Wes-Kaap se droogte nog lank nie verby nie, maar dit het darem gesneeu

cape town dams
Damvlakke in die res van die land lyk beter as verlede jaar hierdie tyd, maar in die Wes-Kaap bly die vlakke gevaarlik laag.
In die mees onlangse inligting oor die stand van Suid-Afrika se damme het die watervlak op 69,9% gestaan op 24 Julie 2017. Dit is baie beter as verlede jaar se 51,8% omtrent dieselfde tyd. Die enigste uitsondering is die Wes-Kaap waar damvlakke onder 50% vol is met die gebrek aan reën wat die aanplant van die wintergewasse vertraag.
“Die Wes-Kaap gaan steeds gebuk onder die droogte en die provinsie gaan voort met sy waterbeperkings. Die winterreën wat al geval het, het ‘n klein bietjie gehelp maar het nie die impak gemaak waarvoor mense gehoop het nie, want die watervlakke is steeds krities laag. Die dele in die Wes-Kaap wat nie ‘n winterreënvalstreek is nie, lyk nog erger. Daar is ‘n een persent verhoging in die damvlakke vanaf die vorige week,” sê Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB.
Waterbeskikbaarheid in winterreënvalgebiede is op 26,2% teenoor verlede jaar se 50,4%. Damvlakke in nie-winterreënvalgebiede is op ‘n kritieke laagtepunt van 19,6% teenoor verlede jaar se 45,6%.
“Die watervlak in die Wes-Kaap se grootste dam, die Theewaterskloofdam, het ‘n klein styging week-op-week gehad en is nou 20,9% vol teenoor verlede jaar se 42,6%,” sê Paul.
“Ons verwag dat die Wes-Kaap se landbouproduksie sal verlaag weens die gebrek aan reënval. Dit kan ook lei tot minder indiensneming in die landboubedryf. Die onlangse sneeu oor die Wes-Kaap se berge sal goed wees vir die damvlakke sodra die weer warmer raak,” voeg hy by.
Bron: Bizcommunity