Wolmark sak effens
Die wolmark was effens laer op vandeesweek se veiling in Port Elizabeth en die Cape Wools Merino-aanwyser het met ‘n geringe 1,4% gedaal tot R111,62/kg (skoon). Dit is onveranderd vergeleke met die openingsveiling en 2,9% laer teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen. Op die Australiese mark het die aanwyser met ‘n geringe 0,5% versterk.
Handelaars het genoem dat die mark relatief goed vertoon het ondanks die sterker rand, dit was as gevolg van stewige vraag uit alle sektore van die bedryf. Kopers was meer geïnteresseerd in goed gegroeide Merinowol en minderwaardige wol het minder belangstelling gewek.
Die rand was gemiddeld R11,02 teenoor die Amerikaanse dollar, 1,7% sterker teenoor die gemiddelde koers van verlede week. ‘n Totaal van 12 016 bale is aangebied waarvan 98% verkoop is. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (3 265), Lempriere SA (2 967), G Modiano SA (2 269), and Stucken & Co (1 625).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron was onveranderd op R119,08/kg, 19 mikron verswak met 1,4% tot R117,77/kg, 20 mikron daal met 2,1% en sluit op R112,14/kg, 21 mikron verswak met 0,7% en sluit op R112,59/kg en 22 mikron daal met 1,8% tot R110,88/kg.
Die volgende veiling is vir 26 November geskeduleer wanneer sowat 9 300 bale aangebied sal word.