Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 27th October 2022

Winsgewende skaapboerdery deel 13: Só benadeel voorgeboortelike verliese jou skaapboerdery

By 8 min read
1617 words

skaap 1

(Bron: Dormer SA)

Die lae lampersentasie (lammers gebore/ooie gepaar) van ooie in Suid-Afrika is kommerwekkend, want dit het ՚n regstreekse invloed op die inkomste uit skaapboerdery omdat die beskikbaarheid van surplusdiere vir verkoop daardeur beperk word.

Dit plaas ook ՚n geweldige demper op die genetiese verbetering van ՚n ooikudde omdat dit streng seleksie bykans onmoontlik maak weens die beperkte aantal vervangingsdiere (jongooie) wat beskikbaar is.

Een van die groot redes, wat egter nie algemeen bekend is nie, vir ՚n swak besetting en ՚n lae persentasie meer­linge, is die afsterwing van bevrugte ovums (eiselle), embrio’s en fetusse. Embrio-nale en fetale vrektes is ՚n groot oorsaak van lae reproduksietempo, maar ook van lae winsgewendheid by skape omdat dit ՚n versteekte verlies, die sogenaamde onsigbare winsvreter, is.

Embrionale vrektes

Die eerste 30 dae van dragtigheid  word algemeen as die vroeë dragtige stadium beskou, wat in die pre-inplantingsfase (eerste 15 dae na bevrugting) en die inplanting- of aanhegtingsfase (volgende 15 dae) verdeel word. Bevrugte ovums (eiselle) wat die eerste 10 dae van dragtigheid afsterf, vervloei en word geresorbeer. Embrio’s wat gedurende die aanhegtingfase (vanaf ± dag 11 tot ongeveer dag 30 tot 34) afsterf, word ook geresorbeer.

Hoewel dit in die praktyk baie moeilik is om die omvang van embrionale vrektes te bepaal, word dit waargeneem as ՚n hoë persentasie ooie wat oorslaan of ՚n hoë persentasie ooie wat in die tweede siklus lam en ՚n lae getal meerlinggeboortes lewer. Indien ՚n bevrugte eisel van ՚n ooi wat slegs een bevrugte eisel het, voor dag 12 afsterf, kom die ooi na 15 tot 18 dae weer normaalweg op hitte.

Sy kan dan weer beset raak, maar die meerlinggeboortes neem af omdat die ovulasietempo met die tweede hit­tesiklus laer as met die eerste is. Indien slegs een van twee embrio’s afsterf, sal die ooi geboorte skenk aan ՚n enkeling wat kleiner as die gemiddelde van die  enkelinge is.

Fetale vrektes

Sodra die aanhegting van die embrio voltooi is, staan dit as ՚n fetus bekend. Aanhegting is rondom Dag 30 tot 34 voltooi, hoewel sommige navorsers van mening is dat dit nie volledig voor Dag 50 tot 60 van dragtigheid voltooi is nie. Vroeë fetale vrektes vind na aan­hegting plaas en die dooie fetus kan geresorbeer of geaborteer word.

Embrionale verlies na aanhegting versteur ook die balans van verdeling, in die geval van meerlinge, tussen die twee baarmoederhorings, en die grootte van die oorblywende fetusse wat die variasie in die grootte tussen lammers van dieselfde ooi vergroot. Hierdie verskynsel kan ook wees weens die toevallige en oneweredige verdeling van die aantal kotiledons (plasentalobbe) tussen die onderskeie fetusse in die baarmoeder. Waar een fetus gedurende dragtigheid afsterf, sal die oorblywende fetus(se) met ge­boorte kleiner wees as die gemiddelde grootte van die lammers met dieselfde geboortestatus.

Dit wil voorkom dat ooie wat die hoogste risiko loop om in ongunstige voedingstoestande een of meer fetusse te verloor, jongooie (veral dié wat op 12 maande ouderdom of vroeër gepaar is), veral dié wat tweelinge verwag en boonop van ՚n wolras is. Hoogs pro­duserende ooie (byvoorbeeld hoë wol- en veselproduserende ooie) is veral gevoelig vir spanningstoestande.

Oorsake van voorgeboortelike verliese

Spanning

Die oorlewing, groei en ontwikkeling van die embrio en fetus is grootliks af­hanklik van sy suksesvolle aanhegting aan die endometrium (baarmoeder­voering of -wand). Spanning weens oormatige hantering (soos skeer; mikskeer; dip; dosering; enting; aftasting; kloue knip; vervoer; langafstand-aanjaag); brommeraanvalle; ongure weerstoestande; skielike voeding- of weidingsverandering, asook skielike voedingspeilverandering gedurende paring en die eerste 42 dae na be-vrugting, kan tot embrionale en fetale verliese lei.

Enige vorm van spanning moet veral die eerste 60 dae van dragtigheid, dus gedurende paring en die eerste 30 tot 42 dae nadat die ramme uitgehaal is, voorkom of beperk word, want dit kan tot embrionale resorpsie en fetale ver­liese lei by hoërisikodiere (byvoorbeeld dié met meerlingfetusse; skraal ooie; jong- en ou ooie).

Vir maksimum embrionale en fetale oorlewing moet alle aktiwiteite tot minstens een maand nadat die ramme uitgehaal is, gestaak word. Ooie moet ook nie kondisie of gewig tydens paring en die eerste maand daarna verloor nie, aangesien dit ook tot embrionale en fetale verliese kan lei.

Voeding

՚n Verlies (afsterwe) van ՚n bevrugte ovum (eisel), embrio en fetus kan onder meer deur ՚n voedingstekort en/of -wanbalans veroorsaak word. Met wanvoeding (veral ՚n proteïentekort) is daar gevind dat tot 55% van die ooie hulle embrio’s geresorbeer het. Waar ooie voor dekking in ՚n swak kondisie (< 2 KP) was en dan te na aan dekking (14 tot 21 dae voor die paarseisoen) oorvoer is, het ՚n hoë persentasie em­brionale verliese voorgekom.

՚n Te lae voedingspeil gedurende die paarseisoen en die eerste maand na die ramme uitgehaal is, wat massaver­lies tot gevolg het, kan tot embrionale en fetale vrektes lei. Daarenteen vind maksimum embrio-oorlewing plaas in­dien die voedingspeil net na bevrugting tot die aanvang van aanhegting (dit is ± 14 dae na bevrugting) na ՚n onder­houdspeil verlaag word, mits die ooie met paring in ՚n goeie kondisie was .Die voorkoms van mikotoksiene (soos aflatoksiene; zearalenoon en ergot) in gemufde voer of weiding kan tot embrionale verliese lei. Lusern- en eenjarige medic-weiding kan in sekere omstandighede (blaarsiektes as gevolg van virusse en swamme; voorkoms van roes; beskadiging van blare deur luise en insekte; vogtekort; tekort aan fosfaat, swawel en spoorelemente) fito-estrogene, bekend as koumestrol, afskei. Estrogeniese aktiwiteit is ook in gemufde grasse waargeneem.

Die paring van ooie op weiding wat goitrogeniese verbindings bevat, soos raap, radyse en kool, kan tot bloedar­moede lei weens ՚n geïnduseerde yster- en kopertekort wat weer embrionale vrektes op dag 14 kan veroorsaak.

Inname van te hoë vlakke van oplos­bare (byvoorbeeld ureum) en degra-deerbare proteïen (byvoorbeeld pro­teïenryke weidings; weidings wat met hoë vlakke van ureum of KAN bemes is; hoogs degradeerbare proteïenryke grondstowwe soos lupiene, ertjies, sonneblomoliekoekmeel, ensovoorts) kan tot te hoë bloedureumvlakke lei, wat die oorlewing van sperme, eiselle (ovums) en embrio’s in die baarmoeder verlaag.

Die noodsaaklike spoorelemente wat bekend is dat hulle embrionale en fetale oorlewing kan beïnvloed, is koper, jodium, yster, mangaan, seleen en sink, asook kobalt. ՚n Tekort aan noodsaaklike spoorelemente, veral seleen, vitamien A en vitamien E, veroorsaak verskeie reproduksiepro-bleme (byvoorbeeld resorpsie, aborsie, doodgeboortes, ensovoorts).

Siektes

Verskeie siektes (byvoorbeel en-soötiese aborsie; slenkdalkoors; wes­selsbronsiekte; bloutong; pasteurella; ensovoorts), veral dié wat koors veroorsaak, asook interne-parasietbesmetting (byvoorbeeld lewerslak) en bosluiskoors, kan almal tot embrionale en fetale vrektes lei. Die inskakeling van ՚n doeltreffende immuniseringsprogram in ՚n skaapboerdery in die Noord-Kaap het die verdwynfaktor, soos bereken van aftasting tot stertsny (sluit dus embrionale, fetale en lamvrektes in), vanaf 35% tot 16% verlaag.

Ander

By jongooie wat op ՚n baie vroeë ou­derdom, byvoorbeeld 6 tot 8 maande ouderdom, gepaar word, is embrionale vrektes baie hoog weens die onver­ moë van die bevrugte eiselle om tot die aanhegtingstadium te ontwikkel. Embrionale vrektes is ook hoër by jongooie as by volwasse ooie.

Embrio’s van veral jong- en ou ooie, wat in ՚n swak kondisie met paring is, loop ՚n hoë risiko om te vrek indien hierdie ooie op ՚n lae voedingspeil na bevrugting is (Robinson, 1986). Betekenisvolle hoër embrionale vrektes (50 vs 15%) het by maer ooie (1,5 KP) as by ooie in ՚n goeie kondisie (3 KP) voorgekom. Meer embrionale vrektes kom ook voor by ooie wat oorvet (≥ 4 KP) is, asook by ooie met meer as een embrio.

Riglyne vir beperking van voorgeboortelike verliese

  • Goeie bestuur- en voedingsprak­tyke kan nie oorbeklemtoon word nie. Embrionale vrektes neem af soos die kondisie van die ooie tydens paring verbeter. Die laagste embrionale vrektes kom voor waar ooie in ՚n goeie kondisie met die aanvang van die paarseisoen is en wat voor paring goed gevoer is, met ander woorde prikkelvoeding ontvang het.
  • Spuit ooie vier weke voor paring met Multimin (G 1853) asook Vitamien A & E (Aquaject-A-Forte: G1069).
  • Volg ՚n doeltreffende siektevoor-komende – (immuniserings) program asook ՚n interne- en eksterne parasietbeheerprogram. Ooie moet vier weke voor die paarseisoen met ՚n ensoötiese aborsie-entstof gespuit word.
  • Hou ooie rustig en staak alle aktiwiteite gedurende die paarseisoen en die eerste paar weke (± 4 tot 6 weke) nadat die ramme uitgehaal is om embrionale en fetale vrektes te beperk.
  • Gebruik koggelramme, want dit sal verseker dat meer as 90% van die ooie in die eerste siklus beset raak en gevolglik behoort die aanhegting van die embrio al voltooi te wees wanneer met die hante-ring (byvoorbeeld dosering, enting, aftasting, ensovoorts) van die ooie, ՚n maand nadat die ramme uitgehaal is, begin word.
  • Ooie mag nie tydens paring en die eerste maand na die ramme uitgehaal is, uitgehonger (byvoorbeeld oornag gekraal) word nie.
  • Voorsien skaduwee (in die vorm van bome of skadunet) as die dagtemperatuur meer as 28 °C, maar definitief as dit meer as 32 °C is.
  • Ooie moet altyd vrylik toegang tot skoon drinkwater van goeie gehalte hê, wat so na as moontlik aan die skaduwee moet wees. Baie brak- en soutwater verhoog die hittespanning wat die risiko vir embrionale en fetale verliese verhoog.

•Tas ooie ongeveer 42 dae nadat die ram uitgehaal is af en skei ooie in minstens drie groepe (ooie met enkelingfetusse; ooie met tweelingfetusse; ooie met drieling-fetusse) en pas differensiële voeding (dit is voeding volgens behoefte) toe. Jongooie moet apart van volwasse ooie bestuur word. Alle droë ooie moet onmiddellik na aftasting bemark word.

Embrionale en fetale verliese wissel aansienlik binne en tussen kuddes, asook van jaar tot jaar. Die probleem is egter dat hierdie verliese ongesiens verby kan gaan sonder dat die boer daarvan bewus is en daarom moet dit elke paarseisoen gemoniteer word.

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0