Categories: GewasproduksiePublished On: 31st October 2024

՚n Appel per dag laat die dokter wag … maar ՚n ui maak sommer alles beter!

By 4 min read
713 words

pexels-pixabay-533342

Dit is mos ՚n bekende storie: uie het baie lae. Maar hoe groei hierdie interessante groente vanaf ՚n saadjie tot by ՚n tamaai, reuse en geurige ui? In dié artikel word die proses van uieboerdery lagie vir lagie uitmekaar gehaal.

Uie is ՚n besonder gewilde gewas in Suid-Afrika, veral omdat hulle op soveel verskillende maniere verwerk en gebruik kan word.

Die kweek van uie is ՚n presiese proses. Uie verg net die regte aandag, moeite en liefde om goed en gesond te groei.

Antieke Egiptenare het geglo die konsentriese sirkels en sfeervormigheid van die ui verteenwoordig die heelal.

Grond en klimaat

Uie floreer in goed gedreineerde grond met ՚n pH van tussen 5,5 en 6,5. Sand-tot kleigrond is perfek. Om seker te maak die wortels kan gemaklik groei, moet die grondvoorbereiding 600 mm diep wees.

՚n Brokkie goeie nuus: Uie is rypbestand! Hulle benodig egter steeds spesifieke klimaatstoestande, soos koeler weer tydens vegetatiewe groei en dan warm en droë toestande wanneer hulle ryp word.

Die ideale temperatuur vir uiegroei is tussen 12 en 24 °C.

Oormatige reën of vog tydens bolvorming kan die gehalte van die uie benadeel, wat hulle raklewe en markwaarde kan verminder.

Vir kommersiële produksie word uie gewoonlik van saad of saailinge gekweek.

Plantmetodes

Vir kommersiële produksie word uie gewoonlik van saad of saailinge gekweek. Sodra die saailinge in ՚n kwekery volgroeid is, word hulle uitgeplant. Die plantwerk moet versigtig gedoen word. Maak seker daar is spasies van 15 tot 20 cm tussen die plante en rye, sodat daar genoeg ruimte is vir bolontwikkeling. As die plante te naby aan mekaar is, ding hulle mee om suurstof.

In Suid-Afrika het ons tydens die somer meer ure daglig. Variëteite van uie wat dan goed begin bolle vorm, is kortdagkultivars soos Texas Grano en Granex.

Bestuur en besproeiing

Uie het ՚n konstante watertoevoer nodig. Ten spyte hiervan is hulle baie sensitief vir te veel water in hulle wortelsone. Die grond moet dus vogtig bly sonder om die plant te versuip.

Dit is ook belangrik dat die water nie by die basis van die plant versamel nie, aangesien dit die groei kan strem en die ui kan verkleur.

Uie groei in die grond. Sodra die blare van die plant plat lê, is die ui gereed om geoes te word.

Plae en siektes

Uie is vatbaar vir verskeie plae, soos blaaspootjie (thrips), wat die blare kan beskadig en die groei van bolle nadelig kan beïnvloed.

Algemene siektes sluit in donsige skimmel (downy mildew), persvlek (purple blotch) en pienkwortel (pink root).

Hierdie siektes kan wel beheer word. Behoorlike wisselbou en die gebruik van siektebestande kultivars is ononderhandelbaar. ՚n Gewasrotasieskedule met nie-verwante gewasse drie- tot vierjaarliks kan gevolg word.

Wanneer jou gewas ՚n siekte kry, moet dit so vroeg as moontlik geïdentifiseer en behandel word om te keer dat die hele oes daaronder ly.

Oes en berging

Uie word geoes wanneer 50% tot 100% van die blare omgeval of gaan lê het.

Vir kleiner tuine is dit die beste om te wag totdat al die blare gaan lê het. In groter kommersiële boerderye is dit tipies om te begin oes wanneer ongeveer die helfte van die blare lê.

Nadat die uie uit die grond gehaal is, moet hulle in bondels opgehang word in ՚n ruimte met goeie ventilasie, sodat hulle kan droog word. Berg hulle daarna in ՚n koel en droë plek om hulle raklewe te verleng.

Uiesny laat die meeste van ons huil omdat die ui swaelsuur vrystel wanneer dit gesny word.

Vinnige feite oor uie

  • Almal is mal oor ՚n ui, maar niemand wil praat oor die uie-asem wat mens daarna het nie … Raak ontslae daarvan deur pietersielie te eet.
  • Die antieke Egiptenare het uie aanbid. Uie is dikwels in die grafkelders van farao’s geplaas, omdat hulle geglo het dit gaan vir hulle voorspoed in hulle volgende lewe bring.
  • Uiesny laat die meeste van ons huil. Dit is omdat die ui swaelsuur vrystel wanneer dit gesny word. Die swaelsuur reageer met ons oë om dit te laat traan. ՚n Manier om dit te voorkom, is om die ui onder lopende water te sny of terwyl dit in ՚n wasbak vol water lê.
  • Die gebruik van uie het in die afgelope twintig jaar met 50% toegeneem.
  • Uie is gesond! Die gemiddelde ui bevat slegs dertig kalorieë.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0