Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 21st February 2023

Wees Wes-Kaap se wynbedryf genadig, pleit minister

By 3 min read
597 words

kym-ellis-aF1NPSnDQLw-unsplash

Meer as die helfte van landbou-uitvoere kom uit die Wes-Kaap. Asof die droogte van etlike jare wat op plekke steeds voortduur nie genoeg was om boere se moed te breek nie, maak beurtkrag dit feitlik onmoontlik om suksesvol te boer.

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaap se minister van Landbou, pleit by Thoko Didiza, die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, om namens die provinsie by Enoch Go­dongwana, die minister van Finansies, in te tree om die wynbedryf in die provinsie genadig te wees.

Feitlik al die boere in die provinsie leun swaar op Eskom-krag om produk­sie aan die gang te hou, en wynboere, wat tans besig is om tafel- en wyn­druiwe te pluk, kan ernstige verliese ervaar weens beurtkrag.

Hy meen as wynboere nog meer belasting moet betaal, kan dit die einde vir sommige wynboere beteken. Dr Meyer sê in ՚n mediaverklaring dat die provinsie se ekonomie en uitvoere in 2021 sowat R51,8-miljard beloop het, wat ՚n aanduiding gee van die waarde van landbou vir die provinsie en die staat se koffers.

 Wyn is die derde belangrikste uitvoer­produk van die Wes-Kaap, waarvan uitvoere sowat 6,5% beloop. Volgens die departement is tans 45 610 mense betrokke by die primêre produksie en altesaam 228 053 mense is afhanklik daarvan vir hulle voortbestaan.

“Ek wil probeer vermy dat aksynsbe­lasting op wynverkope en -uitvoere die wynbedryf kelder,” se dr Meyer.

Twee-derdes van die provinsie se landbouprodukte word uitgevoer en selfs tydens die 2017/18-droogte en die daaropvolgende Covid-19-pandemie, het landbou steeds gegroei en uitvoere toegeneem.

“Dit is mos ՚n bewys daarvan dat die landbousektor weet wat hy doen en dat dit internasionaal mededingend is.”

“Die ikoniese aard van die wynbedryf berus op die noue band met die toerismebedryf en het des te meer ՚n spesiale benadering nodig, meen hy. Daarom het die wynbedryf spesiale aandag nodig.”

Die gemiddelde wynplaas het drie hoofstrome van inkomste, naamlik verkope van wyn, restaurante of proe­lokale en verwante toerismebedrywighede wat veral oorsese be­soekers na wynplase lok.

Al drie inkomstestrome is deur Covid-19 benadeel, want al kon boerderybedrywighede voortgaan, het ՚n verbod op die uitvoer van wyn nie net die wynboer se sak benadeel nie, maar die nis op internasionale markte is gulsig deur mededingers van elders opgeraap.

Wes-Kaap se minister van landbou, dr Ivan Meyer, proe hoe lekker smaak Thokozani Wyne se druiwe. Wyndruiwe word tans geoes en beurtkrag lol. (Foto: verskaf).

Die wynbedryf is nog besig om van een van die ergste droogtes in die geskiedenis te herstel: tydens 2017/8 moes wingerdboere in sommige streke soos die Olifantsriviervallei tevrede wees met slegs 16% van hulle normale besproeiingskwota. En toe oorstroom die Olifants sy walle en bedreig ՚n oorv­loed water die wyn- en rosyntjieboere opnuut.

Faktore soos die droogte, hoë insetkoste en stygende minimum­loonvereistes, het die wynbedryf se winsgewendheid die afgelope paar jaar dramaties laat afneem. Volgens amptelike statistiek was die netto plaasinkomste van 80% van die boere minder as R30 000 per hektaar in 2018 – en dit is die minimumperk vir volhou­baarheid in die bedryf.

Beurtkrag lê soos ՚n donker wolk oor die bedryf wat nou tydens die oessei­soen van wyndruiwe desperaat afhank­lik is van elektrisiteit om die prosesse aan die gang te hou. Dit bedreig die wynbedryf op plaaslike en internasionale vlak.

Buitensporige toename in uitvoerbelasting kan die spyker in die doodskis van talle wynplase wees, wat nie net die mededingendheid nie, maar ook die werkverskaffingsgeleenthede van dié arbeidsintensiewe bedryf die finale nekslag toedien.

“In die lig van al hierdie faktore sal ՚n genadige benadering tot uitvoerbelasting die provinsie se ekonomie en werksgeleenthede tot almal se voordeel strek,” sê hy.

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0