Wetsontwerp op landbougrondbesit nie weldeurdag

Agri SA logo Kleur NUWE
Sedert 2011 is die konsep van grondplafonne die onderwerp van hewige debat. ‘n Aantal studies is gedoen oor die lewensvatbaarheid van so ‘n maatreël en verskeie artikels in hierdie verband het reeds die lig gesien. Sommige adviseurs wat aangestel is deur minister Nkwinti se eie departement het teen só ‘n stap gewaarsku. Die minister het nietemin besluit om die konsep-wetsontwerp op 17 Maart te publiseer, met slegs 30 dae vir openbare kommentaar. Agri SA sal versoek dat die sperdatum uitgestel word.
Volgens Ernest Pringle, die voorsitter van Agri SA se landbou-ontwikkelingskomitee, het internasionale ervaring bewys dat plafonne vele negatiewe gevolge het, insluitend die volgende:
- Die fragmentasie van landbougrond;
- ‘n Nadelige impak op produktiwiteit;
- Dit het bygedra daartoe dat die landbou ‘n lae-winsbedryf in verskeie dele van die wêreld geword het;
- ‘n Neutrale of negatiewe impak op armoede;
- Onbevredigende vlakke van ekwiteit en doeltreffendheid;
- Dit het tot ‘n groot mate nie daarin geslaag om landboustrukture te verander nie – groot ongelykhede duur steeds voort;
- ‘n Negatiewe impak op funksionele grondverhuringsmarkte;
- Duur en moeilik om te administreer;
- Gekenmerk deur omseiling, geskille, korrupsie en litigasie;
- Dit het gelei tot verblyfsonsekerheid; en
- Dit het grondverwante belegging ontmoedig.
Ernest is van mening dat die voorgestelde stelsel duur sal wees en dat die enorme adminstrasiekoste swaarder weeg as enige potensiële voordele wat die regering voorsien. Verder sal die voorgestelde skema beplanning bemoeilik indien klein stukkies landbougrond afgesny sou word van plase dwarsoor in die land. Dit sal waarskynlik boere sowel as begunstigdes laat met onekonomiese eenhede. Voorsiening van dienste aan verafgeleë begunstigdes sal ‘n groot uitdaging wees. Hierdie beleid sal aanleiding gee tot gefragmenteerde stukkies grond versprei oor die verste hoeke van ‘n distrik. Klein gedeeltes kan moontlik ‘afgesny’ word van groter grondeenhede met min indien enige toegang tot natuurlike hulpbronne of dienste.
Agri SA is van mening dat die wetsontwerp ook konstitusionele uitdagings inhou en is tans besig om senior regsadvies hieroor in te win. Agri SA het alternatiewe benaderings voorgestel om vinniger en meer volhoubare herverspreiding van grondbesit te bewerkstellig.
Bron: Agri SA