Wonderproduk: Glifosaat bly die boer se maat

dr verdoorn en kobus steenekamp
Dr Gerhard Verdoorn van die Griffon gifinlligtingsentrum en Kobus Steenekamp, Monsanto se bestuurder in Suid-Afrika wys watter alledaagse produkte is giftiger as glifosaat, die aktiewe bestanddeel van Roundup.
Foto: Dr Gerrit Verdoorn van die Griffon gifinlligtingsentrum en Kobus Steenekamp, Monsanto se bestuurder in Suid-Afrika wys watter alledaagse produkte is giftiger as glifosaat, die aktiewe bestanddeel van Roundup.
Die verpolitisering en verspreiding van misleidende inligting oor glifosaat en geneties gemanipuleerde produkte is ‘n groot probleem in hierdie tyd waar die landbou swaar op tegnologie steun om winsgewend te bly. Dit is dus noodwendig nodig dat die wetenskap so nou en dan bietjie afgestof moet word om die man op straat weer op hoogte van die werklikheid te bring.
Buiten die geveg teen verkeerde inligting, is die gebruik van biotegnologie onontbeerlik in die geveg teen voedselonsekerheid. Onkruid het al bewys dat dit maklik ‘n boer se oes kan vernietig. Daar is ongeveer 30 000 soorte onkruid wêreldwyd waarvan 240 soorte 80% van ons probleme veroorsaak.
Dr Gerhard Verdoorn, ‘n onafhanklike chemikus en direkteur verbonde aan die Griffon-gifinligtingsentrum, het onlangs tydens ‘n Monsanto-mediagesprek in Pretoria met ‘n paar baie insiggewende feite oor glifosaat vorendag gekom. Dit sal die man op straat beslis met ‘n heel ander oog na glifosaat laat kyk.
Glifosaat is die aktiewe bestanddeel in 41 onkruidprodukte in die mark waarvan die bekendstes Monsanto se Roundup is, Syngenta se Touchdown, Villa Crop Protection se Glyposate 180 SL en 360 SL, BASF se Kixor, Dow Agro Sciences se Duramax en DuPont se Abundit.
Na 40 jaar se gebruik in meer as 160 lande en na meer as 800 studies wêreldwyd, kon daar nog geen bewyse gevind word vir die wilde bewerings dat glifosaat ‘n gevaar inhou vir enige lewende organisme, behalwe onkruid en plante wat nie met die glifosaat-weerstandige geen verander is nie. “Daar kan met reg gesê word dat glifosaat die mees suksesvolle en veiligste onkruiddoder op die mark is,” sê dr Verdoorn.
Wetenskaplike eksperimente en statistieke kan egter deur kwaadwilliges gemanipuleer word om sekere populistiese stellings te maak en daarom moet die man op straat op sy hoede wees om die kaf van die koring te skei.
Dr Verdoorn het dit duidelik gemaak dat enige chemiese stof, hoe natuurlik ook al, giftig kan wees wanneer dit in oormaat ingeneem word. Selfs water wat in te groot dosisse ingeneem word kan tot ‘n mens se dood lei.
Omdat dit oneties is om giftigheidsproefnemings op mense te doen, word rotte in die laboratoriums gebruik. Rotte se biologiese samestelling is na genoeg aan mense s’n om akkurate gevolgtrekkings te maak.
Om ‘n aktiewe bestanddeel se giftigheid te bepaal, word die simbool, L50 gebruik. Dit dui die dodelike dosis aan wat benodig word om 50% van ‘n rotbevolking deur mondelinge inname dood te maak. Glifosaat se L50 is 5 000 milligram aktiewe bestanddeel per kilogram liggaamsmassa. Dit beteken dat ‘n persoon wat 80 kg weeg, eers sal doodgaan nadat hy 400 gram onverdunde glifosaat ingeneem het.
Wanneer boere hulle lande bespuit, is dit gebruiklik om 4,3 kilogram glifosaat per hektaar te bespuit, wat nietig is as die grootte van die gebied in ag geneem word.
Proefnemings het bewys dat rotte eers sal doodgaan nadat hulle meer as 4,98 mg glifosaat per liter lug ingeneem het. As jy dit na die liggaamsmassa van mense verwerk, beteken dit dat ‘n mens eers 115 liter lug moet inasem om te sterf wanneer daar 4,98 mg per liter lug Roundup op ‘n hektaar gespuit word. Dit is fisies onmoontlik in ‘n kort tydperk.
As mens ander stowwe se giftigheid met glifosaat s’n vergelyk, kan mens nie anders as om koue rillings te kry nie. Suiker s’n is 29 700 mg. Dit wil sê dat ‘n persoon van 80 kilogram slegs 2,37 kilogram suiker moet inneem om te sterf. Tafelsout s’n is 3 320mg, vitamien A is 2 000, asperien 1 240, kafeïen 200, petrol 159 , nikotien 53 en arseen 5.
Glifosaat is inderwaarheid ‘n wondermiddel wat daarop gefokus is om die fotosinteringsproses in plante stop te sit, wat dan tot die plant se dood sal lei. Die onkruiddoder is dus nie in staat om ander organismes soos bye, skoenlappers en miere dood te maak wat redelike hoeveelhede daarvan inkry nie.