Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 29th November 2022

Wildboer van die jaar 2022: Geslagte lank gewortel in die natuur

By 8 min read
1525 words

meer

Baie van die 8 000 ha grens aan die Pongolarivier of -meer.

Deur Tisha Steyn

Karel Landman van Pongola Game Reserve (PGR) in KwaZulu-Natal is aangewys as Wildlife Ranching South Africa (WRSA) se Wildboer van die Jaar. Karel het die toekenning op ՚n glansgeleentheid in Pretoria namens sy gesin ontvang, soos hy dit gestel het.

“Ek verteenwoordig ons familie wat elkeen insette lewer in die onderneming en ons is baie bevoorreg om ons twee seuns as ՚n kritiese deel van die boerdery-afdeling in die familiesaak te hê,” het hy by die geleentheid gesê.

Karel is die agtste geslag van die Landmans wat in 1744 uit Amsterdam in Nederland aan die Kaap aangekom het, en die tweede in die gebied waar hy vandag boer. Hy is getroud met Rika en hulle het drie kinders en ses kleinkinders. Hulle twee seuns, Kemp en Wim, is betrokke by die Trust-onderneming. Hulle dogter Anel en haar man Morné Henderson woon in Australië. Die grond is in die Karel Landman Trust (KLT).

Die familie is almal direkteure van Game Co Pty Ltd, wat die grond en infrastruktuur by die Trust huur. Die direkteure is ook werknemers van die maatskappy en vergader een maal per maand met die bestuurders.

Nkwazi River Lodge bied verblyf vir 170 gaste.

Pongola wildreservaat (PGR)

Die huidige PGR op die oewers van die Pongolarivier, is geleë op ՚n deel van die gebied wat in 1894 deur president Paul Kruger as die eerste wildreservaat in die land geproklameer is. Die oorspronklike PGR is in 1921 gedeproklameer en vir landbou beskikbaar gestel.

Van die grond het in die besit van die staat gebly en is verhuur as weiding, terwyl sommige plase aan boere verkoop is wat suikerriet en katoen aangeplant het. Die grond noord van die Pongolarivier wat vandag aan die Karel Landman Trust behoort, was voorheen die plaas Stanmore wat in 1963 vir 441 pond aan John Robert Murray verkoop is. Die Trust het die grond in 1973 vir R109 400 aangekoop.

՚n Nuwe geslag

Wildlewe vorm die kern van die
Landmans, wat aangewys is as Wildboer van die Jaar, se onderneming,
hetsy vir toerisme of jagters.

Karel, en sy vrou Rika het elk ՚n BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal, waar Karel onder prof Jan Bonsma Veeteelt studeer het. In sy finale jaar het hy ՚n studie oor wildboerdery ingedien. Toe was dit nog onontginde veld, maar dit is waarskynlik waar die saadjie gesaai is vir die skep van die huidige PGR. In 1973 het Karel se pa, Kemp Landman, die 900-ha beesplaas Stanmore gekoop en dit op Karel se naam oorgedra. Gedurende die eerste jare het Rika skoolgehou om die pot aan die kook te hou. Aanvanklik was hulle nie van plan om met wild te boer nie en die veeboerdery is uitgebrei om ՚n Bonsmarastoet in te sluit. Hulle het die wild op die plaas beskerm en die getalle het toegeneem sodat hulle uiteindelik jagters toegelaat het om teen betaling wild te jag om getalle te beheer.

Eenvoudige geriewe is geskep. Nog grond, insluitend van die plase wat vandag deel van Pongola Natuurreservaat vorm, is bygehuur vir weiding en die verbouing van katoen en tamaties om die inkomste aan te vul en verder uit te brei. Oor ՚n tydperk van dertig jaar is tien aangrensende plase gekoop soos wat dit in die mark gekom het. Dit het besproeiingsplase langs die rivier en Pongolameer ingesluit. Die jag van wild het toegeneem en hulle het besef dat hulle ՚n bestaan daaruit kan maak. Dit het gelei tot die besluit om op bewaring te fokus.

Bote op die Pongolarivier en -meer bied besoekers ‘n geleentheid om
naby aan die wild te kom.

Bewaring

Met verloop van jare is kommersiële landbou stadigaan uitfaseer en wildspesies wat oorspronklik in die gebied voorgekom het, is teruggebring. Meer as 300 ha besproeiingsgrond en talle droëland-katoenlanderye is toegelaat om stadigaan te rehabiliteer. Die maatskappy het mettertyd deur middel van verskillende bewaringsaksies meer as 100 volhoubare werksgeleenthede geskep. In 1984 is die eerste witrenosters ingebring. Sedert 1990 is hulle aktief betrokke daarby om kommersiële boere te oorreed om oor te skakel na bewaringsboerdery en om die grond aangrensend aan die Pongolapoortdam as ՚n ekologiese geheel sonder heinings te bestuur.

Karel sê: “Ons grense met die bure is oop en wild kan vrylik rondbeweeg. Grootwildspesies soos olifante en swartrenosters is mettertyd ingebring. Ons werk ekologies saam met ons bure, maar bestuur ons eie sakeonderneming in ՚n gebied van 8 000 ha binne die groter ekologiese gebied. “Ons is ook aktief betrokke by die skep van ՚n oorgrenspark wat tot in Swaziland strek, asook talle ander bewaringsinisiatiewe.

Ons het ՚n uitstekende verhouding met die swart gemeenskappe rondom ons en bied opvoedkundige toere in ons reservaat aan vir talle skole. Sedert ՚n klein begin en na veertig jaar in die bedryf glo ons steeds in dieselfde beginsels van ՚n klein voetspoor wat vir ons gaste waarde vir geld bied. “Dit is ՚n mooi gebied en ons is bevoorreg om deel te wees van die ekologiese herstel van die geskiedkundige gebied wat die eerste geproklameerde wildtuin in die land is. Dit is baie vervullend om te sien hoe gebiede wat eens verbou was, terugkeer na wildernis. Dit is ՚n voorreg om oor die langtermyn deel te wees van die bewaring van Afrika.”

Die verblyfplekke is goed ingerig met selfsorggeriewe.

Hulle het jare gelede ՚n toerismekonsultant se dienste gebruik. Oor die langtermyn het hulle redelik by sy beplanning gehou, maar self ook hulle eie plan daaruit gebou.

“Die wildbedryf leen hom daartoe om verskeie inkomstestrome te vestig en ek wou al die moontlikhede ontgin en bewys dat daar winsgewend met wild geboer kan word sonder aanvullende inkomste vanuit ander bedrywe. “Ons het ons doelwitte grootliks bereik en konsentreer deesdae op verfyning van die onderneming, soos opgraderings van infrastruktuur: ons is besig met ՚n groot projek om oor te skakel na sonenergie en het reeds elf pompstasies wat met sonkrag gedryf word,” vertel Karel. Hy het nie juis ՚n rolmodel nie.

“Ek sou graag een wou gehad het, maar daardie jare was daar nie baie wildplase nie en dus ook nie regtig mense wie jy kon raadpleeg nie. Na ons oorgeskakel het, het baie mense by my kom raad vra, maar ek het nie altyd ՚n antwoord vir alles gehad nie.” Nietemin het hy vroeg al tekortkominge in die bedryf identifiseer en hulle het werkswinkels in vleisverwerking gehou en jaggidse opgelei. “Ek het probeer om self ՚n rolmodel te wees.”

Karel is nie meer voltyds betrokke by die dag-tot-dag bestuur van die onderneming nie. Hulle het ՚n hoofbestuurder en bestuurders vir al die afdelings. “Ek kom agter dat ek baie meer regkry omdat ek rustiger is. Die geldelike druk van grond bykoop is nie meer daar nie en ek het meer tyd vir myself. Ek kyk nou van buite af in en het tyd om te dink en te beplan. Ek kry meer reg deur minder te doen.”

Renosters en olifante is mettertyd ingebring.

Karel is bekommerd oor die rigting wat die regering met die wildbedryf inslaan. “Die sukses in die beginjare van die bedryf was te danke daaraan dat ons ՚n klimaat gehad het wat ons toegelaat het om te ontwikkel en daar was min beperkings op die benutting en verhandeling van wild. Tans word al hoe meer beperkings op die handel van sekere spesies geplaas. In sekere gevalle maak dit nie ekonomiese sin om van die spesies aan te hou nie. Indien die neiging nie omgedraai word nie, kan dit wildboere dwing om die bedryf te verlaat.”

Hy meen die grootste waarde van die wildbedryf is die persoonlike bevrediging om te sien hoe die lewensgehalte van hulle personeel verbeter het. “Hulle het vroeg al besef in hierdie bedryf is hulle nie net arbeiders nie maar kan ՚n loopbaan daarvan maak.” Die onderneming bied verskeie moontlikhede in die waardeketting. Al agt verblyfplekke, buiten Nkwazi River Lodge met 170 beddens, bied selfsorgverblyf. “Plaaslike jagters bied ՚n anker-inkomste en lewer ՚n groot bydrae om ons aan die gang te hou.”

Hulle het uit die staanspoor die wildsvleis vir die jagters verwerk, maar mettertyd die slaghuis uitgebrei. Daar is twee geregistreerde abattoirs en twee padstalle waar baie van die vleis verkoop word. Van die vleis word in hulle eie kombuise gebruik om ook wegneemetes te berei, terwyl die res aan hotelle, restourante en ander verblyfplekke verkoop word.

WRSA

“WRSA bied belangrike ondersteuning vir hulle lede. Dit steek my dwars in die krop dat mense allerhande redes aanvoer waarom hulle nie lid van WRSA wil wees nie: vir ՚n klein bedrag trek jy so baie voordeel, want dit is mense wat bereid is om jou belange tot op regeringsvlak te verteenwoordig. Ek is baie tevrede met hulle goeie leierskap en die geweldige bydrae wat hulle tot die bedryf lewer.”

Hy was self baie jare betrokke by die wildboervereniging in Natal, waarvan Die Landmangesin met die toe- sy seun, Wim, tans voorsitter is.

Die ou landerye het mettertyd weer veld geword waar
volop wild voorkom.

Kontak Karel Landman by karel@ pongolagamereserve.co.za of lees meer op die webtuiste https:// www.pongolagamereserve.co.za/history

Verwysings Helberg, E. Wildlife Rancher of the year: Pongola farmer triumphs. https://agriorbit.com/wildliferancher-of-the-year-pongolafarmer-triumphs/ Pretorius, F. (Red.) Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. https://www.myvolk.co.za/swart-politieke-ontwaking-1875—1949.php   

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0