoonmodule en ’n toep vir sy
slimfoon wees. Die toepassing op die slimfoon kommunikeer dan met die beheerpaneel en kan vir enkel- of meervoudige spilpunte gebruik word. Die boer kan kies tussen verskeie kommunikasie-opsies wat foutboodskappe, basiese verstellings, peuterwaarskuwings en omvangryk inligtinglewering insluit. Wat vir Senter 360 egter baie
belangrik is, is dat die afstandbeheer altyd met ’n handbeheerstelsel gerugsteun word vir die enkele geval of twee waar ’n elektroniese gogga in die stelsel losgelaat word.
Lindsay
Die Amerikaanse maatskappy, Lindsay, wat Zimmatic-spilpunte vervaardig, het in April vanjaar die Fieldnet-stelsel
bekendgestel. Wat die stelsel so besonders maak, is dat dit saam met enige ander spilpunt gebruik kan word.
Die Fieldnet-beheerkas word bloot langs die bestaande beheerkas by die senterpunt gekoppel om afstandbeheer
aan die spilpunt te verleen. Met Fieldnet kan ’n boer sy spilpunt ten volle van elders af met sy slimfoon of tablet beheer en moniteer. Dit werk ewe goed op ’n Apple- of Android-plat-form. ’n Boer kan self die eenvoudige
koppelvlak volgens sy smaak uitlê deur van die trek- en plaasfunksies met sy vingerpunte gebruik te maak. Die paneelbord gee dadelik ’n oorsig van jou hele stelsel en met ’n vingerdruk op die raakskerm kan ’n boer ’n funksie
op sy spilpunt aktiveer. Die kontrolestelsel laat ’n boer toe om ’n termometer, vloeimeter en reënmeter wat
die waterneerslag moniteer, intyds dop te hou. Verder kan ’n boer ’n spilpunt of pomp aan- of afskakel, van rigting laat verander en die watertoediening aanpas met die druk van ’n ikoon op
die raakskerm. Om presies te sien hoe die spilpunt op die land beweeg, word daar ’n GPS op die punt van die spilpunt geplaas, wat dan saam met die beheerkas by die senterpunt werk om die spilpunt se posisie baie akkuraat weer te gee. Alle data wat versamel word, word natuurlik gebêre vir verslae wat later herwin kan word.
Valley
AgSense is die versamelnaam vir Valley se afstandbeheertegnologieprodukte, wat ’n boer toegang gee
tot WagNet (Wireless Agricultural Network), ’n wêreldwye netwerk wat spesiaal vir die landbou geskep is.
Hierdie netwerk versamel data, verwerk dit en stuur dit in ’n bruikbare
vorm terug aan die boer. Die bekendste beheerstelsel in die Agsense-kraal is Field Commander, wat ’n boer kan help om tot honderd spilpunte te beheer. Elke spilpunt se posisie word met ’n GPS bepaal en kan intydse inligting en alarms aan jou selfoon stuur. Die basisstasie met sy antenna word in plaaskantoor geïnstalleer en hy gesels dan met ’n antenna op elke spilpunt. Die rekenaar in die kantoor word dan aan die internet gekoppel, wat weer met Valley se
spesiale toep op ’n slimfoon of tablet kommunikeer. Valley se jongste afstandkommunikas
ietegnologie
se naam is BaseStation3, waarmee ’n boer vanaf enige plek in die wêreld volkome, spilpuntbeheer kan toepas. ’n Boer kan kies of hy ’n sellulêre sein, dataradio of die internet wil gebruik, wat verskillende koste-implikasies inhou.
Met BaseStation3 kan ’n boer sy plaas deur Google Maps bekyk of die grond se vogvlakke lees. Daar kan ook meer as een persoon tegelyk met die stelsel werk en ’n boer kan nou sy besproeiingsdata met ’n derde party, soos sy landboukundige, besproeiingskeduleerder of saad- of kunsmisverteenwoordiger, deel. BaseStation 3 kan ook met ander plaasbestuursprogramme geïntegreer word om ’n beter geheelbeeld van die boerdery te verkry.
Secucell
Vir die boer wat op soek is na ’n baie goedkoop afstandbeheeroplossing het Secucell, ’n maatskappy in Vereeniging, net die antwoord. Met hulle eenvoudige beheerkassie wat die nodige elektronika en ’n veteraanselfoon bevat, kan ’n boer in sy bed sit en al sy spilpunte afsonderlik aan- of afskakel deur elkeen net ’n misoproep te gee.