Categories: NewsPublished On: 10th December 2014

Woolworths swig voor anti-GMO-druk

By 2 min read

Suid-Afrika is een van die grootste produsente van geneties aangepaste (GM) gewasse in die wêreld: 87% van ons mielies, 92% van ons sojabone, en 100% van die katoen wat in die land verbou word is GM. Hierdie gewasse is ontwikkel vir insekweerstand, onkruiddoderverdraagsaamheid of albei, wat lei tot laer produksiekoste vir boere en uiteindelik vir laer voedselpryse en verbeterde voedselsekuriteit.

Woolworths het onlangs aangekondig dat hulle die aantal private-etiketprodukte wat GM-bestanddele bevat op hulle rakke met die helfte gaan verminder. Verder het hulle hulleself daartoe verbind om die GM-bestanddele in hulle eie voedselprodukte oor ‘n tydperk van twaalf maande te verminder. Die rede: Verbruikersvraag is die hoofdryfkrag agter die besluit.

Die uitwerking van hierdie besluite kan verreikend wees.

Mnr Wynand van der Walt, ‘n landbou-biotegnologiekonsultant en ‘n GM-reguleringkenner in Suid-Afrika, sê dat om hulle onderneming gestand te doen, sal Woolworths waarskynlik bestanddele uit die buiteland moet bekom, wat tot stygings in hulle voedselpryse sal lei, wat uiteindelik aan die verbruiker oorgedra sal word. “In ’n moderne ekonomie sal enige bygevoeging tot produksiekoste deur die verbruiker gedra moet word.”

Maar dit blyk dat die omstrede skuif deur Woolworths net ‘n simptoom van ‘n groter probleem is, naamlik die ondoeltreffende kommunikasie met verbruikers oor GM-produkte. “Die voedselbedryf is nie sigbaar en proaktief met betrekking tot die oordrag van inligting oor gewasbiotegnologie nie en daarvoor kritiseer ek hulle,” sê mnr Van der Walt. “Ek respekteer die bedryf se reg om GM produkte geleidelik uit te skakel, of om produkte te etiketteer of nie, maar hulle gaan nie heeltemal omsigtig te werk nie.”

“Woolworths het egter ‘n paar pogings aangewend om hulle verbruikers in te lig – daar is byvoorbeeld ‘n Wat-Almal-Wil-Weet-afdeling (FAQ) op hulle webwerf wat fokus op ‘n paar van die debatte rondom GM-gewasse en veiligheid. Hulle etiketteer ook hulle produkte duidelik waar moontlik,” sê hy.

“Maar oor die algemeen is etikettering van GM-produkte nog steeds ‘n groot probleem in Suid-Afrika,” sê mnr Van der Walt, en dit is nie net die bedryf wat skuldig is nie. Botsende regulasies, swak omskrewe voedselkategorieë en ‘n gebrek aan geriewe maak die nakoming daarvan baie moeilik. ’n Voorbeeld hiervan is die nuwe wetgewing wat die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) in 2006 oor die etikettering van voedselprodukte gepromulgeer het. Mnr Van der Walt het tydens die opstel van hierdie wet en gepaardgaande regulasies kundige insette gelewer, maar hy sê dat dit in konflik is met bestaande wetgewing  van die Departement van Gesondheid se GM-etikettering en daar kan nie regtig aan die regulasies voldoen word nie.

Van besondere belang is die gebrek aan instansies wat die GM-inhoud van voedselprodukte kan nagaan. Hy sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) erken slegs twee laboratoriums wat hierdie toets kan doen en gemagtig is om ‘n sertifikaat van GM-teenwoordigheid uit te reik, maar daar is miljoene produkte wat hierdie sertifisering benodig. “Hoe kan ons dan verwag dat alle produkte aan etikettering kan voldoen?” vra hy.

Bron: www.pub.ac.za

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment